Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Vennote stap slim pad saam

Die verhaal van hoe die ingenieursondernemings F&K Engineering en Hlakani Engineering – elk ’n onderneming in eie reg – se paaie gekruis het en wat uiteindelik daarop gevolg het, is voorwaar inspirerend.

  

Quereshini Naidoo sê haar sukses in die vennootskap met Gerhard Holtzhausen en Hermann Brummer is te danke aan die feit dat sy nie bereid was om enige weiering te aanvaar nie.

F&K, ’n huishoudelike naam in die ingenieursbedryf in die Middelburg- en groter Mpumalanga-omgewing, het oor ’n tydperk van 29 jaar ’n reputasie opgebou vir goeie vakkundigheid en dienslewering.

Hlakani is in 2009 deur die voormalige mediapersoonlikheid en nou entrepreneur Quereshini Nai­doo, en haar sakevennoot Gerhard Holtshauzen begin.

Dit was nie maklik nie. F&K het aan Hlakani kantoorruimte gebied om hul nuwe onderneming van die grond te kry. F&K wou nie enige huurgeld van Hlakani hê nie, net ’n bydrae tot ’n welsynsorganisasie van Frans Stapelberg, F&K-stigter, se keuse.

Sedertdien het die jong onderneming so vinnig gegroei dat toe Stapelberg en sy sakevennoot, Kevin Thring, besluit om halt te roep met hul onderneming, het hulle net een moontlike koper in gedagte gehad: Hlakani.

Die transaksie om F&K Engineering te bekom, is in Junie gefinaliseer en gefinansier deur die Industrial Development Corporation (IDC), wat nou ’n strategiese vennoot in die uitgebreide maatskappy is.

Ek moes aanhou vra, hulle uitput. Ek het gesê gee ons net iets kleins sodat ons kan bewys ons kan die werk doen.
Quereshini Nai­doo

Al die partye sê dit was van meet af aan ’n transaksie wat vir almal sin gemaak het, want die vaardighede in die twee maatskappye vul mekaar perfek aan.

Hlakani is ’n spesialis-sweisonderneming met kliënte soos Eskom, asook groot konstruksie-ondernemings en vervaardigers.

Op sy beurt is F&K betrokke in vervaardiging en masjinering en lewer ook dienste op verskeie mynpersele. F&K het ook ’n reeks gesofistikeerde masjinerie, waaronder een van net drie groot Mimax-vergruisingsmasjiene in die land.

’n Opgewonde Naidoo sê die resultaat van Hlakani se verkryging van F&K Engineering is ’n gedugte maatskappy wat gegroei het van net minder as 100 werknemers tot die huidige 390.

Onder die huidige arbeidsmag is 110 werknemers wat die gesogte Rooi Seël-kwalifikasie het. Dit beteken die werkers het behoorlike opleiding om ook in uitdagende omstandighede te werk.

“Ons kan volledige oplossings vir onmiddellike gebruik bied. Ons doen alles van begin tot einde en hoef nie enige diens aan subkontrakteurs oor te laat nie.”

Van links is Herman Bruemmer, Quereshini Naidoo en Gerhard Holtshauzen van Hlakani.

Volgens Naidoo was die IDC onmiddellik geïnteresseerd in Hlakani se transaksie om F&K oor te koop omdat dit betrokke is in een van die bedrywe waarop die IDC fokus. Boonop het die IDC reeds ’n goeie verhouding met Hlakani gehad nadat die korporasie reeds twee van die maatskappy se uitbreidings gefinansier het.

“Volhoubare nywerheidsontwikkeling en werkskepping is van kritieke belang vir ons. Die IDC se betrokkenheid verseker dat ons kan voortgaan en in staat is om aan die streng vereistes van ons nywerheidskliënte te voldoen.”

Die naam Hlakani is ’n slim sinspeling op die woorde “hlakaniphile” en “hlanganani”, wat die Zoeloe-woorde is vir onderskeidelik “slim” en “verenig”.

Naidoo erken sy het bitter min van ingenieurswese en die ingenieursbedryf geweet toe sy, Holtshauzen en Hermann Bruemmer ’n vennootskap aangegaan het.

Sy sê haar sukses met die onderneming is bloot omdat sy geweier het om nee as antwoord te aanvaar.

“Ek het 1 000 km per week van kragstasie na kragstasie afgelê op soek na besigheid. Ek is nie ’n ingenieur nie. Ek weet van bemarking, administrasie, menslike hulpbronne en kliëntbetrekkinge. Ek het net gefokus op wat ons wou doen, aan deure geklop en gesê: ‘Kyk, gee my net ’n kans.’

“Ek moes aanhou vra, hulle uitput. Ek het gesê gee ons net iets kleins sodat ons kan bewys ons kan die werk doen.”

Naidoo, wat ’n aanbieder van ’n Sondagoggend-program oor 702 was, gebruik die analogie van ’n video-opnemer om te verduidelik hoe die vennote se individuele sterkpunte tot voordeel van die onderneming werk.

Ek is nie ’n ingenieur nie. Ek weet van bemarking, administrasie, menslike hulpbronne en kliënt-betrekkinge.
Quereshini Nai­doo

“As jy vir Hermann ’n video-opnemer met ’n handleiding gee, maak hy die handleiding oop, sit vyf uur lank en lees dit van hoek tot kant deur en maak dit werk.

“Gee vir Gerhard dieselfde video-opnemer. Hy kyk na die handleiding, gooi dit weg, haal die hele ding uitmekaar en maak dit steeds werk.

“En ek: Ek bekyk die masjien, bekyk die handleiding, tel die telefoon op en sê: ‘Skattie, ek koop vir jou middagete. Kom wys my hoe die hele ding werk.’

“Dit is hoe ons is en hoe ons bymekaar pas.”

  • Ondernemings wat finansieringsopsies met die IDC wil bespreek, kan hulle bel by 0860 693 888, ’n e-pos na callcentre@idc.co.za stuur, of besoek www.idc.co.za. Belangstellendes kan ook by die hoofkantoor by Fredmanrylaan 19 in Sandton aanklop.
Meer oor:  Idc  |  Entrepreneurs  |  Vervaardiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.