Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Peiling toon 83,4% van KMO’s oorleef Covid

Sakevertroue was in Maart vanjaar hoër as ’n jaar gelede selfs nog voordat ’n ramptoestand en inperking afgekondig is, toon die jongste indeks van die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (Sacci).

werkloosheid
83,4% van KMO’s het die afgelope 12 maande oorleef. Foto: Unsplash

Die organisasie se indeks van sakevertroue vir Maart 2021 was vier punte hoër as Maart 2020 s’n en was 13,2 punte hoër as ses maande vantevore.

Die verbetering kan toegeskryf word aan gunstiger finansiële omstandighede as ’n jaar gelede, asook die toename in die verkope van nuwe voertuie.

Alan Mukoki, uitvoerende hoof van Sacci, het in ’n verklaring gesê ondanks die inperking en die gedempte sakeklimaat het die private sektor bewys dit is veerkragtig en ’n beduidende aantal ondernemings het die moeilike omstandighede oorleef.

’n Peiling wat Retail Capital, ’n finansier van klein- en middelslagondernemings (KMO’s), in Februarie vanjaar onder 500 KMO’s gedoen het, toon 83,4% van KMO’s het die afgelope 12 maande oorleef.

Die peiling toon:

  • 7,9% van ondernemings se finansies het gedurende die inperking verbeter;
  • 4,2% het meer mense in diens geneem;
  • 9,2% se winste het toegeneem;
  • 11,7% se winste het dieselfde gebly; en
  • 9,2% se inkomste het geklim.

“Alhoewel dit klein persentasies is, is dit nogtans bemoedigend. Die vooruitsigte is nie net somber nie,” sê Karl Westvig, uitvoerende hoof van Retail Capital.

Dat baie ondernemings oorleef het en selfs beter gevaar het, kan grootliks toegeskryf word aan die feit dat so baie KMO’s vinnig opgetree het toe die pandemie uitgebreek het.

38,8% het byvoorbeeld hul sakemodelle aangepas en hul dienste en aanbiedinge verander om by die nuwe omstandighede aan te pas.

Al is die meerderheid KMO’s negatief getref, het meer as die helfte aangedui hulle het hul personeelgetalle nie verminder nie.

“Dit is tipies van kleinsakelui. Ons sien keer op keer dat hulle alles in hul vermoë doen om liewer bedryfskoste te verminder as om mense af te dank of salarisse te besnoei,” sê Westvig.

Die peiling wys egter 60,8% van KMO’s wat om finansiële hulp aangeklop het, het glad nie geholpe geraak nie.

41,4% van kleinsakelui het vir lenings by hul banke aansoek gedoen, 26,6% vir Ters-voordele en 26,6% by die KMO-hulpgerief.

Uit die peiling blyk dit 31,5% van KMO’s ly tans ’n verlies terwyl 29,6% bloot gelyk breek.

Mukoki waarsku al is daar tekens van ’n effense oplewing, bly die sakeomgewing onseker en vertroue gedemp met die vooruitsigte van ’n derde golf van Covid-19-infeksies en inperkingsmaatreëls.

Al is die inperkingsregulasies sedert Januarie verslap, is die inperkings van vlak 5 en 4 steeds voelbaar onder sakelui, het Annabel Bishop, ekonoom by Investec, in ’n nota gesê.

“Die toenemende en afnemende aard van inperkings is ontwrigtend en die pas waarteen hervorming gebeur wat ekonomiese groei moet aanwakker, is uiters stadig en oninspirerend,” aldus Bishop.

Meer oor:  Inperkings  |  Kmo's  |  Sakevertroue  |  Covid-19  |  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.