Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
‘Wie nie waag nie, sal nie wen nie’
David MorobeFoto:

Aspirant-entrepreneurs moet nie dat vrees dat hulle verhinder sal word om ’n onderneming te begin nie.

Só sê David Morobe, streekbestuurder van Business Partners, ’n risikofinansier vir klein en middelslagondernemings.

In die lig van internasionale entrepreneursdag gister is daar ’n groot behoefte aan meer Suid-Afrikaners wat dié sprong waag.

“Dit word beklemtoon in die 2017-’18-verslag van Global Entrepreneurship Monitor wat bevind het 69% van Suid-Afrikaners beskou entrepreneurskap as ’n goeie beroepskeuse, maar dat net 11% van plan is om entrepreneurs te word.”

Hy wys ook op ’n onlangse verslag deur Old Mutual waarin die vernaamste redes uiteengesit word waarom entrepreneurs nie idees ten uitvoer bring nie.

“Die redes wat in hierdie verslag genoem word, sluit in ’n gebrek aan finansiering (46%) en ’n gebrek aan vertroue (16%), die onvermoë om ’n goeie sake-idee te kry (16%), te min tyd om ’n onderneming te begin (15%) en die vrees om ’n gereelde inkomste te verloor (14%).

Morobe gee die volgende wenke:

Gebrek aan finansiering

Hoewel finansiering dikwels die grootste struikelblok is, is daar verskeie beleggers en finansiers wat gretig is om in lewensvatbare en innoverende sake-idees te belê. Daar is ook verskeie alternatiewe, soos skarefinansiering of deur te begin met wat jy het en jou eerste produk te verkoop sodat jy die volgende een kan finansier.

Gebrek aan vertroue

Daar is ’n gesegde dat moed nie die afwesigheid van vrees is nie, maar die vermoë om aan te hou, ondanks jou vrees. Dit is waar vir entrepreneurs, veral ontluikende entrepreneurs wat moet verstaan dat mislukking deel is daarvan om ’n onderneming te begin.

Nuwe sakeondernemings verg ongelooflik baie vasberadenheid en ’n mens moet nie moed verloor as jy gedurig jou sake-idee moet herbedink of herdefinieer nie. Dit is nie ’n teken dat jy misluk nie, maar eerder ’n aanduiding van toekomstige sukses.

Geen oorspronklike idees

Dis ’n algemene wanopvatting dat ’n mens met ’n heel nuwe idee vorendag moet kom om ’n onderneming te begin. Dit gebeur meer dikwels dat ’n entrepreneur ’n verbetering op ’n bestaande idee aanbring deur ’n diens of produk aan te bied wat ’n verbetering op die mededingers s’n is. Dit kan so eenvoudig wees soos om ’n neiging of ’n tekortkoming in ’n bedryf te identifiseer en ’n oplossing te skep.

Nie genoeg tyd

Die tyd wat dit verg om ’n nuwe onderneming te vestig, kan ’n mens afskrik en dit is dus raadsaam om van meet af aan realistiese doelwitte te stel. Só kan jy byvoorbeeld vir jouself die doelwit stel om een taak per dag vir die vestiging van jou nuwe onderneming af te handel. Dit kan dinge insluit soos om ’n deel van die sakeplan te voltooi of om jou nuwe onderneming op een sosialemediaplatform bekend te stel. Begin klein en doen wat jy kan.

Vrees vir ’n verlies aan inkomste

Dit is ’n baie geldige vrees en as jy ’n vaste werk het, is dit raadsaam om die onderneming deeltyds te begin. Dit neem tyd om ’n gereelde inkomste uit jou onderneming te verdien. Slegs as jou onderneming ’n gesonde kontantvloei handhaaf, is dit tyd om ’n heeltydse entrepreneur te word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.