Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
SA entrepreneur in NY van bedrog beskuldig
Eran Eyal, stigter van Springleap.

Die gevierde Suid-Afrikaanse entrepreneur Eran Eyal (43) is in New York van bedrog aangekla te midde van ’n aantal skokkende bewerings.

Amerikaanse owerhede beskuldig hom daarvan dat hy miljoene rande van beleggers gesteel het wat hy na bewering met leuens en bedrog verlei het om in sy maatskappy te belê. Hy het glo selfs ’n kuberkraker gehuur om vals inligting vir sy platform te skep.

Eyal, wat in Durban grootgeword het, is welbekend as entrepreneur.

Volgens sy LinkedIn-profiel het hy ’n BA-graad van die Universiteit van KwaZulu-Natal, maar volgens sy Facebook-profiel het hy regte aan Unisa gestudeer.

Ná sy studies het hy in 2007 die onderneming Springleap begin. Dit was aanvanklik ’n onderneming wat T-hemp-ontwerp aangemoedig het: Grafiese ontwerpers kon hul idees op die webwerf voorlê en Springleap het dit dan gedruk.

Dit het gou uitgebrei tot ’n webwerf vir skarewerwing wat maatskappye met grafiese ontwerpers en reklameberoepslui verbind het. Nokia, Samsung, Foschini en SAB het kliënte geword en die onderneming het ’n prys vir die innoverendste e-onderneming op die Verenigde Nasies se Wêreldberaad gewen.

Eyal is volgens sy amptelike profiel uitgelig as een van die Mail & Guardian se 200 Young South Africans en hy was onder die topentrepreneurs in ’n Old Mutual-veldtog.

Vier jaar gelede het die maatskappy glo $400 000 se finansiering van Suid-Afrikaanse en Britse maatskappye ontvang en na Brooklyn in New York verskuif om die skarewerwingsaak in die VSA te probeer vestig.

Eyal het toe gesê die maatskappy verwag kontrakte ter waarde van $3 miljoen.

Springleap voer aan hy het 180 000 mense uit die kreatiewe reklamebedryf op sy platform wat gereed is om maatskappye met advertensieveldtogte te help.

Eyal het die laaste jare by verskeie ondernemings betrokke geraak en het toe by Springleap bedank. Sy mees onlangse onderneming is Shopin, ’n “gedesentraliseerde Amazon, gebou op blokkettingtegnologie”.

Nou is hy van bedrog aangekla.

In ’n verdoemende verklaring beskuldig Barbara Underwood, New York se prokureur-generaal, Eyal daarvan dat hy $600 000 van beleggers gesteel het in ’n “enorme aandelebedrogskema”.

Dit kom neer op hoe Springleap in 2014 en 2015 geld gewerf het.

Owerhede beweer dat Eyal beleggers vir Springleap gelok het deur ’n aantal misleidende voorleggings oor die maatskappy se bestuurspan, raadgewende direksie, kreatiewe beroepslui en kliënte.

Springleap het na bewering geadverteer dat hy ’n gesogte bestuurspan het – insluitend tegnologiehoofde met indrukwekkende biografieë – terwyl die maatskappy in werklikheid nie ’n tegnologiehoof gehad het nie.
Barbara Underwood, prokureur-generaal van New York

“Springleap het na bewering geadverteer dat hy ’n gesogte bestuurspan het – insluitend tegnologiehoofde met indrukwekkende biografieë – terwyl die maatskappy in werklikheid nie ’n tegnologiehoof gehad het nie. Hoewel die name van die fiktiewe hoofde in die beleggingsmateriaal aan werklike individue behoort het, het Eyal na bewering hul kwalifikasies oordryf om aan te dui dat hulle voorheen tegnologiehoofde by groot maatskappye was voordat hulle by Springleap aangesluit het, ten einde te beweer dat bestuurslui met ’n hoër profiel van Springleap se bestuurspan was,” sê Underwood.

Eyal het na bewering ook oor sy hoëprofielkliënte en raadgewende direksie gelieg, wat glo uit bekende, suksesvolle en gerespekteerde sakelui bestaan het.

En oor daardie 180 000 kreatiewe beroepslui op die Springleap-platform . . . ?

“In werklikheid het Eyal na bewering ’n vryskut-kuberkraker gehuur om rekenaarinligting uit legitieme aanlyn portefeuljes te skraap ten einde geloofwaardige inligting vir kreatiewe beroepslui te bekom om sy bestaande lys kunsmatig te vergroot.”

Eyal het na bewering gespog dat die projek hom net $25 gekos het, sê die owerhede, wat toegang tot sy e-posse verkry het.

Eyal het na bewering ook gelieg oor die feit dat Springleap in die tegnologietydskrif Fast Company se lys verskyn het as die sewende innoverendste maatskappy ter wêreld.

Vier beleggers wat meer as $600 000 belê het, het nooit hul geld teruggekry nie. Amerikaanse owerhede sê beleggers in Suid-Afrika, Australië en Brittanje het altesame meer as $1,3 miljoen in Springleap belê.

Die Britse “engelbelegger” Kevin Gaskell, Colenso Capital wat in Suid-Afrika geregistreer is, die Australiese firma Bay Capital en die Amerikaanse Clearwater Capital was onder Springleap se eerste beleggers.

As Eyal skuldig bevind word, kan hy tot 15 jaar tronkstraf opgelê word. Business Insider

Meer oor:  Bedrog  |  Entrepreneur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.