
Cornelius van der Steenhoven met een van die gesigskerms wat Ruach 3D met 3D-tegnologie vervaardig.
Honderde vrywilligers het die afgelope agt weke hul 3D-drukkers gebruik om 3 000 gesigskerms vir hospitaalpersoneel en ander gesondheidswerkers te maak.
Die vrywilligers het onder leiding van Cornelius van der Steenhoven, ’n jong IT-entrepreneur van Pretoria, kragte saamgesnoer. Van der Steenhoven en sy vennote, Izak Adendorff en Romandi de Jongh, het Ruach 3D tot stand gebring – ’n organisasie sonder winsoogmerk. Volgens Van der Steenhoven is “ruach” die Hebreeuse woord vir “asem”.
“Toe ons einde Maart hiermee begin het, was ons vier mense,” het hy aan Rapport gesê. Nou is daar al 250 vrywilligers. Die gesigskerms word volgens streng standaarde gemaak en gratis verskaf aan hospitale, gesondheidswerkers en apteke in Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal.
Die vervaardigingsproses behels dat materiaal vir die masker volgens ’n patroon “neergelê” word. Dit word dan gesmelt om die gesigskerm te vorm.
Die apteekgroep Alpha Pharm borg Ruach 3D en behartig die verspreiding van die skerms. “Ons gaan laai die gesigskerms by die naaste Alpha Pharm-apteek af waar hulle die finale produk aanmekaarsit. Van daar word dit versprei,” sê Van der Steenhoven.
“Ons eerste prioriteit vir lewering is staatshospitale en apteke waar die grootste nood is.”
Hulle hoop om nog borge te vind.
Van der Steenhoven ry self elke dag honderde kilometer om met die aflewering te help. “My dag begin om 06:00 en dan is ek saans tot elfuur nog besig om skerms aanmekaar te sit.”
Van der Steenhoven het bygevoeg dis vir hom en die ander vrywilligers ’n gemeenskapstaak. “Ons almal het verskillende vlakke van vaardigheid, maar ons leer by mekaar.”
Ruach 3D beoog om mettertyd ook gesigmaskers en ander beskermende toerusting te vervaardig.