Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Wêreld nóg 5 m. dollar-miljoenêrs ryker

2020 het baie gesinne armer gemaak, maar wêreldwyd was daar juis mense wat ryk geword het danksy die pandemie.

Daar kan teen 2025 reeds 84 miljoen dollar-miljoenêrs in die wêreld wees. Foto: Unsplash

Aan die einde van 2020 was daar 56,1 miljoen individue wêreldwyd met meer as $1 miljoen se bates. Meer as 5 miljoen van dié rykes het die status vir die eerste keer verwerf.

Credit Suisse se welvaartverslag vir 2021 wys egter ook dat armes in 2020 net armer geword het.

Die verslag het die welvaart van 5,2 miljard huishoudings wêreldwyd bestudeer.

António Horta-Osório, voorsitter van Credit Suisse se direksie, skryf hulle het vanjaar besluit om ook na ’n post-pandemie-wêreld te kyk.

Die verslag het bevind baie van die rykes se welvaartskepping verlede jaar kon plaasvind omdat dit in borrels kon groei wat losgestaan het van die ekonomiese ellende wat die pandemie veroorsaak het.

En daarom, ten spyte van die koronaviruspandemie, het meer as 1% (5,2 miljoen) volwassenes dit reggekry om verlede jaar vir die eerste keer miljoenêrs te word.

Die getal ultra-ryk individue – mense met bates van meer as $30 miljoen – het met 24% gegroei. Dis die skerpste stygings sedert 2003.

Op ’n globale vlak het welvaart met 7,4% gegroei en die welvaart per volwassene het nog ’n rekordhoogte bereik van $79 952. Die gemiddelde weerspieël egter nie naastenby die harde werklikheid van welvaart-ongelykhede nie.

Die lande wat die ergste deur die Covid-19-pandemie geraak is, het baie swakker gevaar.

Hoe SA gevaar het

Suid-Afrika val in die groep van lande met groot bevolkings en waar volwassenes se gemiddelde welvaart tussen $5 000 en $25 000 is.

Ander lande in dieselfde groep sluit Indië, Iran, Indonesië en die Filippyne in.

Nigerië en Suid-Afrika het volgens die ondersoekers baie verskillende ervarings gehad wat betref die impak van die pandemie.

Suid-Afrika het een van die ergste vlae in die wêreld beleef wat tot aan die begin van 2021 geduur het, terwyl Nigerië baie minder gevalle van Covid-19-infeksies aangemeld het.

Albei lande het egter aansienlike ekonomiese gevolge beleef, hoewel dit vir Suid-Afrika baie erger was.

In die eerste helfte van 2020 het Nigerië se bruto binnelandse produk (BBP) met 7,5% geval terwyl Suid-Afrika s’n met 17% geval het.

Die BBP vir albei lande het egter in die tweede helfte van 2020 weer gestyg.

k

Nigerië se uiteindelike BBP vir 2020 het met 1,9% gedaal gemeet aan 2019 en Suid-Afrika s’n het met 7% ingekrimp teenoor 2019.

Die werkloosheidskoers in Suid-Afrika het vanaf 28,7% in 2019 gegroei tot 29,2% in 2020, maar daar word verwag dat dié persentasie veel hoër gaan wees in 2021. Die verwagte 34,8% vir 2021 sal die erge impak van die tweede vlaag van Covid-19 in die land en die gepaardgaande onderbrekings in ekonomiese bedrywighede weerspieël.

Die gemiddelde welvaart per volwasse Suid-Afrikaner het uiteindelik op $20 308 teen die einde van 2020 gestaan.

Nigerië se welvaart per volwassene vir 2020 is $6 451.

Suid-Afrika is dus volgens die verslag die uitskieter van Afrika. Die gemiddeld vir die hele Afrika is $7 371 per volwassene.

k

Maar dinge is ook aan die verander, want in 2007 was die ooreenstemmende gemiddeld vir die twee lande $1 953 vir Nigerië en $25 185 vir Suid-Afrika.

Dus was die welvaart destyds van ’n volwasse Suid-Afrikaner 13 keer meer as in Nigerië.

In 2020 is dit slegs ongeveer drie keer meer.

Só help die pandemie rykes om ryker te word

Soos aandeelmarkte begin herstel het, veral in die tweede kwartaal van 2020, het mense met finansiële bates begin voordeel trek.

Huispryse het ook in sommige lande die hoogte ingeskiet en diegene met eiendom se welvaart opgestoot.

Laer rentekoerse is in baie lande ingestel en verskeie regerings het ondersteuningsprogramme bekend gestel in ’n poging om die impak van die pandemie teen te werk.

In baie gevalle het die hulpprogramme onder meer verseker dat groot bedrae geld uit die openbare koffers na huishoudings gevloei het. So kon baie huishoudings spaar en skuld verminder wat hulle andersins nie sou doen nie, luidens die verslag.


Meer oor:  Credit Suisse  |  Rykes  |  Superrykes  |  Pandemie  |  Welvaart  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.