Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Van ’n koei as geskenk tot kase

Dit het alles begin met een melkkoei wat Marietjie Crowther in 2012 as verjaardaggeskenk gekry het.

Marietjie Crowther, mede-eienaar en kaasmaker van Noah’s Cheese in die Clarens-omgewing, op ’n besoek aan Italië waar sy en haar man en sakevennoot, Danie, van die wêreld se voorste kaasmakers ontmoet het.

Nadat almal – honde inkluis – op die Crowthers se plaas naby Clarens al die melk gebruik het wat hulle nodig gehad het, was daar nog so 20 liter per dag oor.

Sy moet kaas maak, het Marietjie besluit. Maar nie enige kaas nie, sy hou van ’n uitdaging en kies toe mozzarella, wat ’n sekere tegniese vaardigheid vereis, vertel haar man, Danie.

Die eerste probeerslae was nie juis ’n sukses nie.

“Soos krieketballe, man. Nie eens die honde wou dit eet nie, maar later het dit beter gegaan en van die kase is in restaurante in Clarens bedien.”

Dit was die begin van Noah’s Cheese – ’n naam wat gekies is om te pas by die berg Ararat op die plaas.

Noah’s Cheese se produkte is meestal te kry in spesialiteitsdeli’s wat kaas verkoop in Johannesburg en Bloemfontein. Dit sal binnekort ook plek-plek beskikbaar wees in KwaZulu-Natal.

Sedert 2012 het die onderneming só gegroei dat hulle nou 1 000 liter melk per dag kan verwerk en 18 kase in hul produk­reeks het. Daaronder tel gemarineerde stringkase, gerookte mozzarella en slaaikase (onder meer met grasuie en knoffel, komynsaad of brandrissies in).

In 2015 het twee van die kase pryse op die SA nasionale suiwelkampioenskapskompetisie in die pasta filata-kategorie gewen.

Met die onlangse finansiering van sowat R2 miljoen van die Industrial Development Corporation (IDC) se sake-eenheid vir landbou en landbouverwerking is ’n nuwe fabriek op die plaas ingerig. Dit is in ’n ou sandsteengebou wat eens as waenhuis gebruik is, maar in die Anglo-Boereoorlog in ’n brand beskadig is.

Die Crowthers is baie trots dat hulle die gebou, waarin die gebrande dakbalke nog te sien is, tot sy eertydse glorie kon herstel.

Die finansiering het verseker dat 11 werkgeleenthede geskep word, ’n ou klipkraal is omskep in ’n kaaswinkel en deli, en daar is ’n opelugrestaurant wat eersdaags sy deure open.

Koelkamers en ’n verouderingskamer is bygevoeg, wat dit nou vir die eerste keer vir Noah’s moontlik maak om verouderde kase te maak, vertel Danie, ’n sakeman in eie reg wat hom in 2015 voltyds by Noah’s Cheese aangesluit het.

Markte en feeste is ’n groot deel van Noah’s Cheese se bedrywighede. Benewens hul spesiale kase, verkoop hulle ook straatkos. ’n Gunsteling is die gehangde smeltkaas (hanging caciocavallo) wat bedien word op ’n panini met gepiekelde aspersies en kersieblatjang.

In die boekjaar tot einde Maart het die IDC R980 miljoen se lenings aan 25 landbou- en landbouverwerkingsondernemings toegestaan.

Die Crowthers was albei in die korporatiewe bedryf in Pretoria toe hulle die plaas in die Oos-Vrystaat in 2005 as ’n leefstylplaas gekoop het. Hulle het in 2006 daarheen verhuis, maar Danie het steeds gependel.

Deesdae is hy verantwoordelik vir die administrasie, infrastruktuur en bemarking van Noah’s Cheese, maar hy was maar sinies toe sy vrou in 2012 in die kombuis begin kaas maak het.

Sy het gou uitgevind mozzarella het nie ’n lang raklewe nie en sy kon nie met groot produsente meeding nie. Sy het oorgeslaan na scamorza, ’n soort gerookte Italiaanse mozzarella.

Toe kom die stringkaas, ’n gestrekte wrongel wat onder hoë temperature met die hand gevorm word. Stringkase is mozzarella wat in warm water gerek en daarna nog verder gerek word.

By Noah’s Cheese word dit gemarineer met brandrissies en kruie, met basiliekruid-pesto of dit word met appelhout gerook.

