Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
SA gebore miljardêr wil R3 mjd. vir entstof gee

Die Suid-Afrikaans gebore farmaseutiese miljardêr dr. Patrick Soon-Shiong het hom daartoe verbind om R3 miljard te skenk om Suid-Afrika te help om entstowwe teen Covid-19 en ander siektes te produseer, berig Fin24.

Die Suid-Afrikaans gebore sakeman Patrick Soon-Shiong het R3 miljard belowe om Suid-Afrika te help om entstowwe te vervaardig. Foto: Bloomberg

Op ’n vergadering wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gereël is, het Soon-Shiong gesê sy familiestigting en maatskappy sal die nodige tegniese kennis en ander vermoëns na Suid-Afrika bring om entstowwe hier te kan produseer.

Volgens Forbes het die 68-jarige Soon-Shiong sy persoonlike fortuin van $6,8 miljard verdien toe hy Abraxane, ’n middel teen pankreaskanker, uitgevind het. Hy besit nou NantWorks, ’n netwerk van gesondheidsondernemings, en het ’n belang in die basketbalspan Los Angeles Lakers. Hy besit ook die koerante Los Angeles Times en San Diego Tribune.

Soon-Shiong het in Gqeberha (Port Elizabeth) grootgeword en medies aan die Universiteit van die Witwatersrand gestudeer. Hy het sy mediese internskap in die Johannesburg-hospitaal gedoen.

In die laat 1970’s het hy vir verdere studies na Kanada verhuis, en daarna na die VSA, waar hy farmaseutiese ondernemings begin het.

“Ek het die groot geluk gehad om van Suid-Afrika na Amerika te kom en groot ondernemings met groot produksiegeriewe te bou,” het hy op die WGO-konferensie gesê.

Hy sê sy verbintenis as ’n Suid-Afrikaans gebore Asiatiese Amerikaner is om Suid-Afrika te help met die vervaardiging van entstowwe.

Die afgelope jaar het hy regstreeks met “mede-Suid-Afrikaners” soos prof. Tulio de Oliveira, direkteur van die KwaZulu-Natal Research Innovation and Sequencing Platform (Krisp), geskakel. Krisp koördineer die genetiese ondersoek na die koronavirus in Suid-Afrika.

Hy het ook met prof. Glenda Gray, hoof van die Mediese Navorsingsraad, en regeringsamptenare geskakel.

“(Ek het) al hoe meer oortuig daarvan geword dat ons nie net die wetenskap het nie, maar ook die menslike kapitaal, die vermoë en die begeerte.”

Hy sê Suid-Afrika het die voortou geneem in die genomiese ontleding van Covid-19 en het die wêreld gehelp om die gevaar van die variante te verstaan.

Suid-Afrika kan produksie en innovering van entstofkapasiteit op die vasteland kataliseer, en die vasteland help om selfversorgend te word, het Soon-Shiong gesê.

Ooreenkoms met Biovac

In Maart het die maatskappy ImmunityBio van Soon-Shiong, wat fase 1-entstofproewe in SA en die VSA doen, ’n ooreenkoms onderteken met die entstofvervaardiger Biovac, wat deels besit word deur die Suid-Afrikaanse regering.

Die ooreenkoms stel Biovac in staat om ’n aanleg te bou wat volgens hom 100 miljoen dosisse per jaar kan lewer. Bloomberg berig dat ImmunityBio met Biovac in gesprek is oor ’n belang in dié aanleg.

Net soos Johnson & Johnson se Covid-19-entstof, gebruik ImmunityBio se entstof ’n adenovirus, ’n gemodifiseerde menslike virus.

Bloomberg sê ImmunityBio se entstof het ’n paar voordele. “Die sogenaamde hAd5-T-selle maak besmette selle dood en benewens die proteïene wat op die stekels van die koronavirus voorkom, is die skoot gerig op die proteïen in die kern, wat minder geneig is tot mutasies.” 

Dit kan dit effektiewer maak teen die Suid-Afrikaanse stam van Covid.

Sy skenking van R3 miljard sal gebruik word om tegnologieë na Suid-Afrika te bring om entstowwe hier te vervaardig.

“Wat regtig nodig is, is tweedegenerasie-entstowwe,” het hy bygevoeg.

“Ons doel en ons verbintenis is om terug te keer na Suid-Afrika en dié soort tegnologie oor te dra.”

Soon-Shiong hoop dat die nuwe tegnologieë nie net teen Covid-19 sal help nie, maar ook ander gesondheidsuitdagings in Afrika, insluitend MIV en kanker.

Meer oor:  3De Vlaag  |  Farmaseutiese Bedryf  |  Covid-19  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.