Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Peiling wys kleinsake moet gered word
Kleinsakeondernemings in Suid-Afrika sukkel om kop bo water te hou. Foto: Unsplash

Dit is nie die Suid-Afrikaanse ekonomie wat deur kleinsake gered moet word nie, maar eerder kleinsake wat self die redding nodig het.

Dit is die bevinding van navorsing wat deur Retail Capital gedoen is.

Dié finansierder van kleinsake sê in sy verslag, Roll With The Punches, dat net sowat 10% van Suid-Afrikaanse kleinsakeondernemings tans floreer.

Die ander sukkel om kop bo water te hou weens onbetroubare en duur nutsdienste (47%), stygende bedryfskoste (58%) asook laat betalings.

Luidens die navorsing is daar ook nie veel hulp vir kleinsake nie.

Banke loop veral deur met 58% van die 700 eienaars van ’n kleinsakeonderneming wat aan die peiling deelgeneem het wat sê banke is van die minste geneig om ’n kleinsakeonderneming te ondersteun.

33% beskuldig die staat dat hy ook nie kleinsake ondersteun nie.

“Ons sien nie dat die staat kleinsake ondersteun nie,” sê Karl Westvig, uitvoerende direkteur van Retail Capital.

“R1 500 miljard word in die ekonomie ingestoot, dog die bedrag wat na kleinsake gaan, is klein. Dit is ’n paar miljard rand, maar tog verteenwoordig kleinsake meer as 50% van alle werkgeleenthede in Suid-Afrika,” sê hy.

“As daar een gebied is waarop die regering moet fokus, is dit werkskepping, en spesifiek die skep van werk deur kleinsakeondernemings.

“In die onlangse mediumtermynbegrotingsrede is hulle egter nie eens een keer genoem nie. Daar word baie oor die rol van kleinsake gepraat, maar dit is net lippediens,” sê Westvig.

Nog ’n uitdaging waardeur kleinsake in die gesig gestaar word, is die vinnige groei van tegnologie en digitalisering.

Sowat 32% van respondente sê dié verwikkeling bedreig die volhoubaarheid van hul ondernemings.

Kleinsake

Sektore

Hoewel heelwat kleinsake hulle in gevestigde sektore soos kleinhandel (17%), spesialisdienste (15%), konstruksie (9%), gasvryheid (6%) of die restaurantbedryf (5%) begeef, bedryf die meeste klein ondernemings wat produkte soos koekies, handsakke, parfuum en gedrukte etikette verkoop of lewer hulle dienste soos om kinders op te pas.

Vroue

Waar kleinsake voorheen luidens die verslag die domein van mans was, is dit nou hoofsaaklik vroue wat hul eie ondernemings begin.

Die peiling wys dat 65% van die respondente vroue is.

Mike Anderson, uitvoerende hoof van die sakekamer vir kleinsake, sê waar die kamer 11 jaar gelede net ’n paar vroue as lede gehad het, is die meeste nou vroue.

Wenke

Retail Capital het as deel van sy peiling respondente gevra om wenke te gee vir ander entrepreneurs wat graag ’n onderneming wil begin.

Hier is hul 16 wenke:

  • Hou oorhoofse koste en ander uitgawes so laag as moontlik;
  • Moenie bedryfskapitaal bestee nie;
  • Hou pryse mededingend;
  • Probeer om plaaslike en internasionale beleggers te lok;
  • Wees ingelig oor nuwe tegnologie en gebruik dit waar moontlik;
  • Wees behendig, klantgerig en wys watter waarde jy lewer;
  • Gebruik alternatiewe kragbronne;
  • Wees versigtig oor wie jy aanstel;
  • Gebruik netwerke om jou onderneming uit te brei;
  • Werk saam met verskaffers, werknemers en kliënte;
  • Maak seker jou handelsnaam is sigbaar;
  • Lewer produkte betyds af soos belowe;
  • Maak seker jy kry die beste pryse vir goedere;
  • Wees baie noukeurig oor hoe jy jou voorraad monitor;
  • Wees bewus van wat jou mededingers doen; en
  • Wees eerlik en hou by jou waardes.
Meer oor:  Retail Capital  |  Karl Westvig  |  Entrepreneurs  |  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.