Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Korrels ’n doepa vir vuil water

Enrico Anelli se EnviroBeads – jellie-agtige korrels wat uit duisende mikro-organismes bestaan – is ’n kitsantwoord vir die vuil rivierwater en gebrekkige sanitasie waarmee talle Suid-Afrikaners in veral landelike gebiede daagliks sukkel.

Enrico Anelli met die jellie-korrels wat hy ontwerp het vir watersuiwering. Foto: Liesl Peyper

Dié ingenieur en entrepreneur is ’n kenner op die gebied van watersuiwering en het sy produk die afgelope week by die Africa Utility Week-konferensie in Kaapstad bekend gestel.

“Die korrels kan water absorbeer en bevat lewende, goeie bakteriese kulture. Dit word tot 100 keer groter wanneer dit in bakteriese vloeistof gedompel word en stel mikro-organismes geleidelik oor ’n tydperk van 48 uur vry, wat vuil water by rioolaanlegte, in riviere en septiese tenks suiwer,” verduidelik hy.

’n Paar munisipaliteite en private kliënte maak reeds van Anelli se jellie-korrels gebruik, maar grootskaalse ondersteuning van die regering is daar nie, sê hy.

“Ons pogings om byvoorbeeld die Emfuleni-munisipaliteit (Vanderbijlpark en omstreke) sover te kry om ons produk te gebruik, het op dowe ore geval, terwyl die Vaalrivier daagliks sieker en sieker word.”

Intussen het die regering het op die konferensie kwaai deurgeloop oor sy traagheid om markvriendelike wetgewing deur te voer ter ondersteuning van entrepreneurs wat oplossings het vir waterverwante probleme.

Terselfdertyd neem besteding aan navorsing vir watersekerheid af, het navorsers gewaarsku. In die afgelope vyf jaar het besteding aan dié navorsing met 45% afgeneem.

Dít te midde van ’n knellende droogte oor groot gedeeltes van die land, en Suid-Afrika se waterinfrastruktuur wat uitmekaar val.

Wat ontbreek is die politieke wil en behoorlike investering in nuwe tegnologie en die opknapping van bestaande stelsels, het deelnemers aan die program benadruk.

Daar is talle innoveerders met uitstekende oplossings vir die land se waterprobleme, maar daar is eenvoudig nie genoeg regeringsondersteuning om die nuwe uitvindings in werking te stel nie, het Jay Bhagwan, uitvoerende hoof van watergebruik en afvalbestuur by die Waternavorsingskommissie, gesê.

Die besoedelde Vaalrivier Foto: www.fse.org.za

“Daar behoort samewerking tussen munisipaliteite, universiteite en ander navorsingsinstellings te wees, maar dit gebeur nie.”

Bhagwan sê finansiering is hopeloos onvoldoende, wat beteken nuwe uitvindings word in baie gevalle nie gekommersialiseer nie. Hy stel voor dat munisipaliteite proaktief innoveerders en hul uitvindsels aan boord bring. “Ideaal gesproke moet minstens een nuwe uitvindsel per jaar in werking gestel word.”

Dr. Hlamulo Makelane, ’n navorsingsgenoot aan die Nelson Mandela-Universiteit in Port Elizabeth, het gesê die regering se beleid oor watersekerheid moet geskoei wees op nuwe navorsing en ontwikkeling.

“Ons kan eenvoudig nie bekostig om te doen wat ons maar altyd gedoen het nie.”

Die departement van water en sanitasie het in die 2017-’18-boekjaar ’n gekwalifiseerde ouditverslag gekry – weens ’n oortrekking van R119 miljoen, onreëlmatige besteding van R933 miljoen en skuld van R2 miljard.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.