Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Van vraghouer tot winkel of huis
John Saaiman (links) en Dirk Coetser, die twee argitekte van A4AC, wat deesdae al meer skeepsvraghouers herontwerp en omskakel in doelgemaakte koffiewinkels, klinieke of wooneenhede. Hulle het ook al mobiele banktakke en ’n skool ontwerp. Dit is veral geskik as iemand die eenheid later wil verskuif.Foto: ELIZABETH SEJAKE

As jy nie vooraf weet nie, sal jy die nuwe dagbesoeker-ingang wat by Skukuza in die Krugerwildtuin opgerig gaan word, beswaarlik as ’n tweedehandse skeepsvraghouer herken.

Die konstruksie is tekenend van die ontwerp- en struktuurvernuf van die jong span by die Johannesburgse argiteksfirma A4AC.

Die ingangshek, wat deel sal wees van die wildtuin-heining, is maar een van die maniere waarop die argitekte Dirk Coetser en John Saaiman, en hul span van tien werknemers, nuwe lewe blaas in afgeleefde skeepsvraghouers.

Tot dusver sluit hul vraghouer-projekte ’n skool in Malawi in, asook banke, slim ontwerpte wooneenhede en pikante koffiewinkels, sê Coetser.

Een van die interessantste projekte waar hy met ’n unieke ontwerp vir ’n vraghouer vorendag moes kom, was vir ’n groep bitcoin-myners wat al hul rekenaars daarin wou installeer en iewers op ’n plaas staanmaak.

Vroeg vanjaar open ’n mini-winkelsentrum met ses winkels van meer as 30 vraghouers van 12 m lank wat as ’n dubbelverdieping-struktuur in Germiston opgerig word. Die sentrum in ’n nywerheidsgebied is gemik op werkers wat nie naby winkels is nie.

Coetser en Saaiman het die firma in 2013 begin nadat hulle saam argitektuur aan die Universiteit van Johannesburg studeer het. “John is die praktiese een en doen die tegniese werk op die persele en sorg vir die implementering. Ek is die een wat meer van ontwerp en teken hou,” sê Coetser.

Hul eerste vraghouer-kliënt was van Amerika en wou vir ’n organisasie in Malawi ’n skool laat bou. Die skool – van vraghouers en ligte staal – is in Suid-Afrika ontwerp, alles is hier gemaak en toe in die vraghouers na Malawi vervoer en daar aanmekaargesit.

John Saaiman (links) en Dirk Coetser, die twee argitekte van A4AC, wat deesdae al hoe meer skeepsvraghouers herontwerp en omskakel in doelgemaakte koffiewinkels, klinieke en wooneenhede. Foto: ELIZABETH SEJAKE

FNB se “Bank in a Can”-oplossing vir banktakke wat maklik geskuif kan word en byvoorbeeld in ’n parkeerterrein staangemaak kan word, is ook ’n produk van A4AC, sê Coetser.

Volgens Coetser is die Suid-Afrikaanse mark baie konserwatief wanneer dit by geboue kom. Dis moeilik om nuwe en groen-idees aan Suid-Afrikaners te verkoop – deels ook omdat energiedoeltreffende boumetodes steeds duurder is as baksteengeboue.

Gehalte-afwerking stoot die koste op. Jy spaar wel tyd en dis ideaal vir moeilike bouterreine. Kleiner vraghouers kan binne vyf weke omgeskakel word, terwyl ’n groter projek soos ’n koffiewinkel ses tot agt weke kan duur. ’n Huis van vraghouers kan binne twee maande voltooi wees. ’n Groot voordeel is dat jy die struktuur op ’n vragmotor kan laai en skuif. ’n Leë 12 m-vraghouer kos sowat R36 000, maar een wat net een reis agter die rug het, kan dubbel soveel kos.

Die goedkoopste projek tot dusver was vir ’n onderneming wat ’n masjien wou huisves om koffiebone te rooster. Die vraghouer het ’n deur en uitlaatpyp vir die rooster nodig gehad en dit is vir minder as R50 000 gedoen (vraghouer ingesluit). Daarteenoor was die duurste ’n wooneenheid met luukse afwerking, sonpanele, ’n gas-geiser en ’n afdak vir temperatuurbeheer. Dié 6 m-vraghouer is teen R275 000 omgeskakel en kan ’n Airbnb wees.

A4AC help ook met munisipale goedkeuring vir strukture, en ’n nuwe afdeling help met finansiering.

Meer oor:  Fnb  |  Entrepreneurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.