Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Registrasie om sake te kan doen werk só

Dit is nie nodig vir noodsaaklike dienste om ’n sertifikaat van die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) te kry om oop te wees tydens die 21-dae-inperkingstyd nie, sê die departement van handel en nywerheid.

aanlyn
Ter illustrasie. Foto: Unsplash

Dié boodskap in ’n mediaverklaring Donderdagmiddag laat kom te midde van ’n stroom kritiek van ondernemings dat die webwerf waar hulle veronderstel was om te registreer, nie werk nie.

Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, het in ’n vroeëre verklaring die registrasiewebwerf bekend gestel.

Die departement sê in sy latere verklaring sowat 10 000 maatskappye het hulle reeds teen 14:00 geregistreer as verskaffers van noodsaaklike goedere en dienste. Die meeste hiervan is voedselverskaffers, mediese en farmaseutiese ondernemings en vervoerdienste.

Die departement verwys in die verklaring na die regulasies oor noodsaaklike dienste wat deur die minister van samewerkende regering en tradisionele sake uitgereik is. Die regulasies vereis ondernemings wat noodsaaklike dienste verskaf, moet ’n vorm of sertifikaat aan hul werkers gee waarmee hulle kan bewys dat hulle buite hul huise mag wees tydens die inperking.

Die departement van handel en nywerheid sê omdat baie maatskappye hul inligting aan die regering wou gee, is besluit om ’n webwerf te skep onder die vaandel van die CIPC waar maatskappye wat noodsaaklike dienste verrig hul besonderhede kon aanmeld.

Dié webwerf is www.bizportal.gov.za

Die departement sê dié webwerf is ten volle in werking.

“Ons vra dat maatskappye geduldig is tydens die registrasietydperk omdat ’n groot aantal tans probeer registreer.”

(Ten tyde van die skryf van hierdie artikel het die webwerf weer nie gewerk nie, soos telkens deur die dag toe Netwerk24 dit besoek het.)

“Geen maatskappy sal benadeel word deur enige vertraging in die stelsel nie. Die diens sal Vrydag en verder ook beskikbaar wees. Dit is nie ’n vereiste dat maatskappye die registrasie voltooi voordat die inperking begin nie.”

Net maatskappye wat ingevolge die regulasies toegelaat word, mag tydens die inperkingsperiode in bedryf wees.

“Die besit van ’n CIPC-sertifikaat is nie toestemming om sake te doen nie. Maatskappye moet deur die regulasies gelei word oor of hulle noodsaaklike dienste verskaf.”

Die departement het weer gemaan wanvoorstellings is ’n misdaad en oortreders sal vervolg word.

“Ons het reeds gesien maatskappye wat op hul perseel alkohol verkoop, registreer deur die webwerf.”

Ander voorbeelde sluit in ondernemings wat troeteldiere se hare was en skeer.

“Die maatskappye sal in kennis gestel word daarvan dat dit nie toegelaat word nie en ons kan moontlik verdere stappe teen hulle doen.”

Die departement het ook gesê maatskappye mag briewe aan hul werkers uitreik onafhanklik van die registrasieproses, voordat die inperking begin.

Wie moet op webwerf registreer?

Verskaffers van noodsaaklike dienste soos dokters en ander gesondheidspraktisyns asook spazawinkels en bestaansboere hoef nie op die webwerf te probeer registreer om hul dienste te verrig nie.

Teen 16:00 Donderdag was 15 000 maatskappye reeds geregistreer.

Die departement sê in ’n tweede mediaverklaring gesondheidsberoepe wat by die Raad vir Gesondheidsberoepe (RGB) geregistreer is, hoef nie deur BizPortal te registreer nie. Eenmenssake wat noodsaaklike dienste en goedere verskaf soos spazawinkels en bestaansboere hoef ook nie daar te registreer nie.

Die departement sê net maatskappye, spazawinkels, gesondheidsberoepe en boere wat by die regulasies oor noodsaaklike dienste ingesluit word, sal toegelaat word om gedurende die inperking bedrywig te wees.

Die regulasies gee die toestemming, nie die sertifikaat wat deur die BizPortal verkry word nie.

“Maatskappye moet die regulasies lees om te verstaan of hul onderneming ’n noodsaaklike diens is of nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.