Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Sku entrepreneurs: Doen dit net
Op Jenwil, Volksblad en Radio Rosestad se SakeSlim-kongres in Bloemfontein was van links dr. Kobus Laubscher, onafhanklike landbou-ekonoom en paneelleier op die kongres, Rothea van Biljon, stigter van Jenwil, Albert van Wyk, gasspreker, entrepreneur en skrywer van How to be a Millionaire at 22, en Jeannine van Zyl, hoofbestuurder van Volksblad. Foto: Vida Booysen

Voornemende entrepreneurs moet eerder bang wees vir die spyt wat gaan kom omdat hulle nooit gewaag het nie, as om bang te wees vir mislukking.

Dié raad kom van Albert van Wyk, wat op 22 sy eerste miljoen gemaak het en nou, skaars drie jaar later, die land vol reis om jong mense te bemagtig om entrepreneuries te dink.

Hy was Donderdag die hoofspreker op Volksblad, Jenwil en Radio Rosestad se SakeSlim-kongres in Bloemfontein wat spesifiek op entrepreneurs en kleinsakelui fokus.

Van Wyk, wat reeds ondernemings begin het vandat hy in die laerskool was, sê mense vra hom dikwels waar hulle moet begin.

“Begin net met daardie droom wat jy altyd wou volg.”

Hy byt ook nie aan die verskoning dat iemand nie finansiering vir hulle goeie sake-idee het nie.

“Soos jy dit doen, leer jy die regte resep. Selfs al begin jy met baie geld, is dit nie ’n waarborg dat jy suksesvol sal wees wanneer jy leer sake doen nie.”

Hy beklemtoon hoe belangrik dit is dat entrepreneurs eers die somme doen voordat hulle enige nuwe aankope doen. Hy het sy fortuin gemaak deur eiendom te koop, dit self op te knap, en dit dan te verkoop.

“As ek ’n huis wil koop, het ek eers die somme gemaak, tot op die laaste sent wat dit my alles gaan kos. Dan het ek daardie bedrag teen my muur geskryf sodat dit my verantwoordbaar kon hou, want dis die doelwit waarvoor ek spaar.”

Entrepreneurs moet munt slaan uit die positiwiteit wat tans in die land heers en die geleenthede aangryp wat dit bied, sê Rothea van Biljon, stigter van Jenwil BlouSter Finansiële Adviesdienste. Sy is ’n entrepreneur in eie reg wat haar eerste onderneming op 21 begin het.

“Jy moet altyd aanhou leer, jy kan nooit aanneem jy weet alles nie,” is haar raad aan entrepreneurs.

Sy sê statistieke van Sanlam toon dat net 36% van entrepreneurs opvolgbeplanning gedoen het in die geval dat ’n sleutelpersoon in die onderneming wegval.

“Dit is kritiek belangrik om te dink wat sal gebeur met jou afhanklikes en jou onderneming as jy iets sou oorkom.”

Vier Bloemfonteinse entrepreneurs het op ’n paneelbespreking hul suksesverhale vertel, en die goue draad wat deur elkeen se verhaal geloop het, is dat ’n mens baie geesdriftig oor jou onderneming moet wees.

“Jy moet soms 18 ure per dag of langer werk en jy kan dit net doen as jy geesdriftig is oor dit wat jy doen – daar lê jou motivering en jou sukses,” sê Suné Niemand, bekende Bloemfonteinse sjef van The Upper Crust wat weekliks kosdemonstrasies by The Culinary Theatre in Connorlaan in die stad aanbied.

Op sy beurt het Johan Eksteen, besturende direkteur van Agricon Pelleting en voormalige wenner van Sanlam en Business Partners se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie, gesê ’n entrepreneur se maatstaf is nie sy mededingers nie.

“Die maatstaf is hoe uniek jou aanbieding kan wees – dan word jy die maatstaf waarteen ander hulle meet.”

Entrepreneur-wees is alles behalwe romanties, sê Philip Piek, direkteur van The Piek Group wat met net een vulstasie begin het en vandag meer as 700 werknemers by verskeie vulstasies in die Vrystaat en Wes-Kaap in diens het.

“As die ekonomiese tye taai raak, is kontantvloei koning. Hou streng by jou begroting en as jy dit nie maak nie, moet jy aan jou uitgawes sny.”

Meer oor:  Bloemfontein  |  Sakeslim  |  Sakeslimkongres  |  Entrepreneurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.