Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Van klasse tot konfyt, sy maak altyd ’n plan!

As Covid-19 jou nuwe onderneming platslaan nog voordat hy sy eerste tree gegee het, dan maak jy ’n plan. En nog een. En nog een.

Tydens die Covid-19-inperking het nood vir Karen du Plooy van Kaapstad leer kook. Klante landwyd smul nou aan haar konfyt en blatjang.

Dít het Karen du Plooy van Kaapstad geleer nadat sy in Februarie 2020 ná 17 jaar in die korporatiewe skoonheidsbedryf uit haar werk bedank het om haar eie onderneming te begin. Du Plooy het besluit om haar eie ding te doen nadat sy in 2019 meer as 200 onderhoude gehad het met kandidate vir ’n spesifieke pos, maar steeds nie die geskikte persoon kon vind nie.

“Ek wou jong mense help om werkgereed te wees,” vertel sy.

Sy het ’n program geskryf om vir gr. 10-, 11- en 12-leerlinge by skole aan te bied en gespaar vir die eerste maer maande van eie baas wees. Minder as ’n maand nadat sy bedank het, is die eerste inperking ingestel. Karen het dadelik die program aangepas vir aanlyn gebruik en dit op ’n paar kinders getoets. Die program het gewerk, maar baie ouers het hul werk verloor.

“As jy ’n kursus vir ’n klas kinders by ’n skool aanbied, kos dit omtrent R200 per kind. Met kleiner groepe styg die koste tot R800 per kind,” sê sy. Ál minder ouers kon dít bekostig.

Mettertyd het die skole weer begin open. Du Plooy het agtergekom baie van hulle worstel met ’n kontantkrisis omdat gewone geldinsamelingsprojekte in die pandemie-omgewing van die baan is.

Toe ontwikkel sy Air Hero. Dit is ’n lugverfrisser – ’n produk wat die meeste mense in elk geval koop – maar die etikette beeld ’n superheld uit wat die kind kan inkleur. Die gedagte is dat iemand wat die kind ken, dit koop en die skool kry ’n deel van die geld.

Daar was heelwat belangstelling in die produk, maar teen dié tyd was die eindeksamen op hande en Du Plooy het besef bestellings sou eers teen Februarie inkom.

“Intussen moet ek my familie voer!”

Sy het opgemerk talle mense bak brood om hul inkomste aan te vul. Wat is ’n broodjie sonder konfyt, sê sy toe vir haarself.

Toe begin sy, wat die kosmaak voorheen vir haar man, Johann, ’n sportjoernalis, gelos het, konfyt kook. Eers het sy gekook met wat sy in haar kas gehad het en toe eksperimenteer sy met blatjang uit groen papajas wat oor haar pad gekom het en ook tuisgemaakte jogurt. Eers het haar vriende dit gekoop en toe begin sy op Facebook adverteer.

Haar produkreeks is nou verfyn tot bloubessie- en perskekonfyt, asook brandrissieblatjang. Dit alles word gekook met chia-sade, pleks van pektien. “Chia-sade is ’n superkosvol proteïene, yster en omega. Dit het geen smaak nie, maar maak die produk dik en gee teks­tuur daaraan,” vertel sy.

Kort voor lank het die bestellings vir haar potjies lekkerte onder die naam Chia Confitures ingestroom en vriende, familie en selfs vreemdelinge het gehelp met die verspreiding tot so ver as Gauteng.

“Voor Kersfees het ek twee keer per dag gekook!” vertel sy. Dit alles met een groot kastrol en aanvanklik sonder ’n voedselverwerker. Dis geen grap om so ’n groot hoop vrugte met die hand te sny nie, sê sy.

Chia Confitures vervang nie haar korporatiewe salaris nie, maar “dit help om kos op die tafel te sit”. Boonop hou dit haar aan die gang en dit hou haar positief. Dis ook lekker om die positiewe terugvoering te kry van mense wat mal is oor haar konfyt en blatjang.

Karen en Johann se tienjarige seun help fluks en saam probeer hulle so die familiewa deur die drif trek. Dié swaarkry het haar laat besef hoe belangrik dit is om klein ondernemings te ondersteun. Elkeen kan ’n verskil maak deur by ’n klein ondernemer te koop, sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.