Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Net 26% van SA werk by kleinsake
Kleinsake in Suid-Afrika neem baie minder mense in diens as wat navorsers verwag het.Foto: Argief

Formele kleinsake-ondernemings in Suid-Afrika verskaf net werk aan sowat 26% van die arbeidsmag.

Dit is luidens navorsing wat die Kleinsakeprojek (KSP) namens die Instituut vir Kleinsake (IK) gedoen het oor presies hoe die kleinsakesektor in Suid-Afrika daarvan uitsien.

Chris Darroll, uitvoerende hoof van die KSP, sê die aanvanklike resultate van hul studie wys dat die sektor eintlik baie kleiner is as wat verwag was.

Sy het tydens die bekendstelling van die aanvanklike resultate in Parktown, Johannesburg, gesê net formele ondernemings is by die studie ingesluit.

Dit is dus ondernemings wat by die regering as sodanig geregistreer is.

Van die bevindinge is as volg:

  • 98% van geregistreerde ondernemings in Suid-Afrika kan as klein, medium of mikro beskryf word;
  • Die meeste klein sakeondernemings het minder as 10 mense in diens;
  • Daar is net sowat 250 000 formele ondernemings in Suid-Afrika wat as klein, medium of mikro beskryf kan word;
  • 56% van werksgeleenthede word deur net 1 000 maatskappye, wat die staat insluit, geskep; en
  • Groot ondernemings het baie meer werk tussen 2011 en 2016 geskep en teen ’n vinniger pas as wat kleinsake gedoen het.

Die een aspek waar kleinsake hy groter eweknieë laat les opsê, is dat hulle tipies beter salarisse betaal.

“Ons vermoed dit is om te verseker om goeie vaardighede te behou. Goeie vaardighede is van kardinale belang wanneer dit by die sukses van kleinsake kom,” sê Darroll.

Darroll sê wat verder kommerwekkend is, is dat gedurende hul navorsing kon hulle nie op ’n enkele gedeelde definisie van presies wat ’n klein-, medium- of mikro-onderneming is nie.

“As ons nie eens kan saamstem presies wat dit is nie, hoe gaan ons die sektor ontwikkel?” vra sy.

Wanneer pres. Cyril Ramaphosa eindelik daarby uitkom om sy kabinet kleiner te maak, kan hy maar van dié departement ontslae raak.
Bernard Swanepoel

Bernard Swanepoel voorsitter van die IK sê daar gaan baie gedoen moet word om die sektor regtig te ontwikkel.

Tans voel hy die staat ondersteun die sektor glad nie.

“Ons moet die departement van kleinsake vaarwel roep.

“Dit is nou vier jaar sedert die departement geskep is en niks het gebeur nie.

“Wanneer pres. Cyril Ramaphosa eindelik daarby uitkom om sy kabinet kleiner te maak, kan hy maar van dié departement ontslae raak,” sê Swanepoel.

Hy sug en sê die meeste wat hy van dié sektor verwag is dat hy moontlik na hul jaarlikse Kerspartytjie uitgenooi sal word.

Swanepoel sê van die probleme wat uit die weg geruim moet word is om onder meer van die enorme hoeveelheid regulasies wat op die sektor van toepassing is ontslae te raak.

Hy sê ook groot ondernemings kan ’n enorme bydrae lewer deur:

1. Kleinsake betyds te betaal; en

2. Laat jou verskaffers toe om ook hul produkte/dienste aan jou mededingers te verskaf.

Darroll stem saam en sê die eerste vraag wat gevra moet word is in watter mate beleid die ontwikkeling van kleinsake keer.

“Kleinsake is dus nie die dryfkrag agter ekonomiese groei in Suid-Afrika nie.

“Dit is heeltemal uit pas met die res van die wêreld.”

Die navorsers het onder meer inligting by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens vir hul navorsing bekom.

Swanepoel sê hy verwag die instituut gaan in totaal sowat R7,5 miljoen nodig hê om die studie volledig af te handel.

“Die vraag is, kan ons soveel spandeer? Maar jy moet eerder vra, kan ons bekostig om dit nie te doen nie,” sê hy.

Meer oor:  Bernard Swanepoel  |  Kleinsake  |  Entrepreneurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.