Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Rupert-geld: Rente eers ná jaar gehef op lenings

Geen wins gaan gemaak word uit die bestuur van die donasie van R1 miljard van die sakeman Johann Rupert se familie om kleinsakeondernemings tydens die koronaviruspandemie te help oorleef nie.

Johann Rupert, voorsitter van Remgro en Richemont. Foto: Petrus Malherbe

Pres. Cyril Ramaphosa het op 24 Maart in sy toespraak oor die inperking van drie weke aangekondig die Rupert-familie skenk R1 miljard.

Business Partners, wat die administrasie van die geld hanteer, het in ’n verklaring bevestig van die geld sal uitgeleen en ’n deel geskenk word.

Klein en mediumondernemings kon van Vrydag af op Business Partners se webtuiste hul aansoeke indien.

Dit blyk nou ook uit die verklaring die R1 miljard word geskenk saam met die beleggingsmaatskappy Remgro waarin Rupert ’n groot belang hou.

Business Partners is deur Rupert en sy pa, wyle dr. Anton Rupert, begin en Remgro hou ’n groot belang in die onderneming.

Business Partners het gesê die R1 miljard sal in die vorm van lenings en skenkings deur ’n nuwe program, Sukuma, die behoeftige ondernemings bereik.

Ben Bierman, besturende direkteur van Business Partners Bpk., sê ’n onderskeid word getref tussen die hulp wat Sukuma verskaf aan eenmansake en ondernemings soos beslote korporasies, maatskappye en trusts.

Ben Bierman
Ben Bierman, besturende direkteur van Business Partners.

Eenmansake wat aansoek gedoen het en kwalifiseer, sal skenkings van R25 000 ontvang.

Beslote korporasies, maatskappye en trusts wat aansoek doen en kwalifiseer, ontvang ook R25 000 en kan in aanmerking kan kom vir lenings van R250 000 tot R1 miljoen.

Geen sekuriteit is nodig vir die lenings nie. Terugbetaling van die lenings sal ná 12 maande begin – as die ondernemings dan kan begin betaal.

Die finansiering sal in die eerste jaar dus as ’n kapitaalinspuiting werk.

Die rente wat ook eers van maand 13 gehef word, is teen die prima rentekoers wat tans 8,75% is. Die terugbetalingstydperk is vier jaar. Die rentekoers beloop, uitgewerk oor die vyf jaar sedert die toegestaan is, prima -2%.

Business Partners het die rentekoers wat gehef gaan word as laag beskryf.

Dit moet nie vergelyk word met oorsese finansiering wat van regerings in die tydperk verskaf word nie omdat hul rentekoerse baie laer as Suid-Afrika s’n is.

Dit is ’n goedkoop lening relatief tot wat in die mark beskikbaar is omdat min noulettendheid toegepas word en geen sekuriteit benodig word nie.

Die bedoeling met die R25 000 is dat dit vir twee of drie weke verligting kan bring aan ’n eenmansaak.

Bierman sê Business Partners se rol is om te verseker dat elke sent wat tot die fonds bygedra word die ondernemings bereik wat dit benodig.

Business Partners gaan nie op enige manier wins maak uit die finansiering nie, lui die verklaring. Geen geld gaan gehef word vir die program wat bestuur word nie.

Volgens hom sal die skenkers (dus Rupert en Remgro) ook nie in enige stadium terugbetaal word nie.

Rupert het op sosiale media deurgeloop toe dit blyk dat die R1 miljard in die vorm van lenings beskikbaar gestel sal word. Hy het sedert die aankondiging deur Ramaphosa nog nie op vrae van Netwerk24 gereageer nie.

Bierman sê die lening en terugbetaling wat vereis word moet beskou word as ’n manier hoe die begunstigdes van die program, wanneer hulle weer op hul voete staan, kan bydrae tot die voortgesette ondersteuning van ander klein- en mediumondernemings in die toekoms.

Beslote korporasies, maatskappye en trusts moet geregistreerde Suid-Afrikaanse ondernemings wees wat kan toon hulle was lewensvatbaar voor die pandemie. Die ondernemings moet aan die belastingwetgewing en ander wette voldoen.

Die wat aansoek doen is versoek om dokumente en stawende bewyse voor te lê om te bevestig dat dit ’n lewensvatbare onderneming is wat deur COVID-19 geraak is. Die bewyse kan behels dat getoon word dat omset gedaal het, bedryfskapitaal opgedroog het en ’n onvermoë om salarisse te betaal.

Formele eenmansake moet bewys lewer van ’n aktiewe bankrekening om te toon hy het sake gedoen voor die uitbraak en bewyse kan lewer dat belasting betaal word. Die bewyse is net nodig om te verseker dat kansvatters nie aansoek doen nie.

“Ons verstaan ??dat baie ondernemings tans onmiddellike finansiële verligting benodig. Uitbetalings sal dus binne sewe dae gedoen word vandat aansoek gedoen is, mits die stawende bewyse gelewer en geverifieer is,” sê Bierman.

Doen aansoek op Business Partners se webtuiste (www.businesspartners.co.za). Volg die eenvoudige stappe om ’n aansoekvorm in te vul en stawende dokumente aan te heg.

Meer oor:  Remgro  |  Business Partners  |  Johann Rupert  |  Covid-19  |  Ekonomie  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.