
Petri Redelinghuys en sy parkiet, Roxy, wat hom geselskap hou in sy tuiskantoor.
’n Johannesburgse entrepreneur kon die inperkingstyd gebruik het om meer kliënte te werf. Toe kies hy om ander ondernemings te help wat in dié tyd gesluit moet wees.
Petri Redelinghuys, entrepreneur en stigter van die makelaarsfirma Herenya Capital, het ’n webwerf, Say Siyabonga, geskep waardeur hy en meer as 100 vrywilligers kleinsakeondernemings wil help om kop bo water te hou.
Die idee is dat die ondernemings koopbewyse verkoop waarmee hulle steeds kontant kan genereer, al is hul deure vir sake gesluit.
“Ons is vyf mense by Herenya en ons werk almal van die huis af. So, toe die inperking afgekondig is, was dit vir ons business as usual – ons kon maar net aangaan soos vantevore,” het hy aan Rapport gesê vanuit sy tuiskantoor in Johannesburg, waar hy en sy parkiet, Roxy, die fort hou.
“Maar baie ander batebestuurders se sakemodelle was tot onlangs toe kantoorgebaseer. Ek kon kies: Óf ons gryp die geleentheid aan om in hierdie tyd ons kliëntebasis uit brei óf ek help duisende ander wat nou nadelig geraak word.”
Say Siyabonga werk soos wanneer effekte uitgereik word waarvoor die koper ’n koepon ontvang wat dan later weer afgekoop kan word teen ’n hoër opbrengs.
“Maar ons kan nie effekte bemark sonder ’n finansiëlediensteverskaffer nie,” sê Redelinghuys, “so ons het besluit koopbewyse is ’n goeie manier om om die uitdaging te werk.”
’n Pizzarestaurant kan byvoorbeeld ’n koopbewys van R200 beskikbaar stel wat afkoopbaar is vir R350 wanneer die inperking en die tyd van fisieke afstand verby is.
Sakeondernemings – enigiets van restaurante tot vryskutte – kan registreer op Say Siyabonga se webwerf.
“Ons moet uiteraard seker maak dat dit ’n geldige sakeonderneming is en dat die koopbewyse wat beskikbaar gestel word, legitiem is,” verduidelik hy.
Sodra Say Siyabonga die onderneming goedgekeur het, kan hy aanlyn sy koopbewyse skep en begin sake doen.
“Daar is bestaande hulp vir sekere ondernemings, maar ons wou nie enigiemand uitsluit nie.
“Ons kry byvoorbeeld koopbewyse van skoonheidsalonne, biltongwinkels en toerisme-ouens.”
Say Siyabonga sal ook binnekort ’n geografiese liggingsfunksie op sy webwerf beskikbaar hê sodat voornemende kopers kan sien watter ondernemings spesifiek in hul omgewings koopbewyse aanbied.
Besoek Say Siyabonga by www.SaySiyabonga.co.za.