Mettertyd het ’n plaaslike brouery in Clarens die kase op hul kaasborde begin bedien en in 2014 het Danie van die produkte in Johannesburg begin bemark.

Die Cheese Gourmet in Linden, bekend vir ’n verskeidenheid kase wat hy verkoop, was een van die eerste deli’s wat Noah’s se produkte aangekoop het. Hulle is Danie en Marietjie se oudste kliënte.

Intussen moes Danie ’n groter kaaspot met ’n inhoudsvermoë van 120 liter teen R8 000 aankoop. ’n Rondawel op die plaas is toe ingerig vir die kaasmakery. Dié rondawel word nou vir bloukaas gebruik, want blou en wit kaas kan nie gemeng word nie, verduidelik Danie.

Die kliënte in Johannesburg en Clarens het stelselmatig meer geword en Danie het agtergekom sy “kredietkaart word ál minder gebruik”.

Dis toe dat hy ingestem het om voltyds by die onderneming betrokke te raak, vertel hy.

Hy het onmiddellik met ’n sakeplan begin om finansiering vir uitbreiding te bekom. Teen dié tyd het hulle al ’n kaaspot met ’n inhoudsvermoë van 250 liter aangeskaf, maar het dié inhoudsvermoë baie gou opgebruik.

Volgens Danie was dit duidelik hulle moes uitbrei as hulle meer produkte in die kleinhandel wou verkoop en voldoen aan die groot vraag na hul produkte op markte.

Die eerste groot hupstoot het gekom van die Small Enterprise Development Agency (Seda) wat Noah’s met R50 000 in bemarkingsmateriaal gehelp het. Deur die agentskap het hulle ook by die IDC uitgekom, sê Danie.

Die IDC-aansoek was nie ’n vinnige proses nie, want baie deeglike omsigtigheidsondersoeke word gedoen en dit vereis heelwat papierwerk.

Die idee vir ionia, wat in kersiepulp verouder, kom van die Italiaanse ubriaco, ’n Italiaanse kaas wat in die volksmond bekend staan as die “dronk kaas” omdat dit in prosecco-wyn geweek word saam met die druiwedoppe, -pitte en oorblyfsels uit die wynmaakproses.

Noudat die finansiering daar is, vind hulle ook baat by heelwat ondersteuning, sê Danie.

Vandag is markte en feeste, soos die Wildsfees in Kirkwood en die Vrystaatse Kunstefees in Bloemfontein ’n baie groot deel van Noah’s Cheese se teikenmark.

Ter voorbereiding pak hulle ’n verkoelde sleepwa met honderde kilogramme kaas waarvan hulle gemiddeld so 200 of 300 kg verkoop.

Danie en Marietjie is albei kosliefhebbers en deel van die wêreldwye Slow Food-beweging. Hulle verkoop dus ook straatkos met kaas as basis op feeste.

Jy lek sommer jou lippe af as jy hoor hoe beskryf Danie die kaasvarkie (haloumi gehul in spek op ’n stokkie), gehangde smeltkaas op ’n panini met gepiekelde aspersies en kersieblatjang, of ’n plat­anna – geskoei op ’n lekkerny uit Pole – waar ’n bolletjie kaas, gevul met nastergalkonfyt, deels gesmelt word.

Volgens Danie is Marietjie steeds die ster van die onderneming, die kreatiewe een en in beheer van produksie. Sy versamel baie idees op oorsese reise en feeste wat hulle al bygewoon het.

Maak dus gereed vir ’n nuwe kaas met die naam ionia, genoem na ’n kersieplaas in die omgewing waar kersielikeur gemaak word. Die pulp wat oorbly uit die likeurmakery sal gebruik word om kaas in te verouder.

Nog bedrywighede op die plaas is ’n varkboerdery waar vrylopende varke met wei gevoer word. Dit is die grondslag vir Noah’s Meats, sê Danie.

    

Kry só hulp by die IDC

  

Entrepreneurs met ’n deeglike sakeplan vir ’n volhoubare onderneming wat die potensiaal het om werkgeleenthede te skep, is die soort mense vir wie die Industrial Development Corporation (IDC) ’n waardevolle vennoot kan wees.

