Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Swart nyweraar open fabriek op Harrismith
Shakeel Meer, hoof van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie se afdeling vir chemiese en tekstielbedrywighede. Foto: Verskaf

Die Vrystaat se eerste swart vervaardiger van chemikalieë, Kevali Chemicals, het ’n fabriek by Harrismith geopen.

Die nuwe fabriek, wat werk vir 57 mense skep, is deur ’n belegging van R35 miljoen uit die departement van handel en nywerheid se program vir swart nyweraars gebou.

Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) het ook miljoene in die projek belê “omdat ons verstaan hoe noodsaaklik dit is dat swart nyweraars in die chemiese sektor betrokke raak,” sê Shakeel Meer, die NOK se afdelingshoof vir die chemiese en tekstielbedryf.

As deel van die transaksie het die NOK ook ’n werkerstrust geskep waaruit werknemers ’n belang in die onderneming kan kry.

Kevali Chemicals vervaardig chemikalieë vir watersuiwering, skoonmaak- en ontsmettingsmiddels asook gom wat omgewingsvriendelik is.

Die onderneming is luidens ’n verklaring wat ná die opening uitgereik is, deur vyf professionele lui gestig wat besef het dat hulle die regte vaardighede en ondervinding het om só ’n fabriek te bedryf.

“Ons het besef daar is geen noemenswaardige swart maatskappye wat in die chemiese sektor sake doen nie en ons het oplossings geskep wat dié gaping kon vul,”sê Funeka Khumalo, uitvoerende direkteur van Kevali Chemicals.

In die afgelope boekjaar het die NOK meer as R2 miljard se finansiering in die chemiese waardeketting verskaf waarvan die helfte na swart nyweraars gegaan het.

“Dit is noodsaaklik dat Suid-Afrika sy eie produksievermoëns in kernsektore ontwikkel en die NOK gaan voort om in streeksekonomieë te belê en swart nyweraars op te spoor en te help om hul ondernemings te laat groei,” sê Meer.

Op sy beurt het Bulelani Magwanishe, adjunkminister van handel en nywerheid, gesê die projek skep broodnodige werkgeleenthede in die gemeenskap van Tshiame, ’n township by Harrismith wat onder armoede en werkloosheid gebuk gaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.