Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Meer kleinsake sal nou vir lenings vra

Die regering se leningsgerief aan kleinsakeondernemings (KMO’s) behoort baie meer aftrek te kry noudat die ekonomie grootliks oopgestel is, sê Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank.

Hy was die gasspreker by ’n virtuele byeenkoms van die Kaapse Persklub die afgelope week.

Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank.

Die regering het onder kritiek deurgeloop oor die administrasie van die leningsgerief. Nog net 13% is uitbetaal van die R200 miljard se lenings wat die regering beskikbaar gestel het.

Kganyago sê egter KMO’s behoort juis nou meer voordeel te trek as toe alles weens die inperking stilgestaan het.“Gestel jy is ’n restaurant wat hiervoor kwalifiseer, maar jy kon nie oopmaak nie weens die inperking – watter nut sou jy vir die lening gehad het? Of ’n wildplaas wat tot onlangs toe nie kon sake doen nie?”

Die inperking is sedert Dinsdag grootliks opgehef en restaurante mag weer alkohol bedien en vakansieplekke kan besoekers van oor die land heen ontvang.

Die vereistes om vir ’n lening in aanmerking te kom, is in Augustus verslap, wat meebring dat die kapitaal wat maatskappye leen nou gebruik kan word om hul ondernemings weer aan die gang te kry. Voorheen was die doel daarvan net om hulle te help om bedryfskoste, soos huur of salarisse, te betaal.

Tito Mboweni, minister van finansies, het die afgelope week gesê die vraag na krediet onder sakelui is nie hoog nie omdat ondernemings sku is vir nuwe skuld en omdat baie van dié wat geld wou leen by banke reggekom het. Hy het gesê die nasionale tesourie sal voortdurend die aansoekkriteria vir die leningsgerief hersien om seker te maak die geld bereik dié wat dit goed kan gebruik.

Kganyago het benadruk dat daar ’n balans gehandhaaf moet word tussen die verslapping van die vereistes en die beskerming van belastingbetalers se geld. “As daar fout gaan met die skema, verloor die nasionale tesourie geld. Die skema is so ontwerp dat dit die geld van belastingbetalers bo alles moet beskerm.”

Met die afkondiging van die ramptoestand en die nasionale inperking, het die Reserwebank die regulatoriese vereistes waaronder banke lenings en betaalvakansies kon toestaan, verslap. “Ons kon dit juis doen omdat die banksektor in Suid-Afrika so goed gereguleer en goed gekapitaliseer is.”

Kganyago is gepols oor die soort veranderinge wat hy sou aanbring as hy sou kon. “Stel die Nasionale Ontwikkelingsplan in werking,” was sy antwoord. Suid-Afrika het meer as genoeg planne gehad sedert 1994 – van die HOP, Gear, Asgisa tot die NOP. Volgens hom is daar ’n plan vir elke “narratief”, maar Suid-Afrika kon nie een van sy vorige planne in werking stel nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.