Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Noodplan met dié rissies lei tot hul eie fabriek
Gabi en Carlo Snyman se fabriek in Polokwane verskaf werk aan tot 400 mense. By dié fabriek, wat danksy finansieringshulp van die Nywerheidheidsontwikkelingskorporasie (IDC) begin is, word tot 5 000 blikke soetrissies per week vir die uitvoermark verwerk. Foto’s: Elizabeth Sejake

Toe die fabriek wat gewoonlik hul uitvoer-soetrissies verwerk vloedskade ly en talle boere die risiko loop om hul oeste te verloor, het Carlo en Gabi Snyman van ­Polokwane besluit ’n boer maak ’n plan.

Dié jong egpaar het dié fabriek se toerusting gehuur en in die motorhuis op hul plaas begin rissies verwerk. Aanvanklik was dit slegs ’n noodplan om hul oes te red, maar die idee van hul eie fabriek het mettertyd begin posvat.

Ses jaar later bedryf die Snymans hul eie verwerkings-en-verpakkingsaanleg in Polokwane en verskaf werk aan honderde mense met finansiële ondersteuning van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK, beter bekend op sy Engelse afkorting, IDC).

Die IDC verskaf finansiering en lenings aan mense met blink sakeplanne wat nie genoeg kontant het om dié idees uit te voer nie.

Die Snymans het hul fabriek, Mufama Investments, in 2014 oopgemaak met ’n IDC-lening van sowat R13 miljoen.

Mufama is Carlo se Sepedi-bynaam en dit beteken “boerman.” Die plaaslike gemeenskap het hom so gedoop omdat hy volgens hulle nog altyd die talent gehad het om te boer.

Hy het in 2005 ’n plaas 45 km buite Polokwane gekoop. Gabi se pa het ook met soetrissies geboer.

Mufama Investments koop soetrissies by 47 boere aan, waarvan tot 45% opkomende boere is. Boere begin in September rissies aanplant, maar sommige plant eers in Oktober om vir die laatseisoen (tot einde Junie) voorsiening te maak. Op dié plaas naby Vivo (sowat 150 km buite Polokwane) is werkers besig om rissies te pluk.

Die Snymans het die IDC in Januarie 2014 vir finansiering genader en sowat ses maande later hul fabriek in Seshego, aan die buitewyke van Polokwane, oopgemaak.

“Spitstye werk daar tot 400 mense vir ons en ons het so 250 permanente werkers (net by die fabriek),” sê Carlo.

Op die oomblik koop hulle rissies by 47 boere, waarvan tot 45% opkomende boere is.

Hulle bedryf ook projekte in die platteland waar hulle saam met die departement van landbou rissieplantjies, kunsmis, spuitstof en gif aan opkomende boere verskaf.

Die boere hoef eers vir die plantjies te begin betaal sodra hulle rissies begin lewer.

Carlo sê daar is ’n reusagtige mark vir Suid-Afrikaanse soetrissies (cherry peppers) in Duitsland, Denemarke, Frankryk en Australië.

“Ons verpak die rissies in ’n sous en verkoop dit per ton. Ons sorteer, verwerk en blik die rissies in ons fabriek, waarna ons dit deur kontrakteurs na die Durban-hawe laat vervoer.

“Vandaar laai ’n agent dit op die skepe en dit word na Bremerhaven in Duitsland vervoer. Daar kan seker nóg 20 fabrieke soos ons s’n oopgemaak word en hulle sal steeds nie kan voorbly met die vraag na soetrissies nie.”

Naomi Mtshali, hoof van die Nywerheidheidsontwikkelingskorporasie (IDC) se Voorbeleggingsentrum (PIBC), sê entrepeneurs wat gefokusde en realistiese sakeplanne indien, het die beste kans om finansiering te kry. Foto: Elizabeth Sejake

Boere begin tussen September en Oktober rissies plant. Mufama se verwerkingseisoen begin in Januarie en eindig middel Junie.

Maar vir die Snymans is daar geen ruskans nie. Gabi behartig al die administrasie en Carlo soek voortdurend na nóg nuwe verskaffers.

Hoewel die Snymans nog op hul plaas woon, het Carlo sy eie boerderybedrywighede ingekort om heeltyds op Mufama te fokus. Hulle verskaf ook op klein skaal pakkies rissies met ’n roomkaasvulsel aan plaaslike winkels, soos aan die Spar in Polokwane.

“Die IDC is soos ’n vennoot,” sê Gabi.

“Jy kan ’n lening teen ’n rentekoers van prima -3% kry. Hulle bly deurgaans betrokke, al betaal jy jou lening af. Hulle besoek jou gereeld met nuwe voorstelle en is altyd bereid om geld beskikbaar te stel vir nuwe toerusting.

“Ek was agt maande swanger toe ons aansoek gedoen het vir die lening en my seuntjie was ’n paar maande oud toe ons fabriek oopgemaak het.”

Sy sê die IDC betaal nie al die geld op een slag uit nie. Jy moet kwotasies kry vir alles wat benodig word en dit saam met fakture indien.

Die presiese bedrag word aan jou oorbetaal en jy moet later jou bankrekeninge indien as bewys dat elke bedrag bestee is aan dit waarvoor jy die fakture verskaf het.

Gabi sê dié soort streng beheer het tot gevolg dat projekte volhoubaar bly en die geld reg aangewend word.

Meer oor:  Idc  |  Nok  |  Polokwane  |  Entrepreneurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.