Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Ontvlug na jou klein, klein natuur in glashuis

In ’n sinkhuis in Khayelitsha werk drie glasmakers en ’n planter deesdae heeltyds om voor te bly om delikate tuintjies te skep vir Kapenaars.

’n Woestynlandskap van een van Denny Mo se terrariums.

Die vier bou glasterrariums waarin miniatuur-landskappe groei. Hulle is almal opgelei deur die Kaapse ontwerper Denny Mo (36).

Hul werk is deesdae te koop in die nuwe EGG-afdelingswinkel in Cavendish Square, waar talle kleinhandelaars vloerruimte huur.

Mo, wat in Hongkong gebore is en as kind saam met sy ouers na Suid-Afrika verhuis het, is passievol oor die natuur. “Ek is in ’n woonstelgebou met 70 verdiepings gebore en ons was baie ver van die natuur.”

Hy het begin belangstel om terrariums te maak toe hy vir ’n ruk as winkelassistent by Exclusive Books gewerk het. “Ek het alle boeke oor die onderwerp verslind,” vertel hy.

Die geometriese terrariums van glas wat Denny Mo ontwerp.

Hy het sy eerste terrarium in 2012 gebou en vir jare geëksperimenteer en verskeie kere misluk. Vier jaar gelede het hy die kuns genoegsaam vervolmaak om sy eie winkel in die Bo-Kaap te open en om ander te leer.

Hy het die onderneming, Anea, eers uit sy motorhuis bedryf, maar later die sinkhuis in Khayelitsha gekoop en as werkwinkel ingerig sodat die vakmanne naby hul huise kan werk.

Mo doen self die ontwerpe van die terrariums en gee dan die planne vir die glasmakers.

“Ek wou die kuns van glas-in-lood weer laat herleef. Alles word met die hand gemaak.”

Dit het Denny Mo jare geneem om die regte soort omgewing te skep waarin ’n landskap in ’n terrarium kan oorleef.

Die terrariums wat Mo en sy span maak, kom in verskillende vorms en groottes. Die mees opvallende is die geometriese ontwerpe soos piramides, kubusse en diamante.

“Ek is obsessief oor die natuur en wou met my terrariums probeer om natuurskoon te repliseer. Ek plant nie bloot plante in potte nie, maar probeer eerder verskillende landskappe in geometriese glas huisves,” sê Mo.

Die terrariums huisves bos-, tropiese en woestynlandskappe wat Mo sorgvuldig beplan het. “Dit is ontsettend moeilik om landskappe binne ’n omhulsel na te boots en dit het jare se navorsing geverg om byvoorbeeld die regte soort grond en fungi vir die verskillende landskappe te vind.”

Anea gebruik glas wat plaaslik verkry en aan mekaar gesoldeer word. Die terrarium word op ’n fondasie staan gemaak wat wissel na gelang van die soort landskap. “ ’n Woestyn-fondasie sal byvoorbeeld verskil van dié van ’n boslandskap, wat ’n stelsel moet hê om die vog in die grond te bewaar.”

Hy leer steeds en hy ontdek met elke staptog in die berge in die Kaapse Skiereiland nuwe soorte plantegroei wat nuwe idees genereer oor hoe om sy landskappe te vervolmaak.

Meer oor:  Khayelitsha  |  Entrepreneurs  |  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.