Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
‘Koop ons blomme as jy kan’

Desperate blomkwekers hoop die verslapping van inperkingsmaatreëls asook Moedersdag kan hulle van ondergang red.

k
Die probleem met snyblomme is dat dit gemiddeld net sewe dae lank vars bly. Verder moet die blomme steeds elke dag afgeknip word om seker te maak die plante hou aan om blomme te produseer. Foto: Pixabay

Die land se plant-en-blomkwekersbedryf verskaf werk aan sowat 35 000 en genereer jaarliks ’n inkomste van sowat R4 miljard.

Die afgelope vier weke het die bedryf miljoene rande verloor. Tonne blomme en plante moes weggegooi word omdat dit nie verkoop kon word nie. Ingevolge fase 4 van die inperking, wat van 1 Mei geld, sal blomme en plante weer verkoop mag word. Dis nog net nie seker waar oral nie.

Louise Scholtz van die rooskweker Uniflo sê sy is verlig oor die toegewing en hoop dit sal hul onderneming red.

“Ons het die afgelope vier weke ’n potensiële inkomste van sowat R45 miljoen verloor. Ons het ses plase landwyd en verskaf rose aan Woolworths.

“Dis ’n totaal van 45 hektaar se rose. Per week produseer ons ongeveer 3,3 miljoen stele en per maand sowat 15 miljoen. Elke steel is gemiddeld R3 werd.

“Blomme is ’n unieke produk omdat dit wel in die landboukategorie val, maar nie beskou word as ’n noodsaaklike produk nie, en dus nie tydens die inperking versprei en verkoop kon word nie.”

Die probleem met snyblomme is dat dit gemiddeld net sewe dae lank vars bly. Verder moet die blomme steeds elke dag afgeknip word om seker te maak die plante hou aan om blomme te produseer.

Daarom sny werkers van blomkwekers die laaste weke elke dag duisende blomme af wat net weggegooi word. “Voor die inperkingstyd het ons dit uitgedeel en by plekke soos ouetehuise gaan aflaai, maar regulasies verbied ons nou om dit te vervoer,” sê Scholtz.

Moedersdag is jaarliks die belangrikste dag vir alle blom- en plantkwekers omdat ons dan gemiddeld vyf keer soveel as normaal verkoop.

Ivo van Geest, kommersiële bestuurder van Plantimex, die grootste verskaffer van potplante in Suid-Afrika, sê hy het baie beter geslaap ná die president se aankondiging Donderdagaand.

“Maar die werklikheid is dat ons steeds in ’n erge penarie is. Moedersdag is jaarliks die belangrikste dag vir alle blom- en plantkwekers omdat ons dan gemiddeld vyf keer soveel as normaal verkoop.”

As hulle nou aan die werk spring, kan hulle van 1 tot 10 Mei (Moedersdag) sorg dat daar genoeg voorraad in winkels is.

“Engeland het reeds Moedersdag gevier en daar was wel ’n afname in verkope. Hier hoop ons dat Suid-Afrikaners ná die lang inperkingstyd daarna gaan uitsien om weer blomme en iets groens vir hul huis en ma te koop. En met die streng beperkings wat steeds geld, is dit een van die min produkte wat nou as geskenk gekoop kan word.”

Hoewel die potplante ’n langer rakleeftyd as snyblomme het, is dit ook beperk. Plantimex het die afgelope vier weke tussen R1 miljoen en R2 miljoen per week verloor.

“Potplante word ook gekweek om op sekere tye te piek en te blom en daarna kan jy dit nie meer verkoop nie. As ons nie nou vinnig ’n inkomste gaan genereer nie, is ons onderdeur.”

André de Wit van die nasionale blommemark Multiflora sê dit gaan tragies wees as die verkoop van blomme en plante net in supermarkte toegelaat word.

“Suid-Afrika is uniek omdat ons sowat 90% van alle blomme en plante wat in ons land verkoop word plaaslik groei. In Europa word minstens 50% van die blomme wat verkoop word, ingevoer.”

Meer oor:  Blomme  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Entrepreneurs  |  Inperking  |  Covid-19  |  Kleinsake  |  Moedersdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.