Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
’n Bron van inspirasie vir bruide
Tharien Hattingh gesels met Christine Meintjes van The Pretty Blog, ’n aanlyn “troutydskrif” van Stellenbosch in die Wes-Kaap.
Christine Meintjes, 'n professionele troufotograaf, het The Pretty Blog in 2010 begin. Foto: Yolande Marx

Wat is The Pretty Blog?

Dit is ’n aanlyn platform wat daagliks inligting gee oor mooi goed. The Pretty Blog fokus hoofsaaklik op troues en alle trouverwante onderwerpe. Die blog kan ook beskryf word as ’n digitale tydskrif.

Hoe en wanneer het The Pretty Blog se eerste inskrywing verskyn?

Ek is sedert 2007 ’n professionele troufotograaf en in daardie tyd was die troubedryf maar beperk tot ’n paar verskaffers. Net so was die aantal troutydskrifte in Suid-Afrika beperk.

Bruide het dus min bronne vir inspirasie vir hul troues gehad. Ek het die gaping in die mark gesien en besef daar is ’n behoefte aan trou-inspirasie.

Ek en ’n vriendin het koppe bymekaar gesit en in 2010 het The Pretty Blog die lig gesien. Ons het besluit om die konsep vir ’n jaar te toets.

Was dit moeilik om daardie eerste lesers na die blog te trek?

Omdat ek reeds in die troubedryf gewerk het en ’n taamlik kliëntebasis gehad het, was daar vinnig ’n klomp volgelinge.

Ná die eerste vyf dae was daar reeds 6 000 besoekers.

Dit het aan my bevestig dat daar beslis ’n behoefte was aan so ’n platform. Lesers, en veral opgewonde bruide, het ’n behoefte om elke dag vars inspirasie te kry.

Hoeveel volgelinge het The Pretty Blog vandag?

Ons het sowat 120 000 unieke besoekers per maand.

Van waar is die volgelinge?

Ons het volgelinge van oor die wêreld heen – Suid-Afrika, Amerika, Europa en Australië. Die blog het ’n deurlopend eg Suid-Afrikaanse tema.

Hoekom is daar so ’n groot internasionale aanhang?

Buitelanders is mal oor Suid-Afrika – sy landskap, goeiegehalte-verskaffers en spysenieringsdienste maak dit ’n baie gesogte en bekostigbare troubestemming vir internasionale bruide.

Ons fokus daarop om die blog eg en persoonlik te hou. Vroue van oor die wêreld heen moet voel of hulle by ’n vriendin kuier as hulle ons blog besoek.

Hoe lank het dit gevat voordat die blog ’n inkomste begin verdien het?

Ná ses maande het ons begin om advertensieruimte te verkoop.

Dit was ’n moeilike proses om die prys te bepaal en om vas te stel watter waarde die blog vir ’n adverteerder sal skep.

Ons het baie marknavorsing daaroor gedoen en is al vandag by ’n punt waar ons selfs ’n nuwe bemark­ingsproduk ontwikkel het.

Vertel meer van die bemarkingsproduk.

Soos ons onderneming gegroei het, het ons besef dat inhoudsbemarking ’n groot deel van die blog geword het.

Dit was aan die begin ’n vreemde konsep en iets wat ons weer aan adverteerders moes verduidelik.

Inhoudsbemarking is artikels met ’n tema waarin produkte van ’n sekere verskaffer bespreek en aanbeveel word.

Dit is belangrik dat die artikel nie op die verskaffer fokus nie, maar op die gehalte van die produkte en watter waarde dit vir die leser kan bied.

Wat is The Pretty Blog se publikasieresep?

Ons publiseer een tot drie unieke artikels per dag. Dit is baie belangrik dat elke artikel genoeg lugtyd het. Ons kies ook elke maand ’n tema en bou dan ons inhoud om daardie tema.

Hoe het jou rol in die onderneming ontwikkel?

Ek is nie meer fisies so betrokke by die daaglikse funksionering van die blog soos aan die begin nie. Ek fokus deesdae meer op nuwe sake-idees en die ontwikkeling van die handelsnaam. Ek het ’n sterk span onder my wat seker maak dat alle aspekte van die blog glad verloop.

Wat is die grootste les wat jy al geleer het?

Ek raak gou opgewonde oor nuwe idees en tree dan baie impulsief op. Dit het my al ’n paar rand gekos. Ek probeer hard om deesdae eers te dink voordat ek doen en altyd die koste te bepaal. Ek het ook geleer dat tyd ook geld kos.

Hoe voel jy oor die toekoms van die gedrukte media?

Die gedrukte media moet beslis verander – ’n kopskuif maak. Dit hoef nie dood te loop nie, maar daar is groot uitdagings wat oorkom moet word.

Mediaplatforms moet daarop fokus om hul lesers se behoeftes te verstaan en daar by aan te pas. Die gedrukte media wat gaan oorleef, se handelsname sal sterker as ooit wees.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.