Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Só werk Oppenheimer-trust van meer as R1 mjd.

Die skenking van R1 miljard van die Oppenheimer-familie gaan in samewerking met banke R11 250 gee aan werknemers van kleinsake-ondernemings wat tydens die Covid-19-inperking nie kan werk nie.

Jonathan Oppenheimer

Die fonds staan nou as die South African Future Trust bekend.

Volgens Jonathan Oppenheimer is kleinsake-ondernemings en hul bykans 2 miljoen werknemers die groep wat tans van byna alle steunpakkette uitgesluit word.

“So baie miljoene mense wat nie nou ’n inkomste het nie, is eintlik skrikwekkend,” het hy gesê.

Oppenheimer meen dit is van die uiterse belang dat diegene “in die middel” wat nie staatstoelae ontvang of vir maatskappye werk wat nie groot genoeg is om deur ander veiligheidsnette beskerm te word nie, ondersteun word om grootskaalse hongersnood te voorkom.

Hy het Dinsdag in ’n aanlyn mediakonferensie verduidelik hoe die nuwe trust werk en wat al daardeur bereik is.

Doel van die trust

Volgens Oppenheimer is die hoofdoel van die trust om werknemers wat weens die staat van inperking van hul inkomste ontneem is, regstreeks te help met broodnodige finansiële hulp sodat hulle nie honger ly nie.

Die trust beskik nou oor R1,12 miljard nadat nog ’n skenking ontvang is.

Oppenheimer meen dit sal nou 100 000 werknemers in die volgende paar maande kan ondersteun.

Die tyd raak egter min om aansoek te doen aangesien 65 000 werknemers reeds daarvoor aansoek gedoen het.

Oppenheimer het verduidelik dat die trust met die groot banke, Nedbank, Standard Bank, Absa en FNB, asook Investec en Mercantile Bank, saamwerk om geld binne vier dae van ’n aansoek in die werknemers se sakke te sit.

Banke dien as agente vir die trust.

Die uitbetaling is R750 per werknemer per week vir 15 weke.

Werkgewers met ’n omset van minder as R25 miljoen per jaar en wat ’n goeie geskiedenis by die bank het, sal deur hul bank geselekteer word of kan vir die ondersteuning van hul werknemers in die vorm van ’n lening aansoek doen. Die lening is rentevry en kan wanneer sake hervat word, oor ’n periode van tot vyf jaar terugbetaal word.

Ondernemings moet die aantal werknemers wat hulle wil ondersteun, vermeld en dan word die geld dienooreenkomstig aan hierdie werknemers uitbetaal. Sodoende kan die banke verseker dat die geld nie deur die onderneming gehou word nie.

Die trust kan dus deur middel van banke geld regstreeks by behoeftige werknemers kry sonder dat dit misbruik word.

In samewerking met die regering sal geen van die geld wat die werknemers op hierdie wyse ontvang, belas word nie, het hy gesê.

Oppenheimer het gesê dat dié ondersteuning ook die ekonomie ná die staat van inperking ’n hupstoot sal gee. Aangesien werknemers dus kan oorleef, al werk hulle nie tans nie, sal hulle in staat wees om terug te keer na hul werk, wat die ekonomie sal help om weer aan die gang te kom.

Slegte skuld

Oppenheimer verwag egter steeds groot verliese vir die trust.

“Ons verwag slegte skuld van sowat 25% (wat dus nie deur begunstigdes terugbetaal word nie), maar ons hoop dit sal nie meer as 50% wees nie.”

Die trust beoog om die oorblywende fondse ná die Covid-19-krisis as ’n heeltemal onafhanklike ontwikkelingsagentskap in te span. Dit vereis dat ten minste ván die geld wel terugbetaal word deur ondernemings wat die krisis oorleef het. Geen van die oorblywende geld sal egter na die Oppenheimer-familie teruggaan nie.

Die geld wat nou uitbetaal word, sal help dat kleinsake hul kontant kan benut om te oorleef sonder dat hulle hul werknemers hoef te betaal wat nie nou werk nie.

Maar Oppenheimer reken talle ondernemings sal nietemin vou. “Ek dink dit gaan erg wees. Dit gaan erger as die Groot Depressie wees.”

Volgens Oppenheimer was die reële ekonomie nog nooit voorheen só geraak nie.

“Om die een tot twee miljoen werkverliese weens die krisis weer op te maak, gaan nie vinnig gebeur nie. Dit is die nuwe normaal.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.