Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Miljardêr het ál sy geld vir goeie sake gegee

Die meeste mense kan maar net daarvan droom om miljarde dollars bymekaar te maak, maar een is baie gelukkig noudat hy van syne ontslae geraak het.

Die Amerikaner Charles (Chuck) Feeney (89), medestigter van die lughawekleinhandelgroep Duty Free Shoppers, het nou al sy geld aan liefdadigheid geskenk.

Charles (Chuck) Feeney

Dié filantroop het met die idee van “Gee terwyl jy lewe” vorendag gekom. Dit beteken pleks van ’n stigting ter nagedagtenis aan jou wanneer jy sterf, gee jy jou geld vir groot liefdadigheidsorganisasies.

“Probeer dit, jy sal daarvan hou,” het Feeney aan die tydskrif Forbes gesê.

Hy het die afgelope vier dekades meer as $8 miljard aan liefdadigheidsorganisasies, universiteite en stigtings gegee deur sy stigting, The Atlantic Philanthropies. Boonop het hy baie moeite gedoen om dit anoniem te doen.

Feeney, wat ook die aandelefirma General Atlantic tot stand gebring het, bly saam met sy tweede vrou en voormalige sekretaresse, Helga, in ’n spartaanse huurwoonstel in San Francisco.

Hy besit geen motor of huis nie en dra ’n plastiekhorlosie van sowat $15.

The New York Times het in 2017 berig: “Totdat hy 75 was, het hy net in ekonomiese klas gereis en leesstof in ’n plastieksak saamgedra.”

Sy vrygewigheid het ook ’n impak op Bill Gates en Warren Buffett gehad, wat hul “Giving Pledge” in 2010 bekend gestel het. Dié veldtog is daarop gemik om die wêreld se rykstes te oortuig om minstens die helfte van hul fortuine weg te gee voor hulle sterf.

Feeney het groot geld vir groot probleme gegee. Dit sluit in om vrede in Noord-Ierland te bewerkstellig, Viëtnam se gesondheidstelsel te moderniseer en Roosevelt-eiland in New York in ’n spilpunt vir tegnologie te omskep.

“Ek sien weinig rede om te wag om te gee terwyl soveel goeds bereik kan word deur waardige sake te ondersteun,” het hy in ’n verslag van The Atlantic Philanthropies met die titel “Zero is the Hero” geskryf. “Buitendien is dit baie meer pret om te gee wanneer jy nog lewe as om te gee as jy dood is.”

Die afgelope Maandag het Feeney sy vier dekades lange taak afgehandel en dokumente onderteken om sy stigting te sluit.

$3,7 miljard van sy geld het aan onderwys gegaan, waaronder byna $1 miljard vir sy alma mater, Cornell-Universiteit.

Hy het ook $62 miljoen bestee aan veldtogte om die doodstraf in Amerika afgeskaf te kry en $76 miljoen ter steun van Obamacare.

’n Biografie oor hom, The Billionaire Who Wasn’t: How Chuck Feeney Made and Gave Away a Fortune Without Anyone Knowing, het in 2007 verskyn.

Gevra hoekom hy dit gedoen het, het Feeney eenvoudig gesê: “Dis die regte ding om te doen.”

Buffett het in 2014 oor hom gesê: “Hy is my en Bill Gates se held. Hy behoort almal se held te wees.” – Saamgestel uit forbes.com, wikipedia.com en atlanticphilanthropies.org

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.