Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
SA’ners haal nie paal met eie sake
Meghan, hertogin van Sussex, by die Woodstock Exchange waar sy jong vroue-entrepreneurs wat in tegnologie werk, ontmoet het. Foto: Getty Images

Entrepreneurskap word dikwels gebruik as ’n soort towerwoord wat veronderstel is om Suid-Afrika se massiewe werkloosheidsprobleem op te los, maar om van ’n werklose ’n entrepreneur te maak, verg die wil en motivering.

Hieraan het arm Suid-Afrikaners ’n geweldige tekort, blyk uit navorsing wat by die Universiteit van Pretoria gedoen is.

Prof. Jurie van Vuuren en sy medenavorsers, Boitumelo Masilela en John Pangala, het 400 mense van Tshwane en Johannesburg wat Sassa-toelae ontvang, uitgevra om te bepaal of hulle hul eie onderneming sou wou bedryf.

’n Derde van die respondente het gesê hulle sal dit nie oorweeg nie, selfs al kry hulle nie meer Sassa-toelae nie.

Van die res – twee derdes – het 80% erken hulle het nog nooit ondersoek ingestel na die bemagtigingsorganisasies wat entrepreneurs bystaan nie, soos die Kleinsake-ontwikkelingsagentskap. (Mense wat om mediese redes nie in staat is om te werk nie, is uitgesluit van die peiling.)

As ’n mens die peiling van toepassing maak op die 17,6 miljoen mense (31% van die bevolking) wat toelaes kry, sou dié persentasies beteken dat 5,8 miljoenvan werkloses wat toelaes kry, nie bereid is om hul eie onderneming te begin nie, sê Van Vuuren.

In die laaste kwartaal van 2018 het die getal mense wat werkloos is, op 6,1 miljoen gestaan.

Boonop het dit geblyk die respondente wat gesê het hulle is nie bereid om ’n onderneming te begin nie, ook nie juis ander toekomsplanne het nie.

Die meting van hul gemotiveerdheid om vir hulself ’n beter toekoms te probeer skep, was baie laag, sê Van Vuuren.

Hy meen die navorsing wys dat beleidmakers nie die rol van kleinsake as ’n oplossing vir die land se werkloosheid moet oorskat nie.

Van Vuuren sê die stelsel van toelae het ’n “monster” geskep wat nie oornag die geneigdheid gaan ontwikkel om vir homself kos te soek nie. Hy meen dit is nie volhoubaar in Suid-Afrika nie waar die inwoners duidelik nie entrepreneuries is nie.

Van Vuuren reken as die huidige groeitendens voortduur, kan Suid-Afrika oor vyf jaar 19 360 000 Sassa-ontvangers hê, van wie 6,4 miljoen nie bereid gaan wees om ondernemings te begin en vir hulself werk te skep nie.

Hy stel voor dat die stelsel geleidelik hervorm word, onder meer dat gesonde werkende mense wat 60 jaar oud en getroud is en saam R13 100 per maand verdien, eers op 65 vir ’n ouderdomstoelaag mag kwalifiseer.

Prof. Jurie van Vuuren

Van Vuuren sê ’n ontleding van die Global Entrepreneurship Monitor South Africa (GEM South Africa) se syfers wys hoe meer kleinsake-ondernemings begin word, hoe hoër is die persentasie mislukte jong ondernemings.

Dit laat die land min of meer op dieselfde plek met geen beduidende ekonomiese groei nie en gevolglik geen permanente nuwe werkgeleenthede nie. Die tendens is soortgelyk in die meeste ander Brics-lande, behalwe Brasilië.

In innoveringsgedrewe ekonomië soos die EU, VSA en die Skandinawiese lande is meer nuwe ondernemings suksesvol en lei meer nuwe ondernemings tot volhoubare ekonomiese groei.

Van Vuuren sê dit het tyd geword dat die regering herbesin oor die geld wat hy vir kleinsake-ontwikkeling bewillig.

“Bestaande en gevestigde kleinsake-ondernemings moet 70% tot 80% van die ondersteuning ontvang, ongeag enige sogenaamde politieke voorwaardes.

“Ek dink ook dit het tyd geword dat elke Suid–Afrikaner ernstig besin oor hoe entrepreneuries hulle is. Die staat en private korporatiewe sektor kan en gaan nie vir almal kan voorsien nie. Jy gaan soek nie water in die middel van ’n woestyn nie. Daar is nie water nie – dit is hoekom dit bekend staan as ’n woestyn. Hou maar op om van alles en almal te wil ontvang.

“Die enigste uitweg is om die ‘wil’ aan die dag te lê om jou entrepreneuriese geneigdheid te verbeter en vir jouself sukses te skep,” sê Van Vuuren.

  • Prof. Jurie van Vuuren is die koördineerder van die leerstoel in entrepreneurskap in die departement van ondernemingsbestuur aan die Universiteit van Pretoria. Die volledige artikel is onder evaluering vir publikasie in ’n akademiese joernaal.
Meer oor:  Entrepreneurskap  |  Kleinsake  |  Werkskepping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.