Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Kry finansiering by die IDC in 5 stappe

Die Industrial Development Corporation, IDC wil ekonomiese groei bevorder en werk skep.

Daarom staan hul deur oop vir alle entrepreneurs vir finansiering om nuwe ondernemings te begin of om sakebelange uit te brei.

Elke entrepreneur wat by die IDC om hulp aanklop, moet kan bewys dat sy of haar sakeplan kwalifiseer vir finansiering én dat die lening terugbetaal sal kan word.

Entrepreneurs sal met hul eerste besoek aan die IDC by die Voorbeleggingsentrum (PIBC), onder bestuur van ­Naomi Mtshali, beland.

Die PIBC is in 2011 gestig om aansoeke te keur by die IDC se hoofkantoor in Sandton. ’n Voornemende entrepreneur kan enige tyd hier instap en ’n ­sakeplan indien of met ’n konsultant vergader.

Die PIBC keur ook aansoeke wat aanlyn, of by streekkantore ingedien word.

Naomi Mtshali, hoof van die Nywerheidheidsontwikkelingskorporasie (IDC) se Voorbeleggingsentrum (PIBC), sê entrepeneurs wat gefokusde en realistiese sakeplanne indien, het die beste kans om finansiering te kry. Foto: Elizabeth Sejake

Sodra die IDC ’n sakeplan ontvang, word daar vasgestel of dit aan die IDC se vervaardigingsgefokusde mandaat voldoen. Indien nie, word dit dadelik afgekeur.

Die volgende stap is ’n basiese ­opweging van die sakeplan.

“Ons lees die sakeplan en stel vas wat ons nodig het om die moontlike sukses daarvan te oorweeg,” sê Mtshali. “Dis ’n lessenaaroorweging van die kliënt se onderneming, of ’n bedryf wat hy of sy wil betree.”

Mtshali gebruik die voorbeeld van ’n nuwe onderneming wat finansiering vra om ’n fabriek in te rig wat ratkaste vir motors vervaardig om die proses te verduidelik.

So ’n aansoek sal deeglik bekyk word met die basiese opwegingsproses.

As die kliënt byvoorbeeld vra vir R10 miljoen sal die IDC wil weet waarop dié bedrag gegrond is. Het hulle byvoorbeeld reeds ondernemings van potensiële kliënte wat die ratkaste by hulle sou wou koop?

“Ons vra wie is die mark wat die onderneming sal bedien? Wie is die produkte beskore? Wat is die tegniese vereistes? Waar sal die fabriek wees? Is die perseel geskik hiervoor? Is daar genoeg elektrisiteit en werkers? Watter vaardighede is nodig? Het mense die tegniese kennis om die ratkaste volgens spesifikasies te vervaardig?”

Sou die voornemende kliënt aan al dié vereistes voldoen, word die finansiële en bemarkingsplanne volgende deurgetrap, sê Mtshali.

“Waarvoor gaan hulle die geld gebruik? Gaan hulle genoeg geld maak om die bedryfskoste te dra? Hoe lyk die planne om hul produkte te versprei en hoeveel gaan dit kos? Die koste van bemarking word ook bekyk.”

Die IDC sal ook vasstel of die aandeelhouers die nodige vaardighede en kwalifikasies het om die onderneming te bestuur. “Het hulle die tegniese vaardighede en indien nie, is daar ’n tegniese vennoot wat hiermee kan help? Iemand wat die bedryf ken en wat leiding kan gee vir die eerste twee tot drie jaar?”

Sodra die IDC se konsultante meen al dié vrae is na behore beantwoord, sal Mtshali die aansoek afteken en na die regte een van die IDC se 13 strategiese sake-eenhede stuur.

Dié sake-eenheid kan besluit om ’n verdere omsigtigheidstudie te doen deur byvoorbeeld die perseel te besoek en die boeke deeglik te bekyk.

Vir ’n sakeplan om die keuringsprosesse van die PIBC te slaag, moet dit gefokus wees, sê Mtshali. Dit moet die kernbesigheid uiteensit – wat en wie die onderneming wil bereik.

Die sakeplan moet ook realisties wees wat inkomste aanbetref. “Entrepreneurs verkeer onder ’n wanindruk dat finansiers net goeie nuus wil hoor.

“ ‘Realisties’ beteken jy sê jy het vyf voornemende kliënte wat jou produk wil koop, maar jy glo dat twee van hulle dit wel sal doen. Moenie vir al vyf kopers begroot in die eerste jaar van jou onderneming se bestaan nie.”

“Die sakeplan moet wentel rondom wat jy wil doen. Dit is wat ek wil maak, dit is my teikenmark, dit is waarom my kliënte juis by my sal kom koop. Wat laat jou uitstaan?”

Ons neem ernstige besluite oor of ons groot bedrae beskikbaar moet stel. Ons moet alle inligting versigtig opweeg.
Naomi Mtshali

Sy maan ook dat diegene wat die eerste keer om finansiering vra, eerlik moet wees oor die onderneming se verwagte winsgewendheid – veral aan die begin.

Die IDC verwag nie dat ’n nuwe onderneming binne die eerste jaar winsgewend gaan wees nie. Die IDC sal nie ’n aansoek afkeur van ’n onderneming wat groot potensiaal op die duur het nie.

“As finansiers weet ons dit is bykans onmoontlik vir ’n onderneming om die eerste jaar al ’n wins te toon. Dit gebeur soms eers ná vier jaar.

“Daar is entrepreneurs wat meen ons sal hulp weier as hulle wys hulle verwag om die eerste twee tot drie jaar ’n verlies te ly,” sê Mthsali.

“Ons sal daarvoor begroot. Ons wil net vasstel of ons steeds jou onderneming moet finansier as jy byvoorbeeld die eerste jaar nie ’n wins gaan maak nie.”

Waar ’n onderneming nie genoeg wins maak om die kapitaalbedrag dadelik terug te betaal nie, kan die paaiemente aan die IDC gestaak word vir tot ses maande.

Dit beteken die onderneming kan sy kontantreserwes opbou om sy skuld mee te begin afbetaal. Die IDC vra dan dat net die rente op die skuld in dié tyd wel betaal word.

Die ideaal is dat die PIBC die basiese opweging van die sakeplan binne ’n week afhandel. Dié proses word egter dikwels vertraag omdat hulle nog inligting van die aansoeker benodig.

Mtshali maan dat groot bedrae geld betrokke is, so dit het sin dat die IDC al die nodige inligting kry voordat hulle ’n finale besluit oor finansiering neem.

“Ons neem ernstige besluite oor of ons groot bedrae beskikbaar moet stel. Ons moet alle inligting versigtig opweeg.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.