Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Waterkrisis: Die geheim lê in jou toilet
Die Arumloo, ’n innovering van Isidima Design and Development, is ’n konseptoilet wat net 2 liter water gebruik om mee te spoel. Foto: Facebook

Die geheim lê in jou toilet.

Dis ’n gebied wat te min beleggings lok, maar dr. Valerie Naidoo, bestuurder vir innovasie en watertegnologie by die Waternavorsingskommissie, glo ’n algehele verandering is nodig in die manier waarop riolering hanteer word.

Dit kan ’n ontwrigtende tegnologiedeurbraak word as nuwe maniere gevind kan word om van rioolvuil ontslae te raak, het Naidoo gesê op ’n gesprek oor die waterkrisis wat die Kaapse sakeleiersorganisasie Accelerate Cape Town saam met British American Tobacco gereël het.

“Tot 30% van ons water word gemors om rioolvuil weg te spoel. ’n Algehele verandering is nodig in die manier waarop ons sanitasie hanteer.”

Deur onder meer ontbranding, kompostering, chemiese prosesse, droging, sonbehandeling of pirolise (ontbinding deur hitte) kan rioolvuil omskep word in iets wat herbenut kan word.

Mense trek dalk hul neus op om gesuiwerde rioolwater te drink, maar Beaufort-Wes en Namibië hergebruik hul rioolwater suksesvol, sê Naidoo.

“Dit gaan oor maatskaplike persepsies. Mense moet die instellings wat die water suiwer 100% kan vertrou dat die watergehalte reg is. Daarom moet sulke instellings goed bestuur word. Ons het die ingenieurs in Suid-Afrika wat dit kan doen.”

Kaapse waterfeite
  • As al Kaapstad se waterpype in ’n reguit lyn gepak word, sal dit tot by Melbourne, Australië strek.
  • As al die rioolpype van Kaapstad in ’n reguit lyn gepak word, sal dit Boekarest in Roemenië haal.
  • Tot 821 werkers werk daagliks daaraan om lekplekke reg te maak en meer as 800 versoeke word daagliks oor lekplekke ontvang.
  • Huishoudings is die grootste watergebruikers in Kaapstad en gebruik 70% van alle water, gevolg deur winkels en kantore met 11% en nywerhede met 3,9%. Die res word deur die munisipaliteit en ander gebruikers soos parke en gholfbane gebruik.

Nie baie beleggers wil egter in hierdie soort navorsing belê nie en die Waternavorsingskommissie bekyk nou die moontlikheid van ’n skarefinansieringsmodel. ’n Vennootskap saam met die departement van wetenskap en tegnologie en die private sektor word beoog om die innovering waarmee vorendag gekom word ’n werklikheid te maak, sê Naidoo.

Toilette is oorspronklik ontwerp om mooi te lyk in jou badkamer, maar nie vir funksionele of doeltreffende watergebruik nie. Van die tegnologie waarna gekyk word, is die Arumloo-toilet wat net 2 liter water benodig om ’n toilet mee te spoel.

Daar is talle geleenthede waar die sakesektor betrokke kan raak om water doeltreffender te gebruik, sê Naidoo.

Stormwater moet opgevang word

’n Paradigmaskuif is nodig oor hoe daar oor water gedink word. Tradisioneel is die watersiklus as ’n liniêre vloei gesien waar water van opvangsgebiede na damme vloei en dan via pypleidings na reservoirs en gebruikers, daarna na suiweringsaanlegte en van daar af na die see of riviere.

Stede moet egter hulself as nuwe opvanggebiede beskou. “Baie stede is nog vasgevang in ’n 1970’s-mentaliteit waar betonkanale gebou is om stormwater weg te kry uit die stad, maar nou sal hulle soveel as moontlik van die stormwater eerder moet opvang vir gebruik.”

Sarah Rushmere, energie-en-waterdoeltreffendheidstrateeg van die Kaapstad-metro, sê Melbourne in Australië en Singapoer is voorbeelde van stede wat “wonderlike goed doen om stormwater op te vang”.

Rushmere waarsku dat die eenheidskoste van water gaan styg. Die vraag na water in die Wes-Kaap gaan steeds styg, met groeiende mededinging vir waterbronne van boere wat wil uitbrei en mense wat in die Kaap wil kom woon.

Sy waarsku ook dat sakeondernemings hulle moet voorberei op die moontlike onderbreking van watervoorsiening oor die volgende twee jaar. Beurtwater is die laaste uitweg, maar waterdruk kan verlaag word en ondernemings moet langtermynveerkragtigheid inbou.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Kaapstad  |  Waterbeperkings  |  Toilette  |  Waterbesparing  |  Droogte  |  Water
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.