Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Woolies moet (beetrooi) bloos oor nog ’n ‘gaps’

Woolworths word al weer daarvan beskuldig dat hy ’n produkidee en -naam gegaps het – dié keer vir drankies wat van plante soos beet en borrie gemaak word.

Op die webjoernaal “Dear Woolworths, I’d like my name back now please”, skryf die eienaar en stigter van die onderneming Superlatte, Michelle Legge, hoe sy in Junie verlede jaar ontdek het dat Woolworths in sy eetplekke dieselfde tipe drankies as hare bekend gestel het, en onder ’n naam op die spyskaart wat baie soortgelyk aan die naam van haar onderneming is.

Michelle Legge, wat Superlatte begin het, met haar drie produkte. Die foto verskyn op haar webjoernaal oor die ooreenkomste tussen haar produkte en dié van Woolworths.

Legge het in Junie 2016 haar onderneming met die geregistreerde handelsnaam Superlatte begin en drie produkte van plantaardige afkoms bekend gestel. Dit is in poeiervorm en lattes kan daarvan gemaak word. Haar produkte word van beet, matcha (groentee) en borrie gemaak.

Die bekendstelling van haar produkte het saamgeval met die afgelope jare se wêreldwye gier van sogenaamde super-voedsels, borrie en ander kleurvolle drankies wat van plante gemaak word.

“As ’n aanvangsmaatskappy in die kos- en drankbedryf wat homself finansier, het ek ’n lang en moeilike eerste jaar oorleef en sake het belowend gelyk,” skryf sy.

Toe moes sy in Junie 2017 sien hoe Woolworths begin het om supervoedsel-lattes in sy restaurante te bedien. Op die spyskaart onder die naam “Super Lattes” is drie drankies – ook van borrie, beet en groentee – bekend gestel. Sy meen daar is “opvallende ooreenkomste” met haar handelsnaam, selfs al is daar ’n spasie tussen die “Super” en die “Latte”.

Sy meen ook byna identiese resepte is gebruik as wat sy vir haar produkte gebruik.

Hoewel sy aanvanklik angstig hieroor gevoel het, het sy later besluit om niks te doen nie.

“Ek was ontmoedig deur hul grootte en het besef, wettiglik is hulle binne hul regte (omdat) hulle my geregistreerde handelsnaam Superlatte met twee woorde gespel het en ’n meervoud-‘s’ aan die einde bygevoeg het.

Ek was ontmoedig deur hul grootte en het besef, wettiglik is hulle binne hul regte (omdat) hulle my geregistreerde handelsnaam Superlatte met twee woorde gespel het en ’n meervoud-‘s’ aan die einde bygevoeg het.
Michelle Legge

“En ten opsigte van die latte-geure – dit is feitlik onmoontlik om kopiereg op ’n resep te hê,” erken sy.

Volgens haar wou sy ook nie haar kanse verbrou om haar produkte later op Woolies se winkelrakke te kry nie.

“(Maar) dít was op die ou einde die minste van my bekommernis.”

Volgens haar het sy nou die webjoernaal geskryf omdat die gehalte van Woolies se drankies so swak is en sy gedurig kommentaar kry van mense wat dink dis haar produkte.

“In hul potensiële poging om my konsep en geure te herskep, het hulle waarskynlik resepte en bestanddele gekies wat na my mening die nuwe afdeling gaan skend.”

Legge sê die verwarring duur net voort en sy word gereeld gevra of dit haar produkte op Woolworths se spyskaart is.

So het Superlatte Bar Sondag sy volgelinge in kennis gestel van die webjoernaal met ’n foto van Woolworths se spyskaart.

Intussen het Woolworths ook poeiers vir lattes bekend gestel met die geure beet, borrie en matcha.

Sy voer aan soos met haar produk word daar ook na die produk van beet as Red Velvet en die borrie-een as Golden Latte verwys.

Dis egter weer die gehalte van die produk wat haar pla. Sy beweer Woolworths se produk het betreklik baie suiker daarin en is nie net van plante gemaak nie, maar bevat melkpoeier.

Volgens haar wil sy op die oomblik net hê Woolworths moet dit oorweeg om sy spyskaart te verander.

Nog ’n foto van Woolworths se spyskaarte toon die drie produkte. Dit is ook van die webjoernaal.

Woolworths is vir kommentaar genader en dit sal bygevoeg word sodra dit ontvang is.

Legge het Sondag op Twitter ’n skakel na haar webjoernaal geplaas wat ’n foto van die spyskaart van Woolworths insluit met kommentaar daarlangs van haar volgelinge op Instagram.

Minstens een nuuswebtuiste meen dit is Woolworths se tweede oortreding in ’n baie kort tydjie. The South African het berig “Oops, they did it again: Woolworths accused of stealing Superlatte idea.”

Dit volg kort op die hakke van die skandaal oor Woolworths wat ’n baba-drasak nagemaak het. Woolworths het toe belowe hy gaan stappe doen om te verseker dat hy in die toekoms nie weer die idees van entrepreneurs steel nie.

Lees ook: Woolworths, Ububtu Baba skik oor drasakke

Meer oor:  Woolworths  |  Superlatte  |  Michelle Legge  |  Maatskappye  |  Plagiaat  |  Patente  |  Kleinhandelaar  |  Kopiereg  |  Entrepreneurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.