Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
KYK: So al werkend stuur seuns positiewe boodskap

Hulle wou jong mense in hul bendegeteisterde woongebied wys dat ’n mens altyd iets positiefs kan doen, al lyk dinge rondom jou sleg.

Dit is die hoofrede waarom Ethan Olivier (18) en sy broer, Justin (17), besluit het om ’n onderneming te begin om die vullisdromme in Scottsdene, Kraaifontein, skoon te maak.

Die broers en twee van hul vriende, Enrique Daniels (17) en Lincoln Arries (14), noem hulself die “Sanitizer Boys” en maak die inwoners van Disasingel se vullisdromme elke Vrydag skoon nadat die vullistrok die vullis verwyder het. En hulle doen dit gratis.

Ethan sê Justin het eintlik met die plan vorendag gekom, en hulle het op 2 Julie daarmee begin.

“As jong man is dit vir my sleg om groot te word in ’n gebied wat deur geweld geteister word,” sê Ethan. “Daar word amper elke dag geskiet en klippe gegooi, en dan moet ’n mens wye draaie loop om by die skool uit te kom.”

Ethan en Justin is albei in gr.11 aan die Hoërskool Scottsdene, en Daniels en Arries is onderskeidelik in gr. 11 aan die Hoërskool Kraaifontein en gr. 7 aan die Laerskool Brooklyn.

Ethan sê hulle maak elke Vrydag sowat 25 vullisdromme skoon. Die inwoners verskaf die skoonmaakmiddels en opvangwater en sommige gee hulle selfs ’n fooitjie.

“Ons vra nie geld nie, want baie mense in ons straat werk nie regtig nie,” sê Ethan. “Dit is ook meestal ouer mense wat hier bly en hulle kan nie altyd hul eie dromme skoonmaak nie.”

Ethan Olivier (regs) en sy broer Justin (middel) het begin om elke week vullisdromme in hul straat te was. Lincoln Arries (links) help ook. Foto: Jaco Marais

Justin sê dis harde werk, maar hy kan sien hoe hulle reeds ander jongmense positief beïnvloed.

“Ander kinders begin nou sommer mense se erwe skoonmaak en tuintjies regmaak,” sê hy. “Dis lekker om te sien hoe jy ander kan inspireer om ook positiewe dinge te wil doen.”

Philida Olivier (51), Justin en Ethan se ma, sê haar twee seuns kruip al van kleins af in mense se harte met hul hulpvaardigheid.

“Hulle het my nie eens vertel wat hulle doen nie. Hulle het dit net begin doen. Al wat ek as ouer kan doen, is om my kinders by te staan in wat hulle aanpak. Wat hulle besig is om te doen vir die mense in ons straat, is vir my ’n riem onder die hart.”

Philida sê sy is bly haar kinders hou hulself besig met positiewe dinge, want ledigheid is die duiwel se oorkussing.

“Die mense hier is baie beïndruk en trots op hulle,” sê sy. “Ek sê altyd vir hulle wat jy insit, sal jy uitkry.”

Ethan en Justin sê hulle sal aanhou met die wassery vir solank as wat hulle kan, maar albei het groter drome.

“Ek wil graag eendag ’n akteur word. Maar my ma sê ek moet ’n argitek word, want ek teken ook baie goed,” sê Ethan.

Justin droom weer daarvan om by die vloot aan te sluit.

“Maar vir nou doen ons wat ons kan om ’n positiewe verskil in ons omgewing te maak,” sê Justin.

Meer oor:  Kraaifontein  |  Entrepreneurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.