Dié ontwikkelingsfinansier het in die boekjaar tot einde Maart finansiering ter waarde van R16,7 miljard vir 202 transaksies goedgekeur.

Dit is 9% hoër as in 2017. Die totale uitbetalings vir die 2018-boekjaar was R15,4 miljard, wat 40% hoër was op ’n jaargrondslag.

Kontak die IDC só
  • Bel die IDC by 0860 693 888
  • Stuur ’n e-pos na callcentre@idc.co.za
  • Besoek die webblad by www.idc.co.za
  • Belangstellendes kan ook by die IDC se hoofkantoor by Fredmanrylaan 19 in Sandton (of een van hul streekkantore) aan­klop.

Die volle goedgekeurde bedrae word om redes soos transaksie-kansellasie of uitstel van projekte nie altyd in dieselfde jaar uitbetaal nie, het Geoffrey Qhena, uitvoerende hoof van die IDC, einde Julie met die bekendmaking van die finansiële resultate gesê.

Die minimum lening wat die IDC aan ondernemings toestaan, is R1 miljoen.

Daar is geen beperking op hoeveel ’n onderneming kan ontvang nie, maar as dit R1 miljard oorskry, sal finansieringsopsies in samewerking met ander finansiële instellings waarskynlik ondersoek word, sê David McGluwa, bedryfshoof by die IDC se hoofkantoor en ook vir die verskillende streke in die land.

In die afgelope boekjaar is R8 miljard se finansiering onder meer goedgekeur in die vervaardigingsektor, ’n belangrike sektor vir die IDC.

Die IDC finansier hoofsaaklik mediumgrootte ondernemings in verskeie sektore..

McGluwa is opgewonde oor die program waardeur die IDC en die departement van handel en nywerheid nuwe swart nyweraars help om hul ondernemings op die been te kry. Baie van dié nyweraars belê in belangrike ekonomiese sektore waar min swart sakelui voorheen betrokke was. In die finansiële jaar tot einde Maart is R7,9 miljard se finansiering aan swart nyweraars toegestaan.

Ondernemings waar vroue meer as 25% besit, het R2,2 miljard se finansiering ontvang, en ondernemings waarvan meer as 25% deur jeugdiges besit word, het R1 miljard ontvang.

McGluwa sê oor ’n tydperk van vyf jaar is R4,5 miljard se lenings toegestaan aan jeugdiges wat lewensvatbare entrepreneursondernemings begin het in sektore waarin die IDC lenings toestaan.

Hy sê as jy as entrepreneur ’n werkbare sakeplan het vir ’n onderneming met werklike potensiaal en ’n kans op sukses, is die eerste stap om finansieringshulp te kry reeds afgehandel.

Daarna doen die IDC ’n basiese beoordeling van die finansieringsaansoek om vas te stel of die onderneming ekonomies meriete het en op lang termyn sy lening aan die IDC sal kan terugbetaal.

Die vier sleutelaspekte wat oorweeg word, is:

  • Bestuurspan: Wie is die span aan die stuur van sake en wat is die onderskeie individue se agtergrond?
  • Markontleding: Hoe groot is die mark vir die produk of diens wat die onderneming lewer? Waar sal die onderneming se bestellings vandaan kom?
  • Tegniese aspekte: Hier kom bedryfskwessies ter sprake. As ’n vervaardiger finansiering vra, moet vasgestel word of die onderneming die regte toerusting het. Waar sal die grondstowwe en/of materiaal vandaan kom en wat is die vervaardigingsvermoë (met ander woorde wat is die volume wat geproduseer sal kan word)?
  • Finansiële model: Sal die onderneming ’n lening van die IDC kan terugbetaal? Sal die onderneming volhoubaar wees?

McGluwa sê die IDC het ook ’n program waardeur hy steun bied aan sy kliënte.

Dié steun behels advies en steun aan entrepreneurs voordat die leningsbedrag uitbetaal word en ook daarna om vas te stel of die kapitaalinspuiting die onderneming se lewensvatbaarheid waarborg en of bykomende hulp nodig is.

Dié dienste is ook beskikbaar by die IDC se streekskantore in die land se nege provinsies.

  • Dié artikel is deur die IDC geborg.
Stap vir stap hoe jy finansiering van die IDC bekom.

Meer oor:  Staatsondernemings  |  Kaas  |  Idc  |  Entrepreneurs  |  Finansiering  |  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.