Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Studie: 42,7% van kleinsake oorleef nie inperking
Baie kleinsake, waar eienaars en werknemers van die huis af moes werk, kon nie die staat van inperking oorleef nie. Foto: Pixabay

Bykans 43% van kleinsakeondernemings het nie die staat van inperking weens die Covid-19-pandemie oorleef nie.

Maar die meeste van hulle was ondernemings wat ook nie voor die aanvang van die pandemie winsgewend was nie, is in ’n peiling bevind.

Dit was veral kleinsake in die konstruksiebedryf (waarvan 14,2% hul deure permanent gesluit het), restaurante (9,9%) en in die gasvryheidsbedryf (9,7%) wat gesukkel het om hul deure oop te hou.

Die syfers kom uit Finfind se peiling wat onder 1 489 kleinsakeondernemings gedoen is oor hoe hulle voor en gedurende die staat van inperking gevaar het.

Finfind het die peiling in samewerking met die departement van kleinsake-ontwikkeling, die opleidingsowerheid vir die dienstesektor, Business Leadership SA, die Bankvereniging van Suid-Afrika en ander belanghebbendes gedoen.

Die peiling is oor ’n tydperk van vyf maande gedoen.

Die sektore waarin die meeste klein ondernemings regdeur die staat van inperking in bedryf kon bly, is klein- en groothandel (10,5% kon heeltyd oopbly), inligtingstegnologie (10,4%) en sake-advies (9,9%).

Kleinsake

Werkverliese

Dit is reeds alombekend dat die staat van inperking tot groot werkverliese in die land gelei het.

Finfind se peiling wys dat kleinsake vanaf die oomblik wat die staat van inperking begin het, werkers uit diens moes stel.

Daar was in totaal ’n verlies van 60% aan permanente poste in die kleinsakesektor. Hiervan was 68% van kleinsake wat gedurende die staat van inperking hul deure gesluit het, en 32% van sake wat minstens deels in bedryf kon bly.

Finfind sê dat 4 720 permanente poste uit 7 728 het verlore gegaan by kleinsake wat aan die peiling deelgeneem het.

Wanneer dit by deeltydse werkers kom, was die slagting selfs groter. In dié geval het 76,8% van deeltydse werkers by kleinsake hul werk verloor. 53,8% van tydelike werkers het ook hul werk verloor.

In dié geval het 2 615 werkgeleenthede uit 3 470 verlore gegaan.

Voor die staat van inperking ingestel is, het 50,9% van kleinsake tydelike werkers in diens geneem. Teen die tyd dat vlak 1 van die inperking ingestel is, het net 23,7% van kleinsake tydelike werkers aangestel.

Wanneer dit by konsultante kom, het 33,6% van kleinsake voor die uitbreking van die pandemie dié spesialiste gebruik. Nou gebruik net 19,7% konsultante.

Geldsake

Die staat van inperking was nie noodwendig die rede hoekom baie kleinsake se geldsake beroerd was nie. Dit was wel vir baie ’n doodskoot, juis omdat hulle nie hul geld behoorlik bestuur het nie.

Swak bestuur van geldsake is ook ’n baie groot rede hoekom die meeste kleinsake geen finansiële hulp van óf die regering óf banke kon kry nie.

Die peiling wys dat net 28% van kleinsake se bestuursrekeninge was ten tyde van die uitbreking van die pandemie bygewerk.

Die gebrek aan dié bestuursrekeninge beteken nie net dat kleinsake nie ingeligte besluite kon neem gedurende die inperking nie, maar het hulle ook gekeer om finansiële hulp, veral in die vorm van lenings, te kry.

Baie van die kleinsake was ook nog voor die uitbreking van die pandemie reeds tot oor hul ore toe in die skuld.

Net sowat 34% van kleinsake het enige kontantreserwes gehad.

Van die wat wel kontantreserwes gehad het, het net 15,2% geglo dat dit hulle langer as ses maande in bedryf sou hou.

Die meeste (64,2%) het net genoeg kontant gehad om hulle vir tussen een en drie maande in bedryf te hou.

Kleinsake

Die meeste van die kleinsake wat wél die inperkingstorm oorleef het, was minstens drie jaar in bedryf, en het ’n inkomste van meer as R120 000 per jaar verdien.

47,9% van kleinsake wat aan die peiling deelgeneem het, het aansoek om finansiële hulp gedoen.

By verre die meeste (47,9%) het aansoek by die staat gedoen, gevolg deur banke (27,4%) en familie en vriende (13,6%).

’n Enorme 91% van aansoeke is egter van die hand gewys.

Kleinsake was veral gefrustreerd met leners, hetsy banke of die regering, wat geen terugvoering oor hul aansoeke gegee het nie.

Die grootste rede hoekom die regering aansoeke afgekeur het, is omdat die onderneming se inkomste glo nie genoeg was om vir die hulp te kwalifiseer nie (14%), of dat die onderneming nie gepaste finansiële state (10,6%) kon indien nie.

Banke het aansoeke om lenings afgekeur omdat die onderneming reeds ’n swak kredietgeskiedenis (35,3%) gehad het, of, net soos in die geval van die regeringsaansoeke, gepaste finansiële state (17,4%) nie ingedien is nie.

Uitdagings

Die grootste uitdagings waarmee kleinsake gedurende die inperking te kampe gehad het, was juis toegang tot finansiering (58,6%), gevolg deur ’n onvermoë om salarisse te betaal (49,5%) en ’n stryd om nuwe kliënte te werf terwyl die meeste werkers van die huis af gewerk het (46%).

Die meeste kleinsake was ook glad nie daarop voorbereid om sake aanlyn te doen nie. 58% van hulle het nooit enige teenwoordigheid op sosiale media gehad nie, en net 40% het vir digitale bemarking betaal.

Die meeste van die ondernemings het wel ’n blad op Facebook gehad, en net meer as die helfte het ’n webtuiste gehad.

Kleinsake moes ook leer om vinnig aanlyn vergaderings te hou. Voor die inperking het 58% van kleinsake nog nooit so vergader nie. Nou vergader 64,7% gereeld aanlyn.

Die goeie nuus is dat van die kleinsake wat die storm kon deurstaan, meen 76,6% dat hulle nog oor ’n jaar in bedryf sal wees.

Hulle meen wel dat hulle in die toekoms hulp nodig gaan hê oor hoe om hul onderneming uit te brei (64,7%) en hoe om hul produkte digitaal te bemark (47,1%).

Kleinsake

Kommentaar

Die DA se Jan de Villiers, woordvoerder oor kleinsake-ontwikkeling, sê in ’n verklaring dat die resultate van die peiling as waarskuwing moet dien oor hoe groot die effek van die inperking op kleinsake is.

“Eienaars van kleinsake en hul werknemers is die ruggraat van ’n sterk en welvarende ekonomie. Hulle vorm ’n belangrike deel van elke poging om ekonomiese herstel te bewerkstellig,” sê hy.

“Dit is dus noodsaaklik dat die regering tot elke prys strenger vlakke van inperking vermy. Die lewensbestaan ??en welstand van lede van die kleinsakegemeenskap moet en hoef nie in die stryd teen Covid-19 opgeoffer te word nie.”

Meer oor:  Da  |  Covid-19  |  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.