Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Mkhize luister na kleinsake se vrese
Bernard Swanepoel en Zweli Mkhize.

Sowel Mathews Phosa, sakeman en voormalige tesourier van die ANC, as Zweli Mkhize, tesourier-generaal van die ANC, het die AHi se kleinsake-indabas in Kaapstad en Durban gebruik om die bevordering van kleinsake te verkondig.

Dit is maklik om dit af te maak as politieke opportunisme. Albei het lang verbintenisse met die AHi en albei is ANC-presidentskandidate wat weet hoe om ’n gehoor te gee wat hulle graag wil hoor.

Die vraag is dus: Sal kleinsake beter daaraan toe wees onder ’n nuwe president?

Kleinsake is alle formele ondernemings met ’n omset van meer as R1 miljoen per jaar, uitgesluit die paar honderd sogenaamde groot ondernemings. Daar is na raming 2 miljoen kleinsake-ondernemings, maar om verskeie redes is dit baie minder as in ander lande met soortgelyke ekonomieë.

Dit is skokkend dat daar nie betroubare inligting is oor presies hoeveel sulke ondernemings daar is of oor hul bydrae tot werkskepping of die ekonomie nie.

Dit spreek vanself dat ons kleinsake aan die voorpunt van maatskaplike, ekonomiese en politieke interaksie is. Besoek gerus ’n plattelandse dorp waar die plaaslike regering wanfunksioneel is om te sien hoe die maatskaplike uitdagings, gebrek aan basiese dienste en vervalle infrastruktuur dit vir baie kleinsake amper onmoontlik maak om in die hoogs gereguleerde formele sektor te oorleef.

Politieke faksiegevegte, wanfunksionele beleid, korrupsie, misdaad en gebrek aan dienslewering bedreig die voortbestaan van daardie deel van ons ekonomie wat werk skep en die broeikas van innovering en aanpasbaarheid moet wees. Alle lande wat ná ’n resessie daarin geslaag het om vinnig te herstel, het een ding gemeen gehad: ’n sterk en gesonde kleinsakesektor.

Natuurlik gaan die sakemanne en -vroue wat tot ons sakekamers behoort, nie rêrig inspraak hê in die ANC-verkiesingsproses nie. Maar nog twee, vyf of meer jaar sonder ’n nuwe beleidsbenadering sal selfs die mees optimistiese en sterkste kleinsake-eienaar se moed geheel breek.

Entrepreneurs veral, maar ook kleinsakemense in die algemeen, is nie geneig om eksterne omstandighede te blameer nie. Dit is mense wat doen, wat skep en wat op ’n inklusiewe manier hul omgewing beter maak.

As só iemand emigreer, word na raming 15 poste permanent vernietig.

Daarom behoort alle politici te probeer om hierdie sektor en sy mense baie deeglik te verstaan.

Mkhize praat oor korrupsie en eenheid in die ANC en hy herbevestig die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se verwysings na die kritieke rol van kleinsake vir groei en werkskepping.

’n Mens kan nie help om te voel dis vroeg in die verkiesingsveldtog nie – hy toets dalk nog sy boodskap en neem die polsslag van ’n gehoor of belangegroep, maar dis juis daarom belangrik dat hy ons as kleinsakemense hoor.

Ek vermoed hy luister dalk harder as die twee voorlopers in die verkiesingstryd, Cyril Ramaphosa en Nkosazana Dlamini-Zuma. Hy sê hy is ten gunste van gedeelde oplossings tussen ondernemings en die regering, hy staan vir groter deursigtigheid, wat veral jonger gehore behoort aan te staan, en hy verstaan dat leiers mense moet kan inspireer met ’n aangrypende visie. Hy staan sterk op die punt dat die verkiesingsproses in KwaZulu-Natal en in Desember bo verdenking moet wees.

Die kleinsakemense wil weet oor oorregulering (rompslomp) en die gepaardgaande hoë koste om wettig sake te doen. Mkhize is daaraan herinner dat sakevertroue die maklikste en goedkoopste ekonomiese stimulant is. Hy sê hy stem saam, maar sê ook dit is reeds ANC-beleid.

Terug na die miljoenrand- vraag: Sal die sukkelende Suid-Afrikaanse ekonomie, veral die kleinsakesektor, beter daaraan toe wees met Mkhize as ANC-president?

Ek sou sê die gevoel is waarskynlik dat enige verandering ’n verbetering sal wees, maar dat die interne fokus van die kandidate dit moeilik maak om te glo dat die ekonomie of die moeilike omgewing vir kleinsake enigsins makliker gaan word.

Die AHi en sakekamers en hul lede sal soos die res van die land se 55 miljoen mense wag en kyk. Maar namens die 9 miljoen werkloses pleit ons vir die vryheid om ons ondernemings te laat groei en werk te skep. Ons wil dit met vertroue doen én met die wete dat wie ook al in Desember ANC-president word, ’n betroubare en ondersteunende vennoot sal wees in die kleinsakesektor se pogings om ons sukkelende ekonomie op ’n gesonde en volhoubare groeipad te plaas.

Meer oor:  Zweli Mkhize  |  Kmo's  |  Entrepreneurskap  |  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.