Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Voet in deur vir sakelui
Jenny Retief, uitvoerende hoof van die Riversands Incubation Hub, en Tafadzwa Madavo, bedryfshoof. Inlas: Een van die vroue in die gedeelde tekstiel-werkruimte. Foto’s: ELIZABETH SEJAKE

As jy ’n onderneming bedryf wat luukse en sportmotors soos Porsche, Range Rover en BMW 5 blink poets, moet jy verkieslik die regte adres hê.

Vir die entrepreneur Vishal Nair, eienaar van Bigfoot Car Detailing, was dit ’n dilemma. Hy het sy onderneming, ’n spesialis-poetsdiens, begin as ’n mobiele saak, en toe hy wil uitbrei, was die geld te knap om ’n perseel te huur.

Sy uitkoms het gekom van die Riversands Incubation Hub in Fourways, ’n spesiale sone in die Riversands- kommersiële park vir ligte nywerhede.

Dit is ’n organisasie sonder winsoogmerk wat ondernemings met potensiaal vir groei toegang bied tot steundienste soos boekhouding en mensehulpbronbestuur, asook opleidingsgeleent­hede.

Jenny Retief, uitvoerende hoof van Riversands Incubation Hub, sê daar is geweldige hindernisse vir swart entrepreneurs wat vanaf ’n veilige en professionele adres wil werk.

By die Incubation Hub het entrepreneurs toegang tot persele van verskillende groottes volgens hul behoeftes en teen laer pryse met buigsame huurkontrakte.

Die huur vir ’n ligte nywerheidsperseel wissel tussen R2 900 en R11 600 per maand, afhangend van die grootte daarvan.

Die huur word jaarliks hersien en hou entrepreneurs dus nie gevange vir ’n vaste driejaartydperk nie.

Danksy dié ondersteuning kon Nair sy perseel uitbrei en agentskappe lok wat sy gespesialiseerde diens vir luukse voertuie gebruik het.

In Desember het die Daytona-groep, invoerders van Aston Martin, Rolls Royce en McClaren, Nair genooi om sy onderneming te verskuif na ’n nuwe handelaarsperseel in Melrose Arch.

Een van die vroue in die gedeelde tekstiel-werkruimte.

Nog ’n suksesverhaal is dié van die voertuig-elektrisiëns Sinkie Mashiane en Solomon Mashita se Mash Technologies.

Nadat hulle by Riversands ingetrek het, het hul mentor hulle voorgestel aan ’n kontak by Tracker, wat ’n installeringsentrum in die Johannesburgse middestad wou open.

Nou doen Mash Technologies sake in ’n perseel in Rissikstraat.

Die ontwikkelingstydperk vir entrepreneurs by Riversands is drie jaar. Die besettingsyfer is tans 95%.

Volgens Retief het die idee van ’n spesiale ontwikkelingsone gekom van Mark Corbett, uitvoerende hoof van Century-Eiendomsontwikkelings wat verantwoordelik is vir die Riversands-ontwikke­ling.

Retief was destyds betrokke by ’n opheffingsprojek, waarvan Century ’n borg was, om Diepsloot-leerlinge met wiskunde en wetenskap te help.

Sy sê ondanks die geweldige potensiaal onder leerlinge, het Diepsloot-inwoners min ekonomiese geleenthede in hul nabye omgewing.

Dit kos inwoners maklik twee of drie taxiritte om by hul werkplek te kom.

The Yard is ’n kleinhandelwinkel waar produkte en dienste van entrepreneurs binne Riversands uitgestal en te koop aangebied word. Produkte wissel van meubels, bagasie, klere, skoene, juwele, speelgoed en breekware om net ’n paar te noem. Die bestuur probeer met toergidse saamwerk sodat toerbusse hier aandoen om outentieke produkte teen billike pryse te koop. Die is ook oop vir die publiek.Foto: ELIZABEHT SEJAKE

Century het toe in 2015 ’n deel van die grond in die kommersiële park opsy gesit vir klein ondernemings.

Retief sê die huurders kom van ’n groot gebied.

“Ons bied nie ’n soort maatskaplike saketoelaag nie. As jy nie hard werk of jou deel doen nie, sal ons ons belegging onttrek.

“Ons maak seker die entrepreneurs is gereed vir die werklikheid van die sakewêreld. Hulle leer byvoorbeeld oor kontantvloei en hoe om probleme daarmee te bestuur, oor beter bemarking en verkope, kontrakte, asook leierskap en strategie.”

Die huurders sluit in IT-diensverskaffers, ’n bakkery, kleinskaalse groenteboere, vervaardigers van televisieprogramme en ’n verspreider van ultraklank-masjiene.

Jenny Retief, uitvoerende hoof van die Riversands Incubation Hub, en Vishal Nair, eienaar van Big Foot Car Detailling, wat soveel gegroei het in sy tyd by Riversands dat hy nou na Melrose Arch verhuis as deel van ’n luukse handelaar. Foto:

Die gedeelde werkruimte vir tekstielwerkers het die afgelope drie jaar meer as 300 vroue bemagtig. Die sentrum het verskeie industriële naaimasjiene. Die vroue gebruik materiaal van ou reklameborde vir die binnekant van artikels soos skool-, skootrekenaar- en drasakke. Die buitekant is meestal van shweshwe.

Baie van die sakke is vir korporatiewe kliënte, maar die vroue maak ook hul eie produkte wat hulle self vir bykomende inkomste verkoop.

Die shweshwe-materiaal word in grootmaat aangekoop en die vroue koop net wat hulle gebruik. Van hulle huur die masjiene net sekere dae. Ander spaar en het al hul eie masjiene gekoop, sê Anne Vincente, hoof van openbare betrekkinge by Riversands Incubation Hub.

Volgens haar is daar ’n vrou wat met haar inkomste 11 afhanklikes én haar ouers onderhou.

Sedert dié projek begin het, is al 40 ton afvalplastiek gebruik en sowat R1,5 miljoen se produkte verkoop.

Retief sê in die afgelope twee en ’n half jaar het die verskillende ondernemings in die sone al sowat R200 miljoen aan salarisse betaal.

Van die kriteria vir toelating is dat ’n onderneming tot ekonomiese groei moet bydra en inklusief moet wees.

Die gehalte van dienste en produkte moet kan meeding met produkte uit lande soos Brasilië of Indië.

Meer oor:  Sakelui  |  Entrepreneurs  |  Beroepe  |  Entrepreneurskap  |  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.