Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Om te woeker met water
Die ergste droogte in Suid-Afrika se geskiedenis skep die geleentheid vir slim entrepreneurs om hul slag te wys.

Water is lewe. Boonop kan dit ekonomiesegroei aanwakker of erg belemmer.

Watervoorsiening staan kern tot die verdere industrialisering van die Suid-Afrikaanse ekonomie en daarom beskou die Industrial Development Corporation (Nywerheidsontwikkelingskorporasie, IDC) die ontwikkeling en rehabilitasie van ­waterverwante infrastruktuur as ’n voorkeur.

Lizeka Matshekga, afdelingshoof vir agri-verwerking, nywerheidsinfrastruktuur en nuwe nywerhede, sê die IDC het besef hulle moet ondernemings noop om anders oor water as hulpbron te dink.

“ ’n Mens beskou water as ’n natuurlike hulpbron, ’n geskenk van God. Tog moet ons alles in ons vermoë doen om water op te vang en om bestaande hulpbronne behoorlik te benut.”

Dit is ’n enorme taak om ook verbruikers se houding jeens water te verander.

“Watervoorsiening en stabiele infrastruktuur is ’n katalisator vir nywerheidsontwikkeling,” sê Matshekga. Minstens drie van die IDC se fokus­nywerhede – agri-verwerking, basiese metale en mynbou, asook basiese en spesialischemikalieë – is uiters afhanklik van betroubare watervoorsiening.

Private sektor begin inklim

Die watersektor bied al hoe meer geleenthede vir beleggers, veral as ’n mens in ag neem dat die land teen 2030 jaarliks tot 63 miljard kubieke meter water nodig sal hê.

Op die oomblik het ons net 38 miljard kubieke meter beskikbaar, sê dr. Anthony Turton, plaaslike waterkenner.

Suid-Afrika bevind hom in die ergste droogte in menseheugenis en ons huidige waterinfrastruktuur se onderhoudwerk sal sowat R700 miljard kos.

Boonop kan staatsinstellings weens die land se kredietafgraderings toenemend sukkel om kapitaal te kry deur effekte te verkoop en daardeur groot projekte te finansier.

Dit alles skep groot geleenthede vir die private sektor om betrokke te raak by die ontwikkeling van waterinfrastruktuur.

Voorts begin sleutelbesluitnemers in ondernemings besef dat toegang tot genoeg skoon water nie langer ’n gegewe is en dat die regering dit nie noodwendig onbepaald en teen bekostigbare pryse gaan verskaf nie. Dit maak sakelui meer bereidwillig om nuwe benaderings te oorweeg.

Een so ’n voorbeeld is ’n langtermyn-ooreenkoms tussen Durban South Sewage Works (DSSW) in Amanzimtoti en ’n plaaslike papiervervaardiger en ’n plaaslike olieraffinadery.

Hulle koop behandelde rioolwater by DSSW aan teen ’n laer tarief as wat drinkwater (wat veel meer en duurder behandeling verg) sou kos. Dié behandelde rioolwater is vroeër in die see gestort.

Turton meen ook die mynbousektor, en veral steenkoolmyne, kan “vervaardigers eerder as besoedelaars” van water word as hul ontwaterings­aktiwiteite in hul myne hiervoor gebruik sou kon word.

Hy waarsku egter dat huidige wetgewing en regulasies sakegeleenthede belemmer omdat die Waterwet van 1998 dié hulpbron nasionaliseer, wat beteken dit het geen amptelike kommersiële waarde nie.

Turton sê voornemende beleggers moet seker maak hulle sluit ’n kontrak vir lewering op die duur en dat hulle ook die risiko in ag neem dat waterlisensies elke vyf jaar hernieu moet word. 

– Liezel de Lange

“Dit maak nie saak hoe goed ’n sakeplan is nie, ons sal dit net oorweeg om ’n nuwe onderneming in die mynbou of landboubedryf te finansier as die eienaars ’n waterlisensie het.”

Die IDC sorg hiermee dat hy aan die vereistes van die regulatoriese omgewing voldoen.

Met verwysing na die ernstige droogte in die Wes-Kaap sê Matshekga sulke uitdagings skep nuwe geleenthede in die watersektor.

Sy verwys ook na Eskom en die enorme uitdagings rondom die beurtkragkrisis, wat die bruto binnelandse produk (BBP) vir die eerste kwartaal in 2008 heeltemal in die hek laat duik het.

Volgens haar is dit een van die grootste uitdagings wat die land in die afgelope jare moes afweer én wat verbruikers gedwing het om hul houding jeens hulpbronne te verander.

“Ondernemings wat nie die waarde daarvan kon insien om sonkragpanele op hul dakke te laat insit nie, moes skielik begin dink oor waar die krag vandaan kom wat hulle vir hul sakebedrywighede gebruik.”

Die kragkrisis het die IDC en die private sektor gedwing om die regering se programme vir groenkrag ernstig op te neem en om betrokke te raak daarby.

Die IDC het oor die afgelope vyf jaar 31 projekte met sowat R15,9 miljardhelp finansier as deel van die departement van minerale en energie se program vir onafhanklike ontwikkelaars van herwinbare energie (REIPP).

’n Nasionale waterkrisis sal ’n enor me impak hê op talle sektore in die ekonomie, maar die land kan ook waardevolle lesse hieruit leer.

“Ons moet ondernemings oortuig om doeltreffende beleid en programme oor water in te stel,” sê Matshekga. “Kyk byvoorbeeld watter geleenthede herwinning vir entrepreneurs bied wanneer dit kom by suur mynwater.”

Die IDC het verskeie geleenthede uitgewys vir entrepreneurs wat betrokke wil raak by water- en sanitasiedienste. Projekte in die agri-verwerkingsektor word tans as proeflopies gebruik om mense by sulke projekte betrokke te kry.

“Ons vra diegene wat betrokke is by dié sektor om die IDC te nader sodat ons kan help om verouderde infrastruktuur te vervang.

“Meer as 60% van water in Suid-Afrika word gebruik vir landbou, waaronder besproeiing. As die stelsels te oud is, word verskriklik baie water gemors.”

Die volumes water wat landbou nodig het, is enorm. So verg dit 1 222 liter water om ’n kilogram mielies te verbou, 4 325 liter vir ’n kilogram hoender – en om ’n katoenhemp te maak het jy 2 495 liter water nodig, lui inligting van waterfootprint.org.

Lizeka Mathsekga, hoof van die Industrial Development Corporation (IDC) se afdeling vir agri-verwerking, industriële infrastruktuur en nuwe bedrywe, wil entrepreneurs aanmoedig om besighede te vestig wat volhoubare waterbronne bevorder. Foto: Elizabeth Sejake

Water is goedkoop, en dit maak ondernemings traag om geld aan infrastruktuur te bestee.

“Droogtes noop ons egter om anders hieroor te dink. Ons moet mense se houding verander. Eerder as om water as ’n gratis hulpbron te sien, moet mense dit as ’n noodsaaklikheid beskou,” sê Matshekga.

“Sodra jy water beskou as ’n kommoditeit wat jou onderneming kan kelder, verander dit jou benadering.”

Die IDC het die afgelope twee jaar waterverwante ondernemings besoek om te probeer vasstel hoe houdings jeens water verander kan word en om te kyk hoe hulle sulke ondernemings kan help.

Dit het besoeke ingesluit aan aanlegte wat suur mynwater behandel, munisipaliteite met ontsoutingsaanlegte en ondernemings wat planne beraam om water meer volhoubaar te benut.

Onder die ondernemings wat die aandag getrek het, is een wat ’n klep vervaardig om water in toiletbakke te spaar.

Dié onderneming behoort aan jong entrepreneurs wat finansiering van die IDC gekry het.

Dit is ’n eenvoudige, praktiese plan wat sorg dat die toiletbak nie voller loop as ’n vasgestelde vlak nie.

Matshekga stel dit onomwonde dat die IDC enige planne wat ons waterverbruik kan verbeter baie gunstig sal oorweeg .

Die IDC werk ook aan planne om ondernemings wat baie water ge bruik saam met ondernemings te laat w erk wat planne beraam om waterbronne meer volhoubaar aan te wend.

Matshekga verduidelik dat ’n groot infrastruktuurprojek dikwels nie net baie kapitaal vereis nie, maar dat die betrokke beleggers dikwels eers ná tien tot 15 jaar opbrengste begin kry.

Om meer mense te kry om te midde van sulke struikelblokke die bedryf te betree, werk die IDC aan finansieringstrukture vir alle fases van so ’n projek. So is daar voordele in die ingenieursbeplanning-, aankoop- en boufase beskikbaar. Dieselfde geld die latere bedryfs- en instandhoudingsfase.

Op dié manier is ondernemings se kapitaal nie langer as ’n dekade vasgevang nie.

Die IDC wil ook help om die private sektor te betrek by planne om uitdagings die hoof te bied wat onsekere watertoevoer bring.

Die beskikbaarheid van water is in die Grondwet verskans as ’n basiese mensereg vir alle Suid-Afrikaners. Die private sektor kan die regering help om dié mandaat te vervul.

Tot op hede het daar nog nie soveel ondernemings in die waterbedryf by die IDC kom aanklop soos waarop hulle gehoop het nie. Kommer oor kragvoorsiening is ’n risiko wat die IDC vroeër saam met ’n klomp ondernemings in sakegeleenthede help omskep het en wat tot innovering en nuwe werkgeleenthede gelei het.

“Die owerhede in die Wes-Kaap het planne aangekondig om saam met die private sektor te werk om ­watervoorrade so gou moontlik ’n hupstoot te gee deur ontsouting, die gebruik van stormwater en grondwater om die huidige krisis te ontlont,” sê Matshekga.

“Dit skep geleenthede vir ondernemings om ’n probleem te help oplos en werk te skep.”

Lizeka Matshekga: Volhoubare oplossings gesoek

Die land is midde-in ’n waterkrisis.

’n Mens sou verwag dat Suid-Afrikaners lankal reeds hul houding sou verander te midde van die gereelde waarskuwings van kenners oor die ramp waarop ons afstuur – maar ons het nie.

Anders as elektrisiteit, waarvan die opwekking en verskaffing duur hulpbronne verg, word water gesien as ’n gratis hulpbron wat ons uit riviere, die see en boorgate kan kry. Gratis reën­water is in talle mense se gedagtes die grootste bron hiervan.

Mense sien gratis water as ’n basiese reg. Hoekom moet verbruikers betaal vir ’n hulpbron wat in wese ’n basiese reg is? Dit is die houding van Suid-Afrikaanse waterverbruikers.

Tog begin dit stadig verander weens die ernstige droogte waarin die Wes-Kaap vasgevang is.

Dis net jammer mense moes op die harde manier leer – Wes-Kapenaars word nou 87 liter elk per dag toegelaat vir persoonlike gebruik.

Om dit in perspektief te stel: Oor die afgelope jaar het Wes-Kapenaars 243 miljoen kubieke meter gebruik en die provinsie het nou net meer as 160 miljoen m3 bruikbare water oor. Dit beteken daar is 83 miljoen m3 te min water om die provinsie deur te sien tot die volgende reënseisoen.

Die Wes-Kaap sal vir drie jaar ná mekaar stabiele reënval nodig hê om ten volle van die droogte te herstel.

In plekke soos Gugulethu, Langa en Khayelitsha loop jarelange verbeterings in dienslewering met watervoorsiening die gevaar om nou ongedaan gemaak te word deur hoër tariewe en drastiese rant­soenering.

Die huidige krisis is grootliks beperk tot die Wes-Kaap, maar die stygende vraag na water beteken ons kan later ’n nasionale krisis in die gesig staar.

Dis vanweë die groeiende bevolking en al hoe meer huishoudings wat moderne geriewe soos ’n spoeltoilet het.

Toegang tot genoeg vars water raak ook ’n al hoe groter uitdaging in die land se ekonomiese hartland, Gauteng.

Die provinsie het ’n enorme bevolking wat in nywerhede werk wat baie water benodig. Dit terwyl die provinsie in baie min van sy eie varswaterbehoeftes kan voorsien – die oorgrote meerderheid water in Gauteng kom van die Malutiberge in Lesotho.

Verdere uitdagings soos verouderde infrastruktuur en die algemene voorkoms van suurmynwater beteken die meeste water in Gauteng is ook erg besoedel.

Groot beleggings in die land se watersekuriteit raak ’n enorme uitdaging en dié probleme word ook ervaar in myndorpe in Mpumalanga, Limpopo en Noordwes.

Maar ons durf nie moedeloos raak nie. Dié scenario moet verbruikers en ondernemings noop om hul houding te verander.

Die regulatoriese omgewing moet verander, maar daar is geleenthede binne bestaande wetgewing rondom water- en omgewingsvraagstukke.

Beleid soos koolstofbelasting dwing die private sektor om vindingryk te wees in beleggings in infrastruktuur én om water te spaar. Wetgewing wat omgewingsbewaring bevorder, skep ’n gunstige klimaat vir die ontwikkeling van nuwe nywerhede en tegnologie.

Bowenal wil ek aanvoer dat planne om ’n nasionale waterkrisis af te weer, ’n groot geleentheid bied vir entrepreneurs om waterverwante ondernemings van wêreldgehalte te vestig.

  • Lizeka Matshekga is die Industrial Development Corporation (IDC) se afdelingshoof vir agri-verwerking, nywerheidsinfrastruktuur en nuwe nywerhede.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.