Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Te min vroue durf vervaardiging aan

Daar is enorme sakegeleenthede in die vervaardigingsbedryf, maar baie min vroue gryp dit aan, skryf Caiphus Kgosana. Die Industrial Development Corporation (IDC) het dié kwessie by sy Vroue in Vervaardiging-konferensie getakel. Geborg deur die IDC.

   

Lizeka Matshekga, hoof van die afdeling vir landbou-verwerking, infrastruktuur en nuwe nywerhede van die IDC.

Daar is enorme sakegeleenthede in die vervaardigingsbedryf, maar baie min vroue gryp dit aan, skryf Caiphus Kgosana. Die Industrial Development Corporation (IDC) het dié kwessie by sy Vroue in Vervaardiging-konferensie getakel.

Water, petrochemie, steenkool en landbou-verwerking.

Daar is groot vervaardigingsgeleenthede in dié sektore, maar baie min vroue – en selfs minder swart vroue-entrepreneurs – gryp dit aan, sê die Industrial Development Corporation (IDC).

Lizeka Matshekga, hoof van die afdeling vir landbou-verwerking, infrastruktuur en nuwe nywerhede van die IDC, het op die konferensie gesê hulle het die ontwikkeling ondersteun van ’n brandstoftenk in Saldanha, wat hoof­-saaklik deur swart vroue besit word. Dit is die enigste een in die land met sulke eienaarskap.

Sy het die kongresgangers aangemoedig om hulle in die vervaardigingsektor te begewe omdat daar so min vroue in dié sektor is.

Kry iemand wat jou help

Talle entrepreneurs moet alleen die pad stap om hul onderneming op die been te kry.

Daar is nie struktuur of senior bestuurders by wie hulle om raad kan aanklop nie, en die produk is dikwels nog onbekend. Die vraag is dan hoe die entrepreneur tot op die punt kom dat suksesvol om finansiering gevra kan word.

Dit is onder die kwessies wat geopper is by die IDC se Vroue in Vervaardiging-konferensie.

Donna Rachelson, hoof van die Women Development Bank Seed Fund (WDBSF), sê vroue-entrepreneurs moet uitstekende ondersteuning vir sakeontwikkeling kry om sukses te verseker.

“Ons het ook toegang tot markte en toegang tot finansiering nodig.”

Entrepreneurs het mentors en borge nodig om hulle te ondersteun totdat hulle sukses behaal. Volgens Rachelson maak vroue dikwels die fout om te dink dat hulle net geld nodig het om sukses te behaal.

“As ondernemings glo ons dikwels ons het geld nodig, maar jy het nie finansiering nodig nie. Jy benodig goeie bemarking, goeie netwerke en kontakte wat vir jou ’n mark bied. Jy benodig ook ’n fantastiese produk én klante wat in daardie produk glo.”

“Dit is sektore waaraan swart vroue weens ’n gebrek aan kapitaal nie deelneem nie, maar daar is groot geleenthede.

“Die private sektor is onder druk omdat die regering sektorale kodes verander het. Daarin lê geleenthede vir vroue-entrepreneurs,” sê Matshekga.

Op die IDC-konferensie oor vroue in die vervaardigingsektor, wat Woensdag in Sunninghill gehou is, is entrepreneurs, IDC-bestuurders, sakeleiers en ander belanghebbendes byeengebring om geleenthede te bespreek wat die IDC in dié sektor vir vroue kan ontsluit.

Dit is deel van ’n breër program vir swart bedryfsleiers wat in 2015 met R23 miljard van stapel gestuur is en wat veronderstel is om meer as 100 swart nyweraars in drie jaar te finansier en te ondersteun.

Die IDC wil só ’n aktiewe rol in die transformasie van die ekonomie speel.

Matshekga het vroue-entrepreneurs aangemoedig om ook ’n ondersteunende rol in die steenkoolsektor te speel.

Met Eskom se groeiende vraag na goeiegehaltesteenkool is daar byvoorbeeld geleenthede vir entrepreneurs om te belê in laboratoriums wat gehaltetoetse vir steenkoolmyne doen.

Sy sê die IDC het ’n soortgelyke steenkooltoetslaboratorium in Limpopo gefinansier en sou graag nog een wou ondersteun, verkieslik een wat deur swart vroue besit word.

Talle vroue-entrepreneurs het die afgelope week in Sunninghill in Sandton bymekaargekom vir die Industrial Development Corporation (IDC) se konferensie om vroue se betrokkenheid by die vervaardigingsektor ’n hupstoot te gee. Foto: Elizabeth Sejake

“Voordat Eskom enige steenkoolvoorraad opneem, moet hy weet wat die gehalte van daardie steenkool is. Hierdie soort laboratoriums is baie monopolisties en ons wil dit verander,” sê sy.

Die IDC het ook sakeondernemings in die landbouverwerkingsektor gefinansier en is veral aangemoedig deur een wat onmiddellik ’n mark vir sy produkte deur die kleinhandelreus Woolworths gekry het.

’n Belegging in ’n onderneming hoofsaaklik in vroue se besit en waarop die IDC baie trots is, is ’n mangaanmyn in Sishen in die Noord-Kaap.

Dit behoort aan Daphne Mashile-Nkosi en volgens Matshekga werk die IDC al twee dekades lank saam met haar. Dit het begin met ’n belegging van R10 miljoen en sal eindelik, as alles volgens plan verloop, een van die vyf grootste mangaanprodusente ter wêreld wees.

“Dit was ’n moeilike ervaring, maar die IDC het die pad saam met haar geloop.

“Ons het aan ander gewys dit kan gedoen word. Nou het die banke en ander ontwikkelingsfinansieringsinstellings haar begin ondersteun.”

Matshekga sê hulle kyk na die landelike ekonomie wat die potensiaal het om vir duisende werk te skep deur die verbouing en verwerking van kruie soos Moringa ovalifolia, wat inheems aan die Limpopo-streek is.

Busisiwe Mabuza, voorsitter van die IDC-direksie, sê ’n gemeenskaplike uitdaging wat hulle onder vroue- en jong entrepreneurs waarneem, is ’n gebrek aan toegang tot finansiering.

Talle vroue-entrepeneurs het vandeesweek in Sunninghill in Sandton bymekaargekom om vir die Industrial Development Corporation (IDC) se konferensie om vroue se betrokkenheid in die vervaardigingsektor ’n hupstoot te gee.Foto: Elizabeth Sejake

Mabuza sê die IDC het in die afgelope finansiële jaar transaksies ter waarde van R15 miljard goedgekeur en R11 miljard daarvan in die ekonomie uitbetaal.

Maar net R3,2 miljard van daardie geld het na ondernemings gegaan waarvan vroue 25% of meer besit.

Die IDC het ook R2,3 miljard bestee om ondernemings in die besit van jong mense te finansier.

“Hierdie syfer is beduidende meer as in die vorige jaar, maar ons kom van ’n lae basis. Onthou dat bestuur gemeet word aan waar ons voorheen was,” sê Mabuza.

Sy sê die direksie het syfers gevra van hoeveel bestee word aan ondernemings waarvan vroue meer as die helfte besit.

Sy het opgemerk dat die eerste vroue-entrepreneur wat die IDC in sy geskiedenis van meer as 70 jaar gefinansier het, die stigter van Ouma Rusks was. Sy het in 1940 ’n lening van R3 000 ontvang om wat nou ’n ikoniese handelsnaam oor die wêreld heen is, te stig.

Mabuza sê harde werk lê steeds voor vir instellings van ontwikkelingsfinansiering soos die IDC as die ekonomie genoeg getransformeer moet word om swart en vroue-entrepreneurs in die hoofstroom te bring.

“Ons personeel weet dat, ongeag hoe hard hulle werk, die ekonomie nog harder werk nodig het as ons ons ontwikkelingsmandaat wil uitvoer.

“Ons moet verseker dat die impak van ons werk duidelike en onderskeibare transformasie- en bemagtigingsdoelwitte insluit.”

Mabuza het vroue-entrepreneurs wat die konferensie bygewoon het aangemoedig om die instansie in die regte rigting te stuur as hulle voel die IDC doen nie genoeg om hulle te bemagtig nie.

“Bly by ons en help ons om julle te help. Moenie moed verloor nie, ons moet dit saam doen as ons die posisie wat ons as ’n land in die mededingendheidsgradering verloor het, wil herwin.”

Philiswe Mthethwa, hoof van die National Empowerment Fund. Foto: Elizabeth Sejake

Philisiwe Mthethwa, ’n lid van die IDC se direksie en uitvoerende hoof van die nasionale bemagtigingsfonds (NBF), sê hoewel sy besef dat die konferensie op vroue in die vervaardigingsektor fokus, vroue ook bewus gemaak moet word van geleenthede elders.

Mthethwa sê vroue moet ook kyk na geleenthede in infrastruktuurontwikkeling sodat hulle munt kan slaan uit die regering se belegging van miljarde rande in nuwe paaie, damme, brûe, spoorlyne, elektrisiteitsverbindings en ander projekte.

Sy het vroue-entrepreneurs ook aangemoedig om toetrede tot die kleinhandelsektor te oorweeg.

Dié sektor is verantwoordelik vir 7% van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk.

Mthethwa sê haar ondervinding in die NBF het haar geleer dat vroue-entrepreneurs hoogs gemotiveerd is en geneig is om ondanks talle uitdagings sukses te behaal.

“Ons het gevind dat vroue-entrepreneurs meer geneig is om hul ondernemings te laat slaag omdat hulle gefokus is. Hulle is gemotiveer en hulle volg hul drome.”

Beleggings in vroue-entrepreneurs maak vir finansiers sin omdat vroue baie versigtig met geld is en bekend is daarvoor dat hulle hul skuld baie vinnig afbetaal.

“Hulle betaal eintlik hul lenings met veel groter toewyding af. Hulle sal nie die geld wat ons aan hulle gee, gebruik om groot motors te koop of die geld mors nie. Hulle weet die geld is bedoel vir die bevordering van hul onderneming.

“Hulle is bekend daarvoor dat hulle hul lenings in ’n rekordtyd betaal,” sê sy.

  • Bel die IDC by 0860 693 888 of stuur ’n e-pos na callcentre@idc.co.za. Belangstellendes kan ook die IDC se hoofkantoor by Fredmanrylaan 19 in Sandton besoek.
Klerebedryf het vroue-entrepreneurs nodig

Vroue-entrepreneurs moet verder dink as net modeontwerp as hulle geleenthede in die klere- en tekstielbedryf wil benut.

Dit was die boodskap van Nicole Moonsamy, wat vir die IDC transaksies in dié bedrywe beklink, op die Vroue in Vervaardiging-konferensie.

Moonsamy sê die bedrywe bied ’n groot voordeel bo ander vervaardigingsondernemings omdat dit nie ’n massiewe kapitaaluitgawe of hoogs geskoolde werknemers nodig het om mee te begin nie.

“Ek werk in ’n sektor wat die vermoë het om iets te doen wat die meeste vervaardigers nie kan doen nie. Ek kan goedkoop werk skep,” sê sy.

Volgens haar is daar massiewe geleenthede wat vroue kan benut benewens klere ontwerp. Die IDC is gretig om sulke geleenthede uit te lig.

“Pryse word verwring deur kleinhandelaars wat onbillike pryspraktyke ingebring het, en daarom het die sektor ongewild geword.

“Niemand wil ’n kleremaker, ’n skoenmaker of ’n patroonmaker wees nie, maar dit is waar die geleenthede lê. Ons het geen tekstielvervaardigers nie,” sê sy.

Daar is groot aptyt om nuwe ondernemings op dié gebied te finansier en wat nodig is, is vroue-entrepreneurs met genoeg motivering om dit suksesvol te maak, sê Moonsamy.

“Wat ons nodig het, is dapper vroue-entrepreneurs, mense wat bereid is om hul passie te volg en die volgende stap te doen om die mens te wees wat hulle altyd wou wees.

“Die geleenthede is groot; die bereidwilligheid van finansiers is daar. Dit is maklik om in masjinerie te belê. Ons het net die mense nodig om in te belê.

“Belegging in klere en tekstiele maak sin omdat elkeen elke dag moet besluit wat om te dra. Die invoer van goedkoop tekstiele uit China en ander dele van die wêreld het die sektor verswak, maar daar is toenemende belangstelling in die vervaardiging van klere en ander materiaal hier in die land.

“Vroue-entrepreneurs moenie hierdie geleenthede misloop nie.”

Nog ’n gebied met die poten­siaal vir ondernemings in die besit van vroue is die onderdelesektor in die motorbedryf.

Honey Mamabolo, uitvoerende hoof van Thebe Unico – ’n 25 jaar oue maatskappy wat chemikalieë vir die motorbedryf vervaardig – sê sy verstaan dat hindernisse tot toetrede tot dié sektor soms erg is.

Sy raai vroue-entrepreneurs dus aan om dit eerder op ’n niekernvlak betree.

“Jy hoef nie met ’n maatskappy in die kernsake te begin nie. Jy kan dit doen deur ondersteuning en niekernsake. Jy kan leer oor die bedryf se waardeketting, jy is nader en kan verhoudings opbou. Jy kan ondersteun word deur die baie groot broer om jou onderneming te laat groei,” het sy gesê.

Mamabolo sê die chemiese bedryf word oorheers deur groot familieondernemings, wat beteken die tyd is reg vir toetrede deur swart vroue-entrepreneurs.

Maar as dít gaan gebeur, moet hulle hulp vra.

Hulle moet ook projekte voorstel wat finansiering werd is om dit vir finansiers makliker te maak om te besluit.

“As deure gesluit is, sal hulle slegs oopgemaak word vir diegene wat dapper genoeg is om te klop,” sê sy.

Meer oor:  Idc  |  Entrepreneurs  |  Vervaardiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.