Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Spookkombuise blaas nuwe lewe in kosbedryf

Die kitskos wat jy deesdae van Uber Eats of Mr D bestel, kom dikwels van ’n kombuis wat jy nog nooit met jou eie oë gesien het nie.

Burger Boss is een van die handelsmerke wat in die Freedberg-broers se spookkombuis voorberei word.

Welkom by die spookkombuis, ook genoem virtuele restaurant – ’n sakemodel wat uitsluitlik op kosaflewering gerig is.

Klante weet meesal nie waar die kombuis is waar hul kos voorberei word nie, want daar is nie ’n winkelfront soos in die geval van ’n tradisionele wegneemeteplek nie.

Al het spookkombuise reeds in 2017 in Suid-Afrika begin kop uitsteek, het dit met die inperking weens Covid-19 ’n baie stewiger vastrapplek gekry. Toe restaurante in die vroeë vlakke van inperking nie toegelaat is om aansit-etes te bedien nie, het aanlyn kosbestellings baie toegeneem.

Volgens Yashvir Maharaj, navorsingsdirekteur by Insight Survey, wat in marknavorsing spesialiseer, het die getal mense wat kos aanlyn bestel in die afgelope vyf jaar al begin toeneem, van 0,6% in 2014 tot 8,7% in 2019. Dit kom neer op ’n saamgestelde jaarlikse groeikoers van 80,2%.

Maharaj meen die hoë bedryfskoste van tradisionele wegneemeteplekke sal spookkombuise se gewildheid verder laat toeneem, veral omdat dit bedryfskoste aansienlik verminder.

Spookkombuise het die voordeel dat dit ’n verskeidenheid handelsmerke en sjefs onder een dak kan huisves. Die huur van die perseel is aansienlik goedkoper omdat dit nie noodwendig ideaal geleë (soos in ’n besige straat) hoef te wees nie. Boonop kan eienaars sonder moeite ’n handelsmerk laat vaar wat nie aftrek by klante kry nie en iets anders probeer.

 

Smart Kitchen Co.

Een van die voorlopers in die spookkombuis-arena in Suid-Afrika is Jasper Meyer. Hy het Smart Kitchen Co. in 2017 bekend gestel.

Jazzys Pizza is een van die handelsmerke wat uit die Jasper Meyer se spookkombuis kom.

Meyer het as ’n student ’n mobiele pizza-oondjie gehad waarmee hy pizzas vir gaste by partytjies gemaak het. Sy pizzas was later so gewild dat hy sy onderneming na sy ouers se kombuis moes verskuif. “Dit was chaos en daar was meel net waar jy kyk. Ek moes ’n groter kombuis kry.”

Só het Smart Kitchen Co. ontstaan. Sy pizzas is net afgelewer, maar mettertyd het hulle burgers en poké-bakkies ook bedien.

Ek was oortuig dat spookkombuise dié ding van die toekoms sou wees, maar die inperking het alles net vinniger laat gebeur.
Jasper Meyer van Smart Kitchen Co.

Meyer het tans vyf spookkombuise in en om Kaapstad wat kos onder meer onder die handelsmerke Jazzy’s Pizza, Burgo Burgers, Jiro Poké en ’n geriefswinkel, Simply Foods, verskaf.

“Ek was oortuig dat spookkombuise dié ding van die toekoms sou wees, maar die inperking het alles net vinniger laat gebeur,” sê Meyer. Hy beplan om binnekort ook spookkombuise in Johannesburg te begin danksy ’n tweede waagkapitaalbelegging van die Amerikaner Tim Draper.

 

The Ghost Kitchen

Die broers Jarred en Dean Freedberg, onderskeidelik ’n batebestuurder en nywerheidsontwerper, se belangstelling in spookkombuise is in 2018 geprikkel. “Ons het dit gesien as iets wat ’n omwenteling in die restaurantbedryf kon veroorsaak.”

Larry Hodes, eienaar van Dark Kitchen in Johannesburg.

In 2018 het hulle The Ghost Kitchen in die Kaapse middestad begin wat die handelsmerke Pizza Co, Burgerboss en Slaai Urban Salad insluit. Die broers het tans twee kombuise wat elk meer as tien handelsmerke se kos voorberei.

Larry Hodes, restauranteienaar van onder meer Arbor Café in Johannesburg, het kort voor die inperking sy eie spookkombuis, Dark Kitchen, geopen. Hy gebruik derdeparty-afleweraars, maar lewer self ook af en het sy eie app waar mense regstreeks by Dark Kitchen kan bestel.

Produkte van Slaai Urban Salad – een van die Freedberg-broers se handelsmerke.
The Dark Kitchen lewer self ook af.
Meer oor:  Kos  |  Restaurante  |  Kosaflewering  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.