Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Liberty-stigter was ‘lewende legende’
Sir Donald GordonFoto: Forbes

Sir Donald Gordon (89), stigter van die Liberty-groep en bekende filantroop en entrepreneur, is Donderdag dood nadat hy lank siek was.

Gordon het Liberty in 1957 gestig en uitgebou tot ’n uitgebreide internasionale versekeringsmaatskappy en finansiëledienstegroep.

Hy het ook bekend geword as ’n vrygewige filantroop, met van sy skenkings wat gebruik is om die Universiteit van Pretoria se Gordon Institute of Business Science, oftewel die sakeskool nou al wyd bekend as Gibs, te stig.

Die South African Jewish Board of Deputies (SAJBD), het Gordon in ’n huldeblyk beskryf as ’n lewende legende wat as stigter van Liberty versiende, innoverend en dapper was.

Die SAJBD sê sy vrygewigheid as filantroop het tot die stigting van ’n reeks instellings en stigtings gelei wat talle mense wêreldwyd bevoordeel het.

Volgens die SAJBD was Gordon ’n toegewyde lid van die Joodse gemeenskap en hy het oor die dekades ruim bygedra tot die welstand van die lede en instellings van dié gemeenskap.

Die sakeleier Johann Rupert het gesê Gordon was een van Suid-Afrika se grootste seuns en hy het hom as ’n groot vriend beskryf.

Gordon se dogter, Wendy Appelbaum, wat uit eie reg ’n suksesvolle sakevrou geword het en in 2017 as Die Burger en Kaapstad Sakekamer se Sakeleier van die Jaar aangewys is, het vertel hoe sy as kind naweke saam met haar pa na sy kantoor gegaan het. Hy het elke dag van die week gewerk, en al verskil was dat hy nie op Sondae ’n das gedra het nie. Sy lewe was egter deel van die inspirasie vir haar om ook die sakewêreld te betree.

Die Gibs-sakeskool van Tukkies wat danksy Gordon se skenking opgerig is.
Wits se opleidingshospitaal is danksy ’n ruim donasie van Gordon begin.

Biografie

  • Gordon het aan die King Edward School in Johannesburg skoolgegaan en hom daarna as ’n geoktrooieerde rekenmeester gekwalifiseer.
  • Volgens die Liberty-groep het Gordon in 1957 op die ouderdom van 26 die onderneming begin nadat hy gesien het hoe sy pa sy lewe lank hard gewerk het sonder om finansieel daarby baat te vind toe hy afgetree het. Hy wou dus ’n onderneming begin wat mense die geleentheid bied om hul welvaart te laat groei en ’n trotse erfenis vir hul familie na te laat.
  • Hy het in Oktober 1958 sy eerste lewenspolis verkoop. Teen 1965 was Liberty die eerste Suid-Afrikaanse maatskappy wat effektetrusts begin verkoop het.
  • Hy is in 1968 deur die Sunday Times as sakeleier van die jaar vereer.
  • Gordon het in 1971 die Donald Gordon Foundation gestig om die groep se filantropiese bedrywighede te huisves.
  • Die maatskappy het in 1980 Liberty International geword.
  • Liberty Life noteer in 1982 op die Londense Aandelebeurs.
  • In 1999 het die Financial Mail hom as die presteerder van die eeu in Suid-Afrikaanse finansiële dienste vereer.
  • Benewens skenkings om Gibs te begin, het hy geld gegee aan die Royal Opera House in 2004, en is die Wits Donald Gordon mediese sentrum in 2002 met behulp van sy ruim donasie begin. Dit is ’n private hospitaal wat ook as opleidingshospitaal vir Wits se mediese studente dien.
  • Volgens die Amerikaanse saketydskrif Forbes het Gordon in 2005 op die ouderdom van 75 as voorsitter van Liberty afgetree. Hy het dubbele burgerskap van Suid-Afrika en Brittanje gehad en was teen 2006 nog op nommer 486 van Forbes se lys van die rykste mense op aarde. Teen 2008 het hy teruggesak na nommer 605, met ’n netto geraamde rykdom van $2 miljard.
Meer oor:  Liberty Group  |  Liberty  |  Donald Gordon  |  Entrepreneurs  |  Sterfte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.