Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Superrykes word ryker – maar nie Donald Trump

In die geselskap van die superrykes is daar vanjaar ’n allemintige 660 nuwe lede – onder hulle die TV-werklikheidster Kim Kardashian West.

Kim Kardashian West haal vanjaar vir die eerste keer Forbes se lys van dollarmiljardêrs. Foto: Getty Images

 Forbes se 2021-lys van dollarmiljardêrs is dié week uitgereik. Dis die 35ste jaar dat Forbes die lys uitreik. Daarvolgens het die welvaart van dollarmiljardêrs, ten spyte van die impak van die Covid-19-pandemie op die wêreldekonomie, as groep toegeneem.

Sien grafika oor Suid-Afrikaners op die lys hieronder.

’n Allemintige 86% van die mense op die lys is nou (skat)ryker as verlede jaar.

As al die superrykes besluit om hul fortuin bymekaar te sit vir ’n loterytrekking, sal die boerpot ’n stewige $13 100 miljard wees – sowat $800 miljard meer as begin 2020.

Die miljardêrsklub bestaan uit ’n eksklusiewe 2 755 lede – minder as 0,00004% van die aarde se 7,9 miljard bewoners.

Maar al kan baie van die mense wat vanjaar die lys gehaal het, breed glimlag, is daar ’n paar, soos oudpres. Donald Trump van die VSA, wat nie so in hul noppies kan wees nie.

Trump het amper 300 plekke op die lys geval en sy rykdom van $2,4 miljard is amper ’n derde minder teenoor verlede jaar se $3,5 miljard. Hy is nou nr. 1 299 op die lys.

Jeff Bezos, stigter van Amazon, is vir die vierde agtereenvolgende jaar die rykste mens ter wêreld met $177 miljard se bates.

Oudpres. Donald Trump van die VSA. Foto: AP

Die gebore Suid-Afrikaner Elon Musk van Tesla-faam het die tweede plek gehaal toe hy Bill Gates van sy podiumposisie van verlede jaar geskop het. Musk se waarde staan op $151 miljard en is grootliks te danke aan Tesla se aandeelprys wat opgeskiet het.

Volgens Forbes het 493 mense van die 660 nuwes op die lys vir die eerste keer in hul lewe dollarmiljardêrs geword. Onder hulle tel 40-jarige Kim Kardashian West. Sy haal die lys vanjaar vir die eerste keer, hoewel net-net, op nr. 2 674 met haar fortuin van $1 miljard.

Interessante data toon dat 250 superrykes vanjaar weer hul pad na die lys gevind het nadat hulle vroeër jare daarop was, maar weggeval het.

Die VSA lewer weer vanjaar die meeste dollarmiljardêrs op (724) en China (Hongkong en Macao ingesluit), die tweede meeste (698).

China en Hongkong het die meeste nuwe lede (210).

  

2021 se 10 rykstes

1. Jeff Bezos (57), uitvoerende hoof van Amazon. Hy beplan om einde van die jaar uit te tree uit sy amp en uitvoerende voorsitter te word. $177 miljard ($113 miljard in 2020).

 2. Elon Musk (49) van Tesla. Hy is die eerste keer onder die top-10. $151 miljard teenoor 2020 se $24,6 miljard.

3. Bernard Arnault (72), voorsitter en uitvoerende hoof van LVMH (Moët Hennessy Louis Vuitton). Hy behou sy derde plek met $150 miljard.

4. Bill Gates (65), stigter van Microsoft. Sy waarde het vanaf $98 miljard in 2020 gegroei tot $124 miljard vanjaar.

5. Mark Zuckerberg (36), stigter van Facebook. $97 miljard, wat ’n allemintige $42,3 miljard meer is as 2020.

6. Warren Buffett (90), uitvoerende hoof van Berkshire Hathaway. $96 miljard teenoor $67,5 miljard verlede jaar.

7. Larry Ellison (76), medestiger van Oracle. $93 miljard.

8. Larry Page (48), medestigter van Google. Hy het in 2019 uitgetree as uitvoerende hoof van Alphabet, Google se moedermaatskappy, maar is steeds ’n aandeelhouer met ’n beherende belang en ’n direkteur. $91,5 miljard.

9. Sergey Brin (47) voormalige president van Alphabet. Hy het ook in 2019 uitgetree en bly soos Larry Page aandeelhouer met ’n beherende belang en direkteur. $89 miljard.

10. Mukesh Ambani (63), voorsitter van Reliance Industries. Die maatskappy het belange in onder meer olie, gas en telekommunikasie. $84,5 miljard.

    

5 Suid-Afrikaners op die lys

  • Nicky Oppenheimer (75), vanjaar nr. 308 op die lys, is steeds Suid-Afrika se rykste mens volgens Forbes. Hy was verlede jaar nr. 196 op die lys. $8 miljard.
  • Johann Rupert (70), voorsitter van Richemont, is vanjaar nr. 358 teenoor verlede jaar se nr. 375. $7,1 miljard.
  • Koos Bekker (68), voorsitter van Naspers, is nr. 1 008 en het geklim vanaf nr. 1 063 in 2020. $3 miljard.
  • Patrice Motsepe (59), stigter van African Rainbow Minerals, se rykdom het vanjaar geklim vanaf $1,4 miljard in 2020 tot $2,9 miljard. Hy het boonop vanjaar 449 plekke geklim tot op nr. 1 064.
  • Michiel le Roux (71), stigter van Capitec Bank, het vanjaar weer die lys gehaal nadat hy dit verlede jaar gemis het. Hy staan op nr. 2 524. $1,1 miljard.
Nicky Oppenheimer, volgens Forbes die rykste Suid-Afrikaner.

      

5 rykste vroue

  • Francoise Bettencourt Meyers is die rykste vrou ter wêreld. Sy is die kleindogter van die stigter van L’Oreal. Sy beklee nr. 12 op die algehele lys. $73,6 miljard.
  • Alice Walton is die enigste dogter van die stigter van Walmart, Sam Walton. $61,8 miljard.
  • MacKenzie Scott is die eksvrou van Jeff Bezos en ’n skrywer. $53 miljard.
  • Julia Koch en haar drie kinders het ’n 42%-belang in Koch Industries geërf van haar man, David, wat in Augustus 2019 oorlede is. $46,4 miljard.
  • Miriam Adelson is die weduwee van Sheldon Adelson, wat in Januarie op die ouderdom van 87 oorlede is. Hy was die uitvoerende hoof en voorsitter van Las Vegas Sands. Sy maak haar debuut op die lys. $38,2 miljard.

     

Oudste en jongste

Die oudste mens op die lys is George Joseph, stigter van Mercury Genera. Hy is 99 jaar oud en sy waarde is $2 miljard.

Die jongste superryke vanjaar is die 18-jarige Kevin David Lehmann, wat 50% van Duitsland se apteek-kettingwinkelgroep, dm (Drogerie Markt), besit. Hy beklee nr. 925 op die lys en dit is ook sy eerste keer wat hy die lys haal. Sy waarde vanjaar staan op $3,3 miljard.

k
Meer oor:  Forbes  |  Koos Bekker  |  Superrykes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.