Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Fopnuus! Geen ras-kriteria vir hulp aan kleinsake

Woede het Dinsdagoggend losgebars oor aanduidings dat slegs klein ondernemings wat 51% in swart besit is, vir staatshulp sal kan aansoek doen. Dis egter fopnuus.

Khumbudzo Ntshavheni, minister van kleinsake-ontwikkeling, het Dinsdagoggend pertinent gesê die skermgreep wat die ronde doen dat ras ’n vereiste vir hulp is, is fopnuus. Alle kleinsake-ondernemings sal vir hulp oorweeg word, in alle sektore en oor die hele land heen.

Dis wel ’n vereiste dat hulle 100% deur Suid-Afrikaners besit word en dat 70% van hul werknemers Suid-Afrikaners is. Spazawinkels in buitelandse besit sal dus nié gehelp word nie.

Bernard Swanepoel, direkteur van die Small Business Initiative, en dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid.

Die skermgreep gaan oor die skuldverligtingsfonds wat die departement van kleinsakeontwikkeling gaan bestuur en waarna pres. Cyril Ramaphosa Maandagaand verwys het toe hy die land 21 dae in ’n staat van inperking geplaas het wat Donderdag om middernag van krag word.

Nagenoeg 98,5% van alle maatskappye in die land is klein of middelslag en hulle verskaf werk aan 3,9 miljoen mense, volgens syfers van die Small Business Institute (SBI).

Bernard Swanepoel, direkteur van die SBI, het vroegoggend in reaksie op die fopnuus gesê besonderhede moet dringend gegee word om die vrae te beantwoord. Hy het gesê daar is twee grondliggende vrae: “Sal alle ondernemings wat sukkel om aan die gang te bly, gehelp word of net dié wat die minister was waardig vir regeringshulp beskou?

“Tweedens, hoe sal die private sektor se geld versprei word – sal dit een poel geld word wat oop is vir die ander filantropiese skenkings waarvoor die president gevra het, en daarom onderhewig is aan die minister se potensieel uitsluitende ingesteldheid?”

Uitsluiting is nie die beste manier om die president se beroep op samehorigheid te eer ten tye van wat op ’n oorlog neerkom nie.
Bernard Swanepoel

Intussen het dr. Johann Rupert, voorsitter van Richemont en Remgro, egter getwiet die R1 miljard wat hy en sy familie beskikbaar stel, sal tot voordeel van alle Suid-Afrikaanse ondernemings gebruik word, ongeag hul eienaarskap. Die Oppenheimer-familie skenk ook R1 miljard.

Swanepoel sê: “Tensy ons hulle almal help, ongeag hul klassifikasie, gaan dit tot uiterste maatskaplike en ekonomiese ongeregtigheid lei. Ons aanvaar en bevorder swart ekonomiese bemagtiging as ’n verdienstelike en belangrike doelwit vir Suid-Afrika, maar miskien is uitsluiting nie die beste manier om die president se beroep op samehorigheid te eer ten tye van wat op ’n oorlog neerkom nie.”

Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, sê hulle verneem dis fopnnuus, maar hy het nietemin aan die departement geskryf om te bevestig dat ras geen rol sal speel in die toekenning van hulp aan kleinsake nie.  “Indien ras wel op enige wyse deel uitmaak van die kriteria, sal ons voortgaan met dringende litigasie. Die virus se effek het nie kleur nie, daarom moet ondersteuning vir die drastiese gevolge daarvan ook nie kleur hê nie.”

AfriForum het ook vroegoggend gedreig ook reeds met regstappe.

AfriForum sê hy het in ’n aanmaningsbrief aan die departement van kleinsakeontwikkeling geëis dat dié vereiste tersyde gestel moet word. Indien die brief nie positief ontvang word nie, beoog AfriForum om hof toe te gaan “vir ’n dringende hofbevel om dit ongrondwetlik te laat verklaar” .

Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, sê enige poging deur die regering “om ’n pandemie te misbruik om diskriminasie teen minderhede te beloon,” sou “rassisties en immoreel” wees.

“Die president beklemtoon telkens in sy toesprake dat almal in die land moet saamstaan om die virus te beveg.”

Kriel sê elke onderneming in die land kan onder die potensiële ekonomiese gevolge van die virus ly – “dis nie afhanklik van mense se ras nie” .

Die departement van kleinsake wys in ’n reeks twiets daarop dat die hulp slegs bedoel is vir reeds bestaande skuld en nie vir nuwe finansiering nie. Ondernemings sal ook moet aantoon hul probleme hou regstreeks met Covid-19 verband.

Die nasionale bevelsraad sal beslis watter sektore voorkeur kry vir hulp.

Die skuldverligtingsfonds is nié dieselfde as die Pitch-for-Funding-projek wat ook onlangs begin is waardeur klein ondernemings vir nuwe finansiering aansoek kan doen nie.

  • Die webwerf waar ondernemings hulle kan registreer, www.smmesa.gov.za, het Dinsdagoggend geopen, maar daar was van tyd tot tyd tegniese probleme.
Meer oor:  Ekonomie  |  Kmo's  |  Koronavirus  |  Entrepreneurs  |  Covid-19  |  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.