Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Uber vir huishulpe: Minister se dogter het goudmyn

Toe Aisha Pandor en haar man, Alen Ribic, einde 2013 weke lank gesukkel het om ’n huiswerker te kry nadat hul vorige werknemer bedank het, het hul ongerief gelei tot ’n splinternuwe onderneming.

sweepsouth
Alen Ribic en Aisha Pandor, stigterslede van SweepSouth, ’n aanlyn diens waar mense huiswerkers kan huur. Foto: Edrea du Toit

“Dit was kort nadat Uber in Suid-Afrika begin het, en ek sê toe vir Alen ek wens ’n mens kon ’n huiswerker soos ’n Uber bestel,” sê Pandor.

Daar en dan is SweepSouth gebore, ’n aanlyn diens waar mense huiswerkers kan huur.

SweepSouth werk só: Jy laai die app op jou foon af, dui aan hoe lank en waarvoor jy die skoonmaker sal nodig hê, en siedaar, môre is die skoonmaker op jou voorstoep, klaar betaal.

’n Basisbedrag is R40 per uur, waarvan 80% (R32) vir die skoonmaker gaan en die res aan SweepSouth.

Dit beteken dat sou ’n skoonmaker agt ure ’n dag vir vyf dae ’n week werk, daardie persoon sowat R5 600 per maand kan verdien. Die nasionale minimum loon vereis dat ’n huiswerker maar R15 per uur kry.

SweepSouth het nou al 11 000 huiswerkers, oftewel SweepStars, in hul diens en die maatskappy het verlede jaar vir die eerste keer sedert sy ontstaan in 2014 die R100 miljoen-inkomstekerf verbygesteek. Meer as 50 000 bestellings per maand word op die app gedoen.

’n Huiswerker werk op die SweepSouth-toepassing in die SweepSouth-kantoor in Kaapstad. Foto: Edrea du Toit

Pandor, die dogter van Naledi Pandor, minister van hoër onderwys en opleiding, is nou uitvoerende hoof van SweepSouth. Sy was voorheen ’n bestuurskonsultant en Ribic was ’n sagteware-ingenieur. Hy is nou hoof van tegnologie by die onderneming.

Pandor sê alhoewel die besigheid steeds stewige groei toon, was dit nie altyd maanskyn en rose nie.

“Die maand toe ons begin het (Junie 2014), het ons net twee kliënte gehad, van wie ek een was,” sê Pandor. “Ons ander kliënt was ons bure, wat ons eintlik maar net jammer gekry het.”

Deesdae doen SweepSouth sake in Johannesburg, Kaapstad, Durban en Pretoria.

Vandeesmaand word die diens ook in Nelspruit bekend gestel, en hulle is besig om te kyk hoe die onderneming in die res van Afrika kan werk.

Hulle dink ook daaraan om ander dienste, soos loodgieters en elektrisiëns, by die diens te voeg.

Benewens al hul spaar en beskikbare pensioengeld, moes Ribic sy motor verkoop en het die paartjie van hul huis in Johannesburg ontslae geraak om die nagenoeg R2 miljoen bymekaar te maak om SweepSouth te begin.

Hul dogtertjie Ayla was een jaar oud toe hulle die onderneming begin het.

Aisha Pandor en Alen Ribic, stigterslede van SweepSouth, ’n aanlyn diens waar mense huiswerkers kan huur. Foto: Edrea du Toit

“My familie het kort-kort vir ons gesê ons is mal,” sê Pandor.

Hoewel die idee vir SweepSouth uit nood gebore is, het dit vinnig ’n liefdesaak vir Pandor geword toe sy agterkom hoe ondoeltreffend huiswerkers se arbeidstelsels is.

“Dit was toe nie meer net vir my ’n finansiële geleentheid nie, maar ook ’n geleentheid om verandering in ’n massiewe bedryf te skep.”

Volgens Pandor is daar meer as 1 miljoen huiswerkers landwyd en Statistieke Suid-Afrika raam die getal op 991 000. Meer as ’n tiende van hulle (150 000) se aansoeke lê by SweepSouth om SweepStars te word.

Pandor sê ’n studie onder hul werknemers het ook aangedui dat 90% van hul SweepStars kinders of afhanklikes het.

Huiswerkers in SweepSouth se kantoor in Kaapstad wat wag om deur die diens as ’n SweepStar aangestel te word.

Daarom bied SweepSouth nou deur ’n derde party ook lewensversekering en ongeskiktheidsdekking teen geen ekstra koste vir hul werknemers aan.

“Ons wil dit ook net duidelik maak, ons is nie hierdie mense se agentskap nie, en vir ons sal dit uiteindelik soveel meer kan beteken as hierdie skoonmakers ’n ander voltydse werk kan bekom,” sê Pandor.

Pandor waarsku ook dat om ’n tegnologies gedrewe besigheid in Suid-Afrika te begin, nie maklik is nie.

“Eerstens moet jy seker maak jou idee is innoverend; tweedens moet jy sielkundig gereed wees en derdens is dit van kernbelang om ’n mentor te kry wat jou hierdeur kan help en jou gefokus op die doel hou.

“Dis iets wat ons nie aan die begin gedoen het nie, en dan is daar tye wat ’n mens ongelooflik moedeloos word en al die werk net wil prysgee, terwyl mens eintlik net ’n bietjie perspektief kort.”

Meer oor:  Sweepsouth  |  Tegnologie  |  Huiswerkers  |  Entrepreneurs  |  Huishulp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.