Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
KMO’s: Hoe kan ons jou help?

Kleinsakeondernemings is die enjin van Suid-Afrika se ekonomie en daadwerklike optrede is nodig om die sektor by te staan te midde van die Covid-19-pandemie. Liesl Peyper en Riana de Lange het gaan kyk na watter hulp en ondersteuning beskikbaar is.

Winkels soos dié het in die huidige tyd finansiële hulp nodig.

Reeds voor die uitbreking van die korona-virus het Suid-Afrikaanse kleinsakeondernemings hulle in onstuimige waters bevind. Talle studies wat die afgelope dekade gedoen is, toon dat baie KMO’s sink – 40% beland op die rotse binne die eerste jaar van hul bestaan, terwyl 90% binne die eerste tien jaar hul deure moet sluit.

Ten spyte van die hoë koers van mislukking, word geraam dat meer as twee derdes van die bevolking by KMO’s werk, volgens Mike Anderson, stigter en uitvoerende hoof van die nasionale kamer vir kleinsakeondernemings (NSBC).

Só help banke

Sedert einde Maart het handelsbanke sowat R35 miljard se skuldverligting gegee deur onder meer betalingsvakansies te verleen aan individue en sakekliënte wat finansieel sukkel weens Covid-19.

Die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) se lede, wat al die groot handelsbanke in die land insluit, het altesaam 131 600 aansoeke ontvang, waarvan 124 400 van aansoekers reeds hulp van banke ontvang het.

FNB het onlangs ’n verlenging aangekondig vir langer betaalvakansies aan gekose kliënte wat kwalifiseer vir die bestaande kontantvloei-verligtingsprogram.

Teen 15 Junie het die bank betalingsvakansies aangebied aan 300 000 individuele kliënte ter waarde van sowat R5 miljard deur afsonderlike kredietooreenkomste. Kliënte in sekere bedrywe wat kan wys dat Covid-19 ’n wesenlike invloed op hul inkomste gehad het, kan ’n betalingsvakansie van ses maande kry.

Bongiwe Gangeni, adjunkhoof van kleinhandel- en besigheidsbankdienste by die Absa-groep, sê sedert einde Maart het meer as 682 000 Absa-rekeninghouers voordeel getrek uit betalingsvakansies. Dit kom neer op kontantvloeiverligting in Absa se kleinhandel- en besigheidsbankdiensafdelings van meer as R8,6 miljard in die drie maande.

Hoewel die programme voorlopige verligting bied vir drie maande, word die uitwerking van Covid-19 op kliënte deurentyd hersien. Veranderlikes, soos die inperkingsreëls op vlak 3 en 2, die impak op die ekonomie en die unieke finansiële posisie van elke kliënt, sal die pad vorentoe bepaal, sê Gangeni.

Volgens Anton de Wet, kliëntehoof by Nedbank se kleinhandel-en-besigheidsbankdienste, het die bank sedert Maart meer as 228 000 kliënte met skuldverligting gehelp. Dit sluit in lenings aan KMO’s.

Die aanvanklike betalingsvakansies was vir ’n spesifieke tydperk en kom binnekort tot ’n einde. Van Nedbank se kliënte het reeds om ’n verdere verlenging aansoek gedoen.

Omdat baie kliënte eers ná April betalingsvakansies geneem het, verwag Nedbank die ware syfer van verbruikers wat langer verligting moet kry, sal einde vandeesmaand duidelik word, sê De Wet.

Standard Bank het op sy beurt deur middel van sy afdeling vir persoonlike en besigheidsbanksake teen einde Mei R92 miljard se hulpverlening aan individue en KMO’s gebied oor ’n spektrum van 285 000 bankrekeninge.

Capitec het aangekondig dat sy kliënte aan wie betalingsvakansies toegestaan is, kwytgeskeld sal word van die rente wat opgehoop het in die drie maande waartydens hulle betalingsvakansies gehad het.

Gewaarborgde hulpskema

Op 12 Mei het die regering se R200 miljard-hulpskema in werking getree – ’n spesiale leningsgerief wat banke aan KMO’s toestaan en wat deur die Reserwebank en die nasionale tesourie gewaarborg word.

KMO’s wat daarvoor aansoek doen, moet egter aan ’n paar vereistes voldoen, naamlik:

  • ’n Omset van minder as R300 miljoen per jaar verdien;
  • Op datum wees met terugbetalings by hul onderskeie banke voor Covid-19;
  • Vir belasting geregistreer wees; en
  • Nadelig deur die inperking getref wees.

Die leningsooreenkoms tussen banke en KMO’s word voorafgegaan deur ’n kredietgoedkeuringsproses ingevolge waarvan banke sal moet seker maak die uitlener sal sy skuld en finansiële verpligtinge ná die pandemie en inperking kan nakom.

Die leningsbedrag word dan bereken op grond van ’n onderneming se behoefte aan die finansiering vir drie maande se bedryfsuitgawes.

Die lening moet oor ’n tydperk van vyf jaar terugbetaal word teen die prima uitleenkoers en KMO’s wat suksesvol was in hul aansoeke kry ’n betalingsvakansie vir die eerste ses maande van die uitleningstydperk.

Aansoeke afgewys

Basa se inligting toon dat Suid-Afrikaanse banke meer as ’n derde van die aansoeke vir die staat se gewaarborgde leningskema afgekeur het omdat dit nie aan die nodige vereistes voldoen nie.

Sedert die leningskema op 12 Mei in werking getree het, is aansoeke van 29 700 kleinsakeondernemings ontvang. Slegs 4 800 is toegestaan.

5 200 aansoeke is afgewys omdat dit nie voldoen aan die vereistes soos gestel deur die nasionale tesourie en die Reserwebank nie. Nog 5 400 is afgekeur omdat dit nie aan banke se eie risikovereistes voldoen nie.

Laer hekkies vir aansoeke

Basa het erken dat die hekkies wat voornemende aansoekers moet oorsteek om vir die regeringsgewaarborgde lenings te kwalifiseer, hoog is. Hy is besig om aansoekvereistes te hersien.

Een van die vereistes is dat die lenings wat toegestaan word slegs vir uitgawes soos huur, salarisse, skuld en ander vaste koste aangewend mag word.

Baie aansoekers se voortbestaan word egter bedreig en hulle sou eerder die geld wil gebruik om hul sakemodelle te hersien, soos om byvoorbeeld oor te skakel na ’n e-handelplatform.

Basa sal ook hierdie vereiste deeglik onder die vergrootglas plaas.

Ander hulp

Benewens hulp van banke is die Sentrum vir Kleinsakeverligting tot stand gebring deur die NSBC, sê Anderson.

Die soort hulpverlening en ondersteuning wat die sentrum bied, sluit in hulp aan KMO’s wanneer hulle moet onderhandel vir lenings, moratoriums op die huur van voertuie en toerusting en advies met ontsmetting en die voldoening aan gesondheid- en veiligheidstandaarde wanneer ondernemings weer kan sake doen.

Anderson meen Suid-Afrikaners moet sover moontlik probeer om kleinsakeondernemings in die komende maande te ondersteun. “Ons het almal ’n belang in hul voortbestaan.”

Meer oor:  Kleinsakeondernemings  |  Kleinhandel  |  Banke  |  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.