Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Vrou maak lewe uit groente in ‘viswater’

Die bedryfspan van ’n nuwe akwakultuur-plaas in die Vaaldriehoek het by Gautengse hotelle en restaurante gaan hoor watter slaai en garnering hulle graag gebruik voordat hulle hul boerdery begin het.

Unathi Sihlahla, direkteur van Inmed SA, stap in die kweekhuis waarin blaarslaai, wilde roket en basiliekruid in gruisbeddings gekweek word.Foto: Deon Raath

By dié maatskaplike landbouprojek, onder leiding van die humanitêre ontwikkelingsorganisasie Inmed Suid-Afrika, gaan mense geleer word hoe om hul eie akwaponika-boerderye te bedryf.

“Jy kan akwaponika op enige plek doen, of dit nou in Bapsfontein of Pofadder is,” sê Janet Ogilvie, Inmed SA se bedryfsbestuurder, aan Rapport. Geen gespesialiseerde toerusting is nodig nie, net basiese boumateriaal en ’n waterpomp wat jy enige plek kan koop.

Daar is reeds so ’n projek by Pella in die dorre Noord-Kaap wat ’n inkomste vir ’n groep vroue inbring. Hulle gee ook groente vir hongeres en lê ekstra groente in.

Die Instituut vir Internasionale Medisyne (Inmed) bedryf onder meer klimaatslim-landbouprojekte en programme vir kinders se gesondheid en voeding in sowat 100 lande.

Inmed se Suid-Afrikaanse filiaal, wat in 2006 gestig is, het in November verlede jaar ’n 15 ha-plaas by ’n skool in Vanderbijlpark begin huur en ’n akwakultuur-stelsel daar ingerig.

Mooi, jong blaarslaai-, wilde roket- en basiliekruid-plantjies staan fier in hul beddings van gruisklippies.

Vir die eerste stelsel is sowat 500 manlike tilapia-vissies (ook bekend as kurpers) in elk van die vier vistenks in ’n plastiek-kweekhuis gesit. Manlike visse groei vinniger as vroulikes. Sodra hulle minstens 500 gram weeg, word hulle verkoop en vervang met klein vissies.

Die visse, wat kommersiële viskos gevoer word, stel ammoniak (’n gas) vry. Die ammoniakryke water word na die kweekhuis langsaan gepomp en deur PVC-pype in die plantbeddings gedrup.

Sowat 500 tilapia-mannetjies is in elke vistenk.
Sowat 500 tilapia-mannetjies is in elke vistenk vanwaar water na die groentebeddings gepomp word.Foto: Deon Raath
Een van die vier vistenks in die akwaponiese stelsel.Foto: Deon Raath

Die plante trek die ammoniak uit die water, waarna die water na die visse teruggepomp word.

Gruis word as groeimedium vir die plante gebruik omdat grond die pompstelsel sal verstop, sê Ogilvie.

Net 10% van die water word weekliks met vars water aangevul weens verdamping.

Die saailinge wat in die gruisbeddings geplant word, word van saad in ’n ander kweekhuis gekweek.

Die sowat 300 plante in elke gruisbedding word ná ses weke geoes en lewer na verwagting ’n inkomste van sowat R3 000 per oes.

Volgens Unathi Sihlahla, programdirekteur van Inmed SA, het hulle reeds potensiële kopers in die hotel- en restaurantbedryf.

In nog ’n kamer word fyn groengoed (microgreens) vir die garnering van kos in panne gekweek. Die saadjies van mosterd, radys en beet ontkiem in ’n groeimedium van fyngemaakte kokosneutdop.

Verskeie soorte fyn groengoed (microgreens) word in ’n kamer in laaie gekweek om aan hotelle en restaurante te voorsien.Foto: Deon Raath
Verskeie soorte fyn groengoed word in ’n kamer in panne gekweek.
Een van die vier vistenks in die akwaponiese stelsel.Foto: Deon Raath
Die water loop in PVC-pype van die vistenks na die groentebeddings. Foto: Deon Raath
Unathi Sihlahla, direkteur van Inmed SA, stap in die kweekhuis waarin blaarslaai, wilde roket en basiliekruid in gruisbeddings gekweek word.Foto: Deon Raath
Kara Mashava, die plaasbestuurder, by die vistenks in die akwaponiese stelsel. Hy het ‘n honneursgraad in agronomie.Foto: Deon Raath
Unathi Sihlahla, direkteur van Inmed SA, trek ‘n jong plant uit die gruisbedding. Foto: Deon Raath

Die kamer word met ligte verwarm en die lug word gereguleer deur waaiers en ’n toestel wat die lug uitdroog. Elke twee weke is dit oestyd.

Volgens Sihlahla is daar ’n casino in Gauteng wat R350/kg vir sulke garnering betaal.

Uiteindelik wil hulle 7 ton vis per jaar aan gemeenskappe en restaurante lewer. Hulle hoop om duisende mense in die volgende ses jaar in akwakultuur op te lei, sê hy.

“Weens klimaatsverandering het akwakultuur noodsaaklik geword omdat dit water bespaar. Dis ’n eenvoudige landboumetode en nie juis arbeidsintensief nie.”

Hy sê toe Inmed in 2017 ’n groep vroue by Pella met hul projek begin help het, het ’n hooggeplaaste van die dorp gesê: “Daar moet iets verkeerd met julle wees.”

Aanvanklik het die vrou sowat R500 per jaar gemaak. Nou is dit al ’n paar duisend rand, sê Sihla­hla.

Meer oor:  Boerdery  |  Visserye  |  Landbou  |  Groente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.