SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
‘Skrap dié rade sodat kleinsake kan groei’

Klein- en middelslagsakeondernemings (KMO’s) smeek die regering om kollektiewe bedingingsrade te skrap of minstens te keer dat kollektiewe ooreenkomste op hulle afgeding word.

Khumbudzo Ntshavheni, South Africas small business
Khumbudzo Ntshavheni, mininster van kleinsake-ontwikkeling. Foto: Waldo Swiegers, Bloomberg

Dit is sodat die land se sowat 5,6 miljoen KMO’s kan oorleef, sê adv. Hein van der Walt, direkteur van die Konfederasie van Werkgewers van Suider-Afrika (Cofesa). Cofesa verteenwoordig meer as 100 000 KMO’s.

Van der Walt sê as kollektiewe loonooreenkomste op hul lede afgedwing word, sal dit hul loonrekeninge met 18% tot 33% laat styg. Buiten dat dit ’n KMO onmiddellik onmededingend maak, word talle genoodsaak om dan personeel af te lê.

Indien die veranderinge wat hulle wil hê, aangebring word, sal dit ekonomiese groei en werkskepping aanhelp teen geen koste vir die staat nie, sê hy.

Die werkloosheidsyfer is nou 29%. Volgens die breë definisie, wat mense insluit wat kan en wil werk, maar ophou werk soek het, is dit nader aan 38%.

Die ekonoom Mike Schüssler het gesê Suid-Afrika is een van die enigste lande ter wêreld waar die werkloosheidskoers die afgelope 20 jaar reeds hoër as 20% is.

As deel van ’n onlangse werksessie deur die Vryemarkstigting oor hoe Suid-Afrika se ekonomiese vryheid verbeter kan word, stel Cofesa onder meer voor dat gekyk word na ontwikkelingsplanne vir nywerheidsektore soortgelyk aan die sukses wat in die motorbedryf behaal is.

Cofesa sê die vorige Kleinsakeraad het, voordat die regering dit tot niet gemaak het, soortgelyke planne vir verskeie bedrywe ontwikkel, waaronder die chemiese, tekstiel- en meubelbedrywe.

“Ongelukkig is al dié bedrywe toegelaat om agteruit te gaan, maar dit kan herbou word as dit reg hanteer word. Die bevordering van uitvoer behoort deel van dié heropbouprogram te wees,” sê Cofesa.

Rapport het ook vroeër berig oor Johannes Wessels, ’n ontleder van die Enterprise Observatory of SA, wat sê terwyl die regering al jare sloer om ’n nuwe Kleinsakeraad aan te stel, het byna 50% van geregistreerde KMO’s verdwyn.

Op grond van data van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) lei hy af in 2007-’08 was daar 300 299 geregistreerde ondernemings wat ’n omset van R1 miljoen of minder het. Dié kategorie het gekrimp tot net 154 559 in 2017-’18.

Cofesa sê ’n opname deur die Kleinsake-ontwikkelingsagentskap (Seda), ’n filiaal van die departement van handel en nywerheid, wys vyf uit elke sewe nuwe klein ondernemings wat in Suid-Afrika op die been kom, misluk binne die eerste vyf jaar.

Dit wys ondanks die ekonomiese bloeitydperk in Suid-Afrika van 2004 tot 2006 het die groei van klein ondernemings van 2003 tot 2012 gestagneer.

Veral die laaste dekade is KMO’s onder druk en die getal het met 37% (of 83 000) afgeneem tot 139 664 in 2016.

Cofesa sê beginnerondernemings het van 250 000 in 2001 tot 58 000 in 2011 afgeneem. Dit is nie ’n wêreldwye verskynsel nie, wat beteken Suid-Afrika kan die tendens ongedaan maak.

Cofesa stel ook voor die internasionaal erkende metode van Pendulum-arbitrasie word in Suid-Afrika toegepas om die potensiële skade van uitgerekte stakings aan die ekonomie te beperk, en dit is ook aanvaarbaar vir internasionale beleggers. Van der Walt sê dit word beskou as ’n praktiese manier om arbeidsgeskille vinnig op te los en ’n verlies aan inkomste en gevolglik minder belasting aan die SAID, te beperk.

Die arbitrasie kom neer op aansporings vir die twee partye in die dispuut deur aan elkeen die geleentheid te gee om billike en redelike voorstelle te doen omdat die arbiter die finale besluit uit die voorstelle neem.

Meer oor:  Vakbonde  |  Kmo's  |  Arbeidswette  |  Minimum Loon  |  Kleinsake  |  Werkskepping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.