Die vakbond Solidariteit het regstappe aangekondig in sy stryd teen die regering se ras-kriteria vir hulp aan kleinsakeondernemings wat deur die Covid-19-pandemie verlam word.

’n Vrou verkoop skyfies, groente en roomys in Jeppestown, Johannesburg. Foto: William Horne
Dit kom minder as ’n week nadat die vakbond ’n klag by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien het oor die oënskynlike rassisme, volgens hom, in die regering se planne om die toestaan van krisisfinansiering aan klein, middelslag- en mikro-ondernemings aan swart ekonomiese bemagtiging onderhewig te maak.
Khumbudzo Ntshavheni, minister van kleinsakeontwikkeling, het verlede week die versekering gegee dat dit fopnuus is dat ondernemings 51% in swart besit moet wees om vir hulp te kwalifiseer.
Sy het gesê dat ondernemings van “elke demografie” gehelp sal word, maar dat die verspreiding van hulp steeds “demografies verteenwoordigend” moet wees.
Solidariteit hou vol dat dit steeds rassisties is.
“Dit is nie nou die tyd om hulp aan klein ondernemings wat in nood verkeer as ’n blote rasse-som te verreken nie,” sê Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se arbeidsregsdienste.
“Die ondernemings is meer werd as dit. Die regering probeer om ’n rasse-som te laat klop, en uiteindelik ly die hele Suid-Afrika daaronder.”
Die saak sal op 28 April in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor word. Die presidensie en verskeie ministeries is gelys as respondente.
Geen duidelike maatstawwe ten opsigte van die bepaling van wie vir die kleinsake-hulp kwalifiseer, is beskikbaar nie, meen Solidariteit.
“Ons dring daarop aan dat hierdie inligting bekend gemaak word. Dit skep verwarring wanneer die minister beweer dat die staat se skyfie-aanbieding oor die aansoek van kleinsake vir noodfondse ‘fopnuus’ is wanneer dit in werklikheid nié is nie,” sê Van der Bijl.
“Die regering mag dalk van die skyfievertoning afstand gedoen het, maar dit is duidelik dat hulle steeds vasklou aan hul rassebenadering.”