Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Kunswinkel blom aanlyn
Kristina Willman in haar winkel, Art Attack, in Bellville. Dié winkel het ’n aanlyn bestellingsafdeling. Foto: Edrea du Toit

Kristina Willman (34) van Bellville in die Wes-Kaap wou graag haar kind tuis versorg, maar wou nie haar kunswinkel in Bellville prysgee nie.

Toe besluit sy om haar winkel, Art Attack, uit te brei sodat sy produkte aanlyn ook kan verkoop. Ses jaar later maak haar webtuiste dubbel soveel wins as die winkel.

Hier kan jy allerhande skryfbehoeftes en gereedskap kry wat nodig is vir die skep van kuns, grafiese ontwerp en handvlyt.

“Ek het die winkel twee jaar voor my seun gebore is, begin. Toe hy verjaar, het ek besef ek kan hom nie meer elke dag winkel toe bring nie,” sê Willman.

Sy het ’n bestuurder gekry om haar met die winkel te help, maar danksy die aanlyn inisiatief kon sy aanhou werk en haar onderneming uitbrei.

“Om ’n tuisbly-ma te wees, gaan teen my grein. Ek’s mal oor my kind, maar ek het ook ’n brein gekry.”

Willman het besef daar is nie baie winkels wat soortgelyke kunstoebehore verkoop nie en gedink sy kan haar produkte landwyd op die internet bemark.

Sy het aanvanklik mode-ontwerp aan die Haute Couture School of Fashion Design in Kaapstad studeer. Sy is drie jaar gelede geskei, maar die sukses van haar aanlyn winkel maak haar finansieel onafhanklik.

“Ek wou nie ’n belaglike hoeveelheid geld bestee om ’n aanlyn winkel aan die gang te kry nie en het soveel moontlik daaroor nagelees. Met die hulp van ’n vriend het ek ses maande later aanlyn begin sake bedryf. Dit het my R3 600 gekos.”

Om ’n tuisbly-ma te wees, gaan teen my grein. Ek’s mal oor my kind, maar ek het ook ’n brein gekry.

Sy sê e-handel was destyds nog nie so gewild nie. “Maar die afgelope jaar het dit die hoogte ingeskiet. Ek verkoop dubbel soveel produkte aanlyn as in die winkel en dit kos my niks om die webtuiste aan die gang te hou nie.”

Van haar groot kliënte is die Suid-Afrikaanse Brouerye en Standard Bank en sy kry soms selfs bestellings van oorsee. Kunsstudente het ook die keuse om pakkette met alles wat hulle vir hul studies benodig, aanlyn te bestel.

Willman meen dis die ideale oplossing vir ’n werkende ma. “Om my produkte aanlyn te verkoop, gee my die vryheid om te werk én na my kind om te sien. Ek kan hom by die skool gaan haal of sy sport gaan kyk en steeds bestellings en oproepe hanteer.”

Meer oor:  Entrepreneurs  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.