Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Waarom Christo Wiese nie ’n politikus moes word nie

Op Woensdagaand se boekbekendstelling van Christo Wiese: Risiko en rykdom in Somerset-Wes vra ek vir TJ Strydom, die skrywer, hoekom Wiese nie ’n politikus geword het nie.

Johan Fourie

As jy die biografie ophou lees ná die hoofstuk wat handel oor Wiese se universiteitsjare, sou jy maklik kon glo dat hierdie boek die begin is van ’n storie oor ’n politikus eerder as dié van ’n entrepre­neur wat later ’n geweldige sakeryk sou bou.

Was sy politieke betrokkenheid vanweë universiteite wat meer “politieke” as “entrepreneuriese” geleenthede vir studente skep, of het dit iets te doen met die jeugdige passie van studente? Ek het immers ’n professor gehad wat altyd gesê het: As jy nie ’n sosialis is as jy 20 is nie, het jy nie ’n hart nie, en as jy nie ’n kapitalis is as jy 30 is nie, het jy nie ’n brein nie.

Strydom antwoord dat albei redes moontlik waar is, maar dat daar dalk ’n derde rede is. Wiese het al die eienskappe wat hom ’n fantastiese politikus sou maak, sê Strydom. Hy is sjarmant, skerp en het ’n selfvertroue wat aantreklik is. Sy skoonpa was self ’n politikus – en hy is van vroeg af daarin touwys gemaak. Hy kan ook ys aan ’n Eskimo verkoop – altyd goed as jy wil stemme werf.

Hy kan ook ys aan ’n Eskimo verkoop – altyd goed as jy wil stemme werf.

Maar al hierdie goed sou later deurslaggewend wees in die opbou van sy kapitaalkoninkryk. Nee, seg Strydom, Wiese se politieke loopbaan is gekniehalter deur twee goed: sy eie politiek, en later sy land se politiek.

Sy sieninge was te liberaal vir die 1970’s, en teen die laat 1980’s het die politieke winde só begin waai dat daar maar min ruimte vir ’n jong Afrikaanssprekende was om sy pad tot bo te maak.

Lees ook: Wiese verklap Jooste se groot plan met PSG, Capitec

En boonop was daar geld om te maak; die alternatiewe was lonend.

Wiese se storie is nie uniek nie. Met die koms van die demokratiese bestel is ’n veilige, goedbetaalde loopbaan in die staatsdiens vir baie wit Afrikaanssprekendes van die tafel gehaal. Swart ekonomiese bemagtiging dwing meer wit Suid-Afrikaners om geleenthede in die private sektor op te soek.

Dis dan ook wat hulle doen, en baie maak ’n groot sukses daarvan, met Wiese aan die voorpunt.

Risiko & Rykdom is ’n biografie van Christo Wiese deur T.J. Strydom, uitgegee deur Tafelberg.

Mense vergeet dat die meeste van vandag se welgestelde Afrikaanssprekendes hul geweldige rykdom ná die koms van demokrasie opgebou het. Dink maar aan die groei van nuwe maatskappye soos PSG, Shoprite en Atterbury.

En baie van die maatskappye wat in die 20ste eeu vir die bevordering van Afrikanerbelange gestig is, soos Naspers en Sanlam, sou eers werklik groei toon ná 1994 namate hulle nuwe binnelandse en buitelandse markte betree het.

Die opkoms van Capitec as die bankier van die massas is die beste voorbeeld van hierdie postapartheid-Afrikaner-entrepreneurskap. Wiese sou self hierdie visie deel in die 1990’s, maar sy pogings met Boland Bank, soos Stry­dom in sy boek vertel, sou skipbreuk ly. Dit was egter sy Boland Bank-bestuurspan wat in die vroeë 2000’s munt uit hierdie visie slaan, nou met PSG se ondersteuning.

Vandag het Capitec meer as 10 miljoen kliënte en groei steeds: In Januarie en Februarie vanjaar het reeds meer as 500 000 nuwe kliënte aangesluit.

Vroeër die week het die bankombud Capitec aanwys as die Suid-Afrikaanse bank waaroor die minste gekla word.

Sou die staatsdiens en die politiek, soos gedurende die 20ste eeu, vir hierdie Afrikaanssprekendes ’n opsie wees, sou baie van hulle waarskynlik die veilige opsie gekies het. Hulle sou ’n goeie possie en goeie salaris en goeie lewe gehad het. Maar hulle sou nooit die risiko’s geneem het waarmee hulle uiteindelik ’n fortuin sou bou nie.

Dit hou waardevolle lesse ook vir die huidige bestel in. Regstellende aksie in die staatsdiens – veral sedert 2009, toe Zuma die kabinet en staat se personeelkorps beduidend vergroot het (as teenvoeter vir die resessie ná die wêreldwye ekonomiese krisis die vorige jaar) – maak nie net die staatskas onvolhoubaar nie, dit trek ook geskoolde mense weg van die produktiewe private sektor.

Meer nog, maak die staatsdiens aantreklik vir ’n klomp entrepreneurs (met swak instellings van toesig) en jy kry presies wat jy sal verwag: tenderpreneurs. Dit sou sinvoller vir hierdie kaders wees om eerder hulvaardighede om transaksies te beklink in die private sektor te kon toets, waar sukses nie net welvaart vir die individu beteken nie, maar ook vir die land.

Ons nuwe president sal binnekort ’n kans hê om die volgende geslag (swart) entrepreneurs se lot te bepaal. Óf hy probeer vir hulle plek vind in ’n staatsdiens wat hulle net sal frustreer óf hy verminder die poste in die staatsektor en dwing ’n nuwe generasie van sakeleiers – die volgende Christo Wieses – om kanse te waag en welvaart te skep.

  • Johan Fourie is medeprofessor in die ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.