SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Entrepreneurs
Rompslomp met belasting kos KMO’s tyd en geld

Suid-Afrika se mikro-ondernemings verdrink onder die rompslomp wat met belasting verband hou. Hulle bestee 20 keer meer tyd aan belastingsake as middelslagondernemings en vier keer meer as klein ondernemings.

Trouens, die gemiddelde Suid-Afrikaanse maatskappy bestee sowat 20 mandae per jaar aan hul belastingsake, volgens navorsing deur Sage, ’n verskaffer van rekeningkundige tegnologie vir sakeondernemings.

Pieter Bensch

Dié navorsing het die impak van belastings op klein en middelslagondernemings (KMO’s) in 11 lande, insluitende Suid-Afrika, ondersoek.

“Die 515 000 kleinste maatskappye en beginnerondernemings dra die gewigtigste administratiewe laste,” sê Pieter Bensch, Sage se streekhoof vir Afrika en die Midde-Ooste.

Hulle bestee byna nege dae per jaar aan belastingverwante boekhouding, wat daarop neerkom dat net meer as 2% van hul werkstyd met belastings verband hou.

“Op ’n positiewe noot is Suid-Afrikaanse mikro-ondernemings (met minder as vyf werknemers) die beste daaraan toe wanneer belasting relatief tot wins gemeet word,” sê Bensch.

Suid-Afrika en Ierland is die enigste twee lande waar mikro-ondernemings ’n laer gedeelte van hul wins aan belasting afstaan as wat ander KMO’s moet betaal. Mikro-ondernemings in Suid-Afrika betaal belasting wat gelykstaande is aan 9% van hul wins, vergeleke met 23% vir klein en middelslagondernemings.

In die meeste ander lande wat aan die opname deelgeneem het, betaal mikro-ondernemings meer as 20% van hul wins aan belasting. Die hoogste belastinglas was in Brasilië waar mikro-ondernemings tot 65% van hul wins aan Jan Taks moes afstaan.

Die gemiddelde Suid-Afrikaanse onderneming bestee 1% van hul totale man-ure (of net meer as 20 mandae per jaar) aan belastingsake. Dit vergelyk gunstig met Amerika (4%) en Duitsland (3,7%), maar die syfers is nie so goed soos in Brittanje of Singapoer waar net 0,5% afgestaan word nie.

“Deur die tyd wat aan belastingsake bestee word te verminder, kan Suid-Afrikaanse ondernemings meer produktief raak met aktiwiteite wat waarde tot die ekonomie toevoeg,” sê Bensch.

Hy wys daarop dat die kleinsakesektor ’n belangrike bydraer is tot werkskepping, die transformasie van ’n ongelyke samelewing en om ekonomiese geleenthede te skep.

“KMO’s beslaan 97% van alle ondernemings, neem 70% van die totale arbeidsmag in diens en betaal 32,2% van die maatskappybelasting.”

Die sukses van hierdie ondernemings is deurslaggewend vir die land, daarom moet ag geslaan word op kwessies soos erge staatsburokrasie en belastingadministrasie, sê Bensch.

Die koers waarteen nuwe Suid-Afrikaanse ondernemings misluk, is een van die hoogstes ter wêreld.

“Gebrek aan finansiering, laat betalings, onvoldoende infrastruktuur en ’n gesukkel om aan regulasies te voldoen, speel alles ’n rol in dié prentjie.”

Meer oor:  Sage  |  Kleinsake  |  Kmo's  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.