Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Rykstes in SA: Rupert onttroon Oppenheimer

Johann Rupert het Nicky Oppenheimer onttroon as die rykste Suid-Afrikaner op Bloomberg se miljardêr-indeks vir 2020.

rykstes

Rupert (69), van die luuksegoederegroep Richemont-faam, het in 2019 sy aardse skatte vermeerder van $6,55 miljard tot sy huidige fortuin van $7,35 miljard (sowat R112 miljard).

Hy is een van drie Suid-Afrikaners wat die Top-500 gehaal het.

Bloomberg se ligsinnige feite oor Rupert se welvaart sluit in dat hy 138 miljoen vate ru-olie of amper 6 miljoen onse goud kan koop.

Bloomberg stel daagliks die welvaart van die wêreld se miljardêrs saam uit rekords wat in die openbare domein is.

Die Richemont-groep, met handelsmerke soos Cartier en Montblanc in sy stal, se aandeelprys het in die laaste jaar met 25,59% gestyg.

Selfs met Rupert se aansienlike welvaartgroei het hy in die laaste jaar effens af beweeg op die Top-500-lys. Hy was verlede jaar die 240ste rykste mens op aarde en is vanjaar in die 242ste plek.

Johann Rupert, eienaar van die luuksegoederegroep Richemont klim uit sy private straler uit. Foto: Louise Gubb/Corbis via Getty Images

Rupert, wat sy volle jaarlikse salaris aan liefdadigheid skenk, het skatryk geërf van sy pa, Anton, die stigter van die Rembrandt-groep in 1940, wat in 2006 oorlede is. Hy het in 1998 die Richemont-groep gestig as ’n uitvloeisel van die voormalige Rem­brandt wat deesdae bekend staan as Remgro – ’n Stellenbosch-gebaseerde beleggingsgroep wat belange in meer as 30 maatskappye het.

Rupert is ’n kranige gholfspeler en groot vriende met die beroepspeler Ernie Els. Die Rupert-familie het – soos talle superryk Suid-Afrikaners – aandele in wynlandgoedere in die Wes-Kaap deur middel van Fleur du Cap en L’Ormarins buite Franschhoek waar die familie se versameling antieke motors uitgestal word.

’n Kortkop agter Rupert is Nicky Oppenheimer (74) – voorheen die rykste Suid-Afrikaner – wat in die 243ste posisie is. Sy fortuin word nou op $7,33 miljard geraam terwyl dit ’n jaar gelede $7,05 miljard was. Hy was toe 216de.

Soos Rupert het Oppenheimer gebaat uit die boedel van sy pa, Harry, wat van die laat 1950’s tot vroeë 1980’s voorsitter van die mynboumaatskappye Anglo American en De Beers was. Harry Oppenheimer is in 2000 oorlede.

Nicky Oppenheimer het sy 40%-belang in De Beers in 2012 aan Anglo American verkoop vir $5,2 miljard.

Hy besit tans aandele regoor Afrika, Asië, die VSA en Europa heen, en 186 479 ha bewaringsgrond wat strek oor Suid-Afrika, Botswana en Zimbabwe. Die Tswalu Kalahari-wildreservaat is ook in sy besit.

Derde op die lys van Suid-Afrika se rykstes is die minder bekende Natie Kirsh (87) met ’n fortuin van $6,16 miljard.

Kirsh, ’n eiegemaakte miljardêr, beklee die 320ste plek op Bloomberg se indeks. Verlede jaar was hy 263ste met $6,01 miljard.

Hy het baie jare in die VSA deurgebring en het ’n 75%-belang in die voedselgroep Jetro Holdings. Kirsh besit eiendom op vier kontinente en het in 2011 die Tower 42-wolkekrabber in Londen vir $443 miljoen gekoop.

Nie net het al drie ryk Suid-Afrikaners teruggesak op die ranglys nie, maar hul rykdom word ook verdwerg deur die stinkrykes soos Jeff Bezos van Amazon.com wat nou ’n duiselingwekkende $115 miljard (R1 646 miljard) sterk staan en nommer een op die lys is.

Nicky Oppenheimer van De Beers-faam saam met wyle oudpresident Nelson Mandela by die opening van die Mandela Rhodes-trust Foto: VERSKAF
Patrice Motsepe het ’n fortuin van $2,6 miljard.
Christo Wiese, voorsitter van Shoprite by sy huis in Clifton, Kaapstad Foto: EDREA DU TOIT

Hoewel net drie Suid-Afrikaners op Bloomberg se Top-500-ranglys is, is daar nie ’n tekort aan plaaslike miljardêrs nie.

Hulle sluit in:

  • Patrice Motsepe van African Rainbow Minerals met ’n fortuin van $2,6 miljard. In 2008 het hy die eerste swart miljardêr geword wat Forbes se rykes-lys gehaal het. Motsepe het in 2016 die private ekwiteitgroep African Rainbow Capital gestig wat beleggings in Afrika doen. Hy is ook die president en eienaar van die Mamelodi Sundowns-sokkerklub.
  • Koos Bekker, met ’n welvaart van $2,5 miljard, het Naspers uitgebou van ’n koerant- en drukkersmaatskappy tot ’n internetbeleggingsgroep met onder meer belange in e-handel en betaaltelevisie. Hy het in Maart 2014 uitgetree as die uitvoerende hoof, en in April 2015 teruggekeer as Naspers-voorsitter. Hy het in 2018 ’n multi-miljoen-pond-landgoed in Engeland van 400 ha geopen waarop ’n hotel en restaurant gehuisves word. Die ontwikkeling is geskoei op Bekker se Babylonstoren-ontwikkeling naby Franschhoek.
  • Michiel le Roux, die mede-stigter van die hoogs suksesvolle Capitec-bank, dien tans op die direksie nadat hy in 2016 as voorsitter uitgetree het. Capitec het enorme welvaart vir sy aandeelhouers geskep – sy aandeelprys het net oor die afgelope vyf jaar sesvoudig toegeneem – van R220 in 2015 tot R1 355. Le Roux het volgens Bloomberg sowat $1,3 miljard se bates.
  • Christo Wiese van Pepkor-faam en uittredende Shoprite-voorsitter het miljoene rande ingeboet met die inploffing van Steinhoff. Forbes het sy rykdom in Maart 2017 op $5,6 miljard geraam en dit het volgens CNBC Africain minder as ’n jaar geval tot $300 miljoen. Wiese het in September R420 miljoen se aandele in die beleggingsgroep Brait, waarin hy ’n meerderheidsbelang het, verkoop.

Bykomende bronne: Bloomberg, Forbes, The South African, TimesLive en City Press

Meer oor:  Nicky Oppenheimer  |  Johann Rupert  |  Koos Bekker  |  Christo Wiese  |  Patrice Motsepe  |  Forbes  |  Rykdom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.