Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Sakeliga wen saak oor permitte vir kleinsake

Die regulasies wat Khumbudzo Ntshavheni, minister van kleinsakeontwikkeling, op 12 Mei uitgereik het, is onwettig en ongeldig, het die hooggeregshof in Pretoria beslis.

Dit val nie onder plaaslike regerings se gesag om aan paneelkloppers ’n handelspermit of sakelisensie uit te reik nie, het die hooggeregshof beslis.

Dié instruksies het klein en informele handelaars wat onder vlak 4 van die staat van inperking toegelaat is om handel te dryf, verplig om sakelisensies en handelspermitte van hul plaaslike munisipaliteite te bekom, én boonop ’n registrasiesertifikaat van die Kommissie vir Intellektuele Eiendom en Maatskappye (CIPC).

Die sakeorganisasie Sakeliga het die hofuitspraak as ’n oorwinning vir sakevryheid bestempel.

Sakeliga het vroeër vir ’n dringende hofbevel teen dié instruksies aansoek gedoen.

Die uitspraak beteken dit staan sakeondernemings nou vry om slegs met hul selfuitgereikte permitte, sonder regeringslisensies te make met die ramptoestand, handel te dryf. Geen wetstoepasser mag aandring op ’n CIPC-sertifikaat of ander lisensie van ’n onderneming wat dit nie reeds voor die ramptoestand moes hê nie.

In die normale gang van sake is dit net maatskappye en beslote korporasies wat dit nodig het om by die CIPC te registreer, maar Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, het die CIPC se stelsel tydens die ramptoestand gebruik as registrasiemeganisme vir ondernemings wat noodsaaklike en toegelate dienste tydens die inperking lewer.

Sakeliga het aangevoer dit was ’n onnodige misbruik van mag en inmenging by sakeondernemings se reg om vrylik sake te doen.

Met die oorgang van vlak 4 na vlak 3 van die inperking waarin die meeste sakeondernemings nou weer mag sake doen, het Patel wel die naweek die CIPC-stelsel onttrek.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, meen nietemin die saak is ’n oorwinning vir sakevryheid. “Onder die dekmantel van ’n mediese krisis het die staat gepoog om ’n algemene stelsel van sakelisensiëring in Suid-Afrika in te stel.”

Sakeondernemings en individue wat weens die onregmatige vereistes, soos die toon van ’n CIPC-sertifikaat, skade gely het, sou kon oorweeg om die staat vir skadevergoeding te dagvaar, meen Le Roux.

Regter Johan Louw het in sy uitspraak Ntshaveni beveel om Sakeliga se regskoste te betaal.

Louw het beslis die vereiste vir ondernemings om ’n sertifikaat te hê wat wys hulle is ’n noodsaaklike diens, het weggeval noudat die land na vlak 3 geskuif het. Die staat se regspan het egter aangevoer die vereiste staan nog, want die regering kan die land weer na vak 4 of vlak 5 skuif.

In sy uitspraak het Louw egter gesê dit is tans blote gissings of dit sal gebeur, en daar is tans geen noodsaak vir die uitreiking van CIPC-sertifikate vir dié doel nie. ’n Wetstoepasser sal nou onwettig optree as hy aandring op ’n CIPC-sertifikaat of as hy iemand in hegtenis neem, beboet of teen iemand optree weens die afwesigheid van so ’n sertifikaat.

In Ntshavheni se instruksies van 12 Mei het sy voorgeskryf dat onder meer klein bakkerye, klein hardewarewinkels, informele en klein restaurante en shisanyamas, asook loodgieters, elektrisiëns en motorwerktuigkundiges, ’n sakelisensie of handelspermit van hul plaaslike munisipaliteit moet hê.

Ingevolge die Wet op Sakeondernemings het hardewarewinkels en vaklui egter nie sulke lisensies of permitte nodig nie. Plaaslike owerhede het boonop nie die nodige gesag om lisensies of permitte aan voertuigherstelondernemings of paneelkloppers uit te reik nie, het Louw in sy uitspraak gesê.

Hy het beslis dat Ntshavheni met dié regulasies haar magte oorskry het, en hy het die instruksies as onwettig en ongeldig verklaar.

Meer oor:  Khumbudzo Ntshavheni  |  Kleinsake  |  Cipc  |  Kleinsake-Ondernemings  |  Staat Van Inperking  |  Kmo's  |  Koronavirus  |  Vlak 3  |  Vlak 4  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.