Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Van die vloot tot omset van R2 miljoen
Mbali Sebapu, ’n voormalige vloot-lid wat haar eie grimeerreeks begin het.

Van skepe en radioseine tot grimeerkwassies.

Dit is die suksesverhaal van ’n voormalige baasseeman wat binne ’n jaar ’n lonende sakeonderneming opgebou het.

Mbali Sebapu (30), eienaar van Hermosa Flor Cosmetics, het in 2019 die bestendige vaarwater van ’n loopbaan in die Suid-Afrikaanse Vloot prysgegee om haar eie grimeerreeks te ontwikkel.

Dit het alles begin toe Sebapu soggens haar grimeer-roetine regstreeks oor Instagram uitgesaai het.

Sy het sowat 300 000 aanhangers daar en het voortdurend navrae gekry oor die soort lipstiffie of oogskadu wat sy gebruik en oor tegnieke om dit aan te wend. “Toe dink ek: Ek kan mos geld maak hieruit!”

Sebapu het in Junie verlede jaar ’n reuse-waagstuk geneem: Sy het haar pensioengeld, wat oor ’n tydperk van tien jaar in die vloot opgebou het, laat uitbetaal om Hermosa Flor te begin.

Die naam is Spaans vir “mooi blom”. Sebapu se voornaam beteken ook “blom” in Zoeloe.

Ná etlike maande se navorsing het Sebapu op 31 Oktober 2019 om middernag haar aanlyn winkel aktief gemaak.

“Teen eenuur die oggend (ná net ’n uur) het ek reeds R100 000 se grimering verkoop.”

Sebapu se Hermosa Flor-reeks bestaan uit lipstiffie, oogskadu- en kleurstiffie-palette, asook ’n verskeidenheid grimeerkwassies. Sy verkoop haar produkte aanlyn in Suid-Afrika en het ook verspreiders wat dit internasionaal namens haar verkoop.

Die soort grimering wat Mbali Sebapu se Hermosa Flor-reeks bied.
Die soort grimeerkwassies wat Mbali Sebapu se Hermosa Flor-reeks bied.
Die soort grimering wat in Mbali Sebapu se Hermosa Flor-reeks beskikbaar is.

In net een jaar het Hermosa Flor ’n omset van sowat R2 miljoen behaal. Sebapu sê sy was veral verras oor die volume van verkope gedurende die staat van inperking weens Covid-19.

“Dit het mal gegaan en verkope het met 60% toegeneem.

“Ek kon nie verstaan hoekom nie,” sê sy. “Mense gaan dan nêrens heen nie.”

Sebapu het uiteindelik besef dat vroue steeds wil grimeer om mooi te lyk en goed te voel oor hulself.

Vroue is ook meer gesteld op hul grimering noudat hulle vergaderings oor Zoom en Microsoft Teams bywoon.

Sebapu wil uiteindelik ook Hermosa Flor-winkels oopmaak.

“Ek wil nie my produkte in kettingwinkelgroepe verkoop nie, omdat die winkels ’n te groot persentasie van verkope vat,” sê sy.

“Ek wil hê mense moet in my winkel inloop en raad kry oor watter soort grimering by hulle sal pas en hoe om dit aan te wend. Die grimeerafdelings van winkels gee nie meer daardie soort persoonlike diens nie.”¦ Sebepu is een van ses kleinsakelui wat onlangs lugtyd en ’n gratis TV-advertensie gewen het op die DStv-kanaal Via.

Meer oor:  Vroue  |  Entrepreneurs  |  Grimering  |  